Читать книгу Uit oerwoud en vlakte - Sangiro - Страница 5

Hoofstuk 1

Оглавление

Wyd en stil lê die wildernis onder die betowerende kleuregloed van ’n tropiese sonsondergang. ’n Sagte purperrooi, wat allengs verdiep tot ’n donker ametis, kleur die bosryke kruine van die Koueberge en oorvloei die wye vlaktes wat rondom lê. Ligte miswolkies, wat telkens van onder af teen die berg opkruip, vang die aandskyn op en verander vir ’n oomblik in fyn, deursigtige gordyne, waaragter die berg donker gloei, om dan weer oopgeskeur en meegesleep te word deur die koue wind wat elke nag hierdie eensame toppe oorswewe.

Ver benede aan die noordekant, tussen hoë blou berge, wat donker en geheimsinnig in die dynsige atmosfeer deurskemer, lê die Natronmeer, oorvloei deur die volle glorie van die skeidende son, wat reg agter hom in die berge wegsink. Die waterplasse in die uitgestrekte salpetermeer, eers nouliks sigbaar, verander nou in lewende massas van silwer en goud, wat treffend afsteek by die donker omgewing. Die swart kolle bosse en hoë papirus – lieflingskuilplek van soveel wilde diere – laat hulle van hier slegs in floue omtrekke herken.

Die sterwende sonskyn sprei ’n vlugtige rooi oor die vlakte hier aan die voet van die berg. Verder af, in die doringlaagtes wat die lang uitgestrektheid na die meer hier en daar deurkruis, trek donker skaduwees reeds vinnig op.

In lang rye kom sebras en hartbeeste na die drinkplek aangestap om hul dors te les eer hulle die oop veld opsoek vir die nag. Die water in hierdie geval is ’n fonteintjie wat uit ’n kloof van die berg kom en ná ’n kortstondige loopbaan van ongeveer honderd tree weer in die grond verdwyn; ’n streep groen gras, af in die vlakte, verraai sy verdere onderaardse gang.

Sorgeloos en met knikkende hoofde stap die sebras aan; want van mense het hulle vir lange jare hier niks gewaar nie, en dis nog lig genoeg om die gevaar van leeus gering te maak. Hulle stap nietemin teen die aandwind aan, om nie verras te word nie. Dat die leeu hom selde by die water versteek, weet hulle goed; daarvoor is hy ’n te goeie jagter. Hy weet dat die wild altyd teen die wind op kom na die water en gemaklik sy reuk kry, waarna hulle dan eenvoudig omdraai en op ’n ander plek gaan drink. Dog by die terugtog moet dan gewaak word, en dis beter om maar betyds seker te maak dat die omgewing veilig is.

Nie te ver van die water nie kom ’n breë sandsloot uit die berg en deurkruis al kronkelend die vlakte. Die trotse bome, met swaar ronde krone, wat hulle daaruit ophef en skerp afsteek teen die kaal grasvlakte, sou ’n vreemdeling laat vermoed het dat daar ’n sterk rivier moet loop. En as hy nader gekom en die wal afgegaan het, sou hy op sommige plekke maklik in die waan kon geraak het dat hy in ’n oerwoud is. Bo in die hoek tussen twee berge, waar die sloot sy oorsprong het, kom talryke klein reënslootjies van die berghange weerskante af na die sandsloot; in die reëntyd vorm hul bydrae ook inderdaad soms vir ’n paar uur ’n sterk rivier.

In een van hierdie slootjies, ruig toegewas met struike en ranke wat van wal tot wal strek en ’n aangename koelte vorm, lê ons leeufamilie, wie se lotgevalle ons in die volgende bladsye wens te vertel.

En waarom hier hoog teen die berg en nie daar onder in die skaduryke sandsloot, dig by die wild en water nie? – wyl die leeu hom hier veiliger gevoel; wyl hy ’n groot deel van die vlakte van hier kan oorsien en dus betyds naderende gevaar kan gewaarword; wyl die renosters wat op en af in die sandsloot wei, hom hier nie kan hinder nie; en wyl hy weet dat mense, ingeval hulle kom, altyd naby die water kamp. Hoewel hy gedurende die nag so ’n verbasende lewenslus openbaar, haat die leeu niks meer as in sy dagslaap gesteur te word nie.

Uit oerwoud en vlakte

Подняться наверх