Читать книгу Uit oerwoud en vlakte - Sangiro - Страница 10
Hoofstuk 2
ОглавлениеOfskoon hy self so naby die sebras was dat hy die swart en wit strepe op hulle kon onderskei en reeds in verbeelding die warm bloed wat onder die glansende velle klop, gesmaak het, het die ou maanhaar nie ’n tree versit toe die trop wegstorm nie. Die ervare ou leier het homself slegs baie selde sover vergeet om agter gewaarskude wild aan te hardloop, en dan alleen wanneer sy humeur deur herhaalde mislukkings te veel op die proef gestel was. In sy jong dae het hy ook wel eens, soos elke ander jong leeu, toegegee aan ’n te grote opgewondenheid, wat in nege uit die tien gevalle ’n vernederende mislukking ten gevolge gehad het en hom dan telkens weer tot dieselfde besluit laat kom het: om kalm te bly en sy kans af te wag; daarby is hy nie meer so rats en lig van lyf nie. Deur ondervinding het hy meer en meer geleer om op slim oorleg en sy noukeurige kennis van die wild en hul gewoontes staat te maak. En dat hy dit ver gebring het in die jagkuns, daarvan getuig die geraamtes wat oral hier in die gelyktes rondlê, sommige van hulle op die kaalste plekke, waar ’n verrassing byna nie moontlik skyn te wees nie.
Met groot belangstelling het hy die poging van die kraagmannetjie gadegeslaan: ook sy ou maat sou nie sommer sonder rede hardloop nie! In sy gretigheid om die afloop te sien, het hy opgespring en sy voorbeeld is onmiddellik gevolg deur die jong paar, wat met gespanne oë die beweging van die kraagmannetjie volg; met bekke half oop, die ore platgetrek, en die lyf ineengekrimp, is dit of hulle die beslissende spring wat die kraagmannetjie op die rug van sy vervolgde prooi moet neerbring, wil verhaas. Dog die sebra gly onder sy vervolger uit, en teleurgestel stap die drie oor die grond waar ’n oomblik tevore die sebras gewei het en waar hul reuk nog tergend warm is, terug na die ander leeus. Die kraagmannetjie het ook weer aangekom. ’n Dowwe gebrom wat hulle binnensmonds laat hoor, is ál teken wat tussen die twee ou mannetjies gewissel word toe hulle bymekaarkom.
Die mislukking het almal se eetlus verskerp; hulle voel dat hulle tot elke prys vannag iets moet kry. Verder af in die vlakte dus; maar nou op ’n kort draffie. Die spookagtige stilte waarmee elke beweging gepaardgaan, waar die grimmige gedaantes nou omdraai om ’n ander rigting in te slaan, is veel meer onheilspellend as die indrukwekkende aankondiging by hul uitvaart uit die skuilplek daar bo in die donker berghoek. ’n Ou hiëna wat elke nag gereeld op hul spore volg, word onverwags deur een van die leeus tot sondebok gekies. Sy teleurstelling toe die aanval op die sebras misluk, was nie minder groot as dié van die leeus nie; en vir ’n oomblik het hy misnoeg bly sit en vergeet om sy gewone eerbiedige afstand in ag te neem. Een van die ouere wyfies was reeds dig by hom en sou, volgens sy mening, verbystap, agter die ander leeus aan. Toe sy met ’n sywaartse sprong en dreigende gebrom skielik op hom toeskiet, was sy skrik so groot dat hy net een benoude skreeu kon uitkry eer hy halsoorkop deur ’n streep bossies tuimel; en vir ’n hele paar minute daarna was hy nog so aamborstig dat sy gehoes deur die leeus kon gehoor word.
Toe hulle ’n bietjie verder af ’n laagte deurgaan en juis op die vars spore van wildebeeste kom, bemerk die leeus links op ’n bultjie elf girafs, in ’n kaalte waar net ’n enkele doringboom hier en daar sy skraal swart stam en donker kroon verhef. Hulle kom ook van die water en stap nou af na veiliger weiveld; die ruier akasiabosse, wat klompieswys in die omgewing van die fontein staan, het hulle vir die nag vaarwel gesê. Van hier uit die laagte gesien, beweeg die donker gestaltes hulle soos silhoeëtte, hoog teen die maanlighemel.
Die ervare ou leeus sien dat dit nuttelose tydverkwisting sou wees om hier ’n poging aan te wend en hou derhalwe op die wildebeesspore aan. Hulle het meer as een keer, op ’n veel ruier en gunstiger veld, dit moeilik gevind om hierdie verbasend skerpsinnige diere aan die lyf te kom. Die jong mannetjie, egter, dink anders. Die onmiddellike nabyheid van die girafs werk op sy begeerte sterker as die hoop om die wildebeeste te kry. Onderwyl die ander leeus verder draf, bly die jong paar agter; en ná ’n rukkie begin hulle versigtig die girafs voorloop, al in die laagte langs.
Sy plan was goed, maar die jong mannetjie het te veel aandag aan die girafs gewys en die veld nie genoeg bespied nie. Reeds het hulle byna die punt bereik waar die girafs die laagte moet deurgaan, en waar ’n klein reënslootjie hul hinderlaag gunstig is, toe ’n paar gaselle skielik hul snuiwende alarmklank laat hoor en lugtig oor die veld spring, by die girafs verby. Met ’n halfluide steun val die leeus plat. Die girafs staan roerloos – die naaste een soos ’n versteende beeld teen die lug.
Tien minute gaan verby, vyftien – ’n halfuur; en nog geen verandering nie. Die voorste giraf het sy kop effe gedraai, net vir ’n oomblik, toe die geluid van ’n hiëna skielik en duidelik die stilte verbreek; eindelik geheel van sy skrik bekom, het die ou wolf genoeg moed geskep om uit die verte te “boe”. Die toestand word vir die twee leeus ondraaglik; moet hulle die hele nag dan hier lê, onderwyl die girafs waghou en hulle elke beweging belet?
Eer die jong mannetjie kan beslis of hy dit sal opgee en die ander leeus volg, of langer bly lê tot die diere weer gerus is, begin hy ’n sterk vleisreuk gewaar te word. Die windjie het so-ewe omgespring en vertel nou aan die hongerige leeus dat nie alte ver nie een of ander dooie dier moet lê. Sonder verdere aarseling spring die twee op en volg instinkmatig hul neuse; die reuk van vars vleis lok, en die girafs en ander leeus is vergeet.
Ofskoon die bokkies hulle die rigting van die gevaar aangewys het, kon die girafs die twee leeus nie ontdek nie; en ’n ligte skok vaar deur elkeen toe die gevreesde teenwoordigheid openbaar word. ’n Oomblik nog staar hulle bewegingloos op hul gevaarlike vyande, wat skynbaar so uit die grond te voorskyn gekom het en nou onbekommerd by hulle verbydraf; toe draai hulle skielik om en trek stertswaaiend af in lang galop.
Nouliks tweehonderd tree verder kom die twee leeus op ’n dooie gemsbok af. ’n Paar hiënas is reeds by die fees. Versigtig het die paar onder die wind genader; dog toe hulle die gespuis om die buit sien, loop hulle storm met woedende gebrom. Onder die aakligste gehuil en getjank spat die hiënas uitmekaar. Die leeus snuffel ’n paar keer om die gemsbok rond; toe gee die mannetjie ’n diepe kreun van tevredenheid en begin die bloed oplek wat uit ’n koeëlwond op die blad gevloei het, onderwyl die wyfie haastig die buik oopskeur, waar die hiënas haar reeds voorgegaan het.
’n Smaaklike gekou en die gekraak van bene toon weldra aan dat die twee goed op weg is met hul maaltyd. En vérlangs, in ’n wye halfsirkel neergehurk, of plat op die vier pote neerleggend, wag die verjaagde en teleurgestelde hiënas; ’n paar van die hongerigstes waag dit af en toe om ’n bietjie nader te kom, dog hulle word onmiddellik deur ’n dreigende geknor verdryf. ’n Jakkalsie, vir wie die teenwoordigheid van die leeus ’n soort van beskerming teen die hiënas is, het stilletjies nader gekom en begin versigtig op ’n breë sleepsel, binne tien tree van die leeus, verstyfde stukkies bloed op te tel. Die gemsbok was blykbaar hierheen gesleep. Deur die hiënas? Die twee leeus is vereers te besig om aan dié vraag te dink.
Hoe het intussen ons ander leeus gevaar? Die ou maanhaar het nie gewag op die jong paar nie, maar vinnig die spore opgevolg wat oorkant die laagte weer regs geswaai het tot by die sandsloot. ’n Entjie volg hulle die donker kronkelinge van die sloot; toe merk die ou leier met tevredenheid dat die spore weer links draai. Hy het hom nie bedrieg nie; die wildebeeste was voor sononder by die water en het dadelik daarvandaan koers gevat na hul geliefkoosde plekkie – ’n lang smal laagte, wat in die reëntyd ’n deel van die water uit die sandsloot wegvoer en daarom byna altyd groen gras het. Daar sou hulle ongetwyfeld ook nou wees.
Toe hulle die bultjie oor is en afgaan na die laagte, aanskou hulle met die uiterste verbasing, reg voor hulle onder ’n groot boom, nie die wildebeeste nie, maar – die kampvuur van die mense! Duidelik verneem hulle van hier die menslike geluide en onderskei daartussen nou en dan die gestamp en gebulk van beeste. Dat die mens met mak diere saamleef, het hulle lankal van die rondtrekkende Masais geleer; ook weet hulle dat so ’n bees goed smaak, selfs beter as ’n sebra; want nie baie weke gelede nie het ons twee ou pare hier langs die sloot van so ’n nomadiese familie op een aand, toe die wagters ’n bietjie laat in die veld vertoef het, vier vet beeste neergetrek. By dié geleentheid het hulle die Masais, wat met asgaaie en gifpyle gewapen was, eenvoudig verjaag; en die paar honderd verskrikte beeste het ’n paar oomblikke ná hul wagters in ’n wolk van stof die krale ingestorm.
Die plan om die kamp van die mense te omsingel kom dus dadelik by almal op. In hul avontuurlike lewensloop het die twee ou mannetjies al dikwels opgemerk dat die mens hulle in die nag nie so maklik kan seermaak nie en soms heel ná aan hulle verbyloop sonder om hulle te gewaar. Hulle nader dus onbevrees tot by ’n miershoop, minder as ’n honderd tree van die vuur af. Dog in die helder maanlig durf hulle nie verder nie; die veld is kaal, en die mense nog wakker. ’n Groot vuur aan die onderkant gooi ’n rooi skynsel op die doringtakke waarvan die klein kraaltjie gemaak is, en op ’n aantal swartmans wat rondom sit en vleis braai onderwyl hulle ’n deuntjie kreun. By ’n kleiner vuurtjie, aan die bokant, sit twee wit jagters, op wie die leeus hul aandag nou vestig. Dat hulle goed onderskeid kan maak tussen die witman en die swarte, is nie te betwyfel nie; ’n gewonde leeu storm soms ’n swartman verby om die Europese jagter anderkant hom by te kom.