Читать книгу Uit oerwoud en vlakte - Sangiro - Страница 20

Оглавление

Die leeu doen vergeefse poginge om sy gesellin tot die lewe terug te bring. Onderwyl hy met sy voorpoot aan haar krap, net soos hy dit dikwels uit speelsheid en by weersydse plaery gedoen het, laat hy herhaaldelik ’n sagte, half klaende “aaôôuu” hoor; toe stap hy radeloos ’n keer of twee om die gevoellose liggaam, lek aan die bloedige wond, stap ’n paar tree weg en roep weer “uuuupp”, asof hy haar wil beweeg om hom te volg. Met ’n klaende geluid vly hy hom eindelik naas haar neer, die oë gerig na die bergpunt waar die swartes om verdwyn het.

Nie te lank nie, of daar kom hulle ook werklik weer aan, maar dié keer vergesel van die twee wit jagters. Die laasgenoemde feit het die leeu dadelik opgemerk; en onderwyl hy boosaardig deur sy snorbaard brom, spring hy in die sloot en gaan digby onder ’n oorhangende wal lê. Weldra hoor hy die dowwe voetstappe van die mense reg bokant hom en sien hul donker skaduwees hier voor hom op die bossies val. Onwillekeurig begin hy te knor en verraai daardeur sy skuilplek. ’n Oomblik later spring hy ontsteld op, want in die sand van die sloot hoor hy duidelik versigtige voetstappe aankom; en onderwyl hy met die stert krampagtig heen en weer piets en nog onbeslis is of hy sal storm of vlug, hoor hy reg agter hom van die bokant af ook voetstappe nader kom. Terselfdertyd kraak die bossies op die wal oorkant waar die swartes langs kom. Hulle wil hom vaskeer! Dit is eenmaal te veel. Met ’n kortaf, dreigende “grrrôôau!” vlieg hy die wal uit waar die terugtog nog oop is. Hier spring hy hom byna teen die een jagter vas, wat ’n bol grond onder hom uitskiet, deurkruis met ’n paar lang hale die klein openinkie waarin die renoster lê, en verdwyn in ’n sytakkie van die sandsloot.

Selfs nou gaan hy nog nie die ander leeus opsoek nie. Toe die jagters hom hier ook agtervolg, gly hy onder die ruigte deur terug tot waar die slootjie weer in die sandsloot loop. En so speel hy heen en weer nog ’n rukkie voort in die gevaarlike soort van wegkruipertjie, waarby die jagters hom nog ’n paar keer te sien kry; maar altyd is hy weg nog eer die oog sy volle beeld kan opvang. Alleen weg te vlug en sy wyfie so agter te laat – dit kan hy nie; inderdaad, was die oormag nie so groot nie, dan sou hy wel glad nie aan vlug gedink het nie. Maar die gebeurtenisse van die laaste twee dae: die dood van die renoster, die verdwyning van die kraagmannetjie se wyfie, en veral die toestand van sy eie wyfie nou en die skoot op homself – dit alles het saamgewerk om sy gewone selfvertroue geweldig te skok en hom vir die oomblik van alle moed teenoor hierdie astrante vervolgers te beroof.

Eindelik is die swartes klaar met die slagtery en almal, ook die jagters, vertrek weer na die kamp onder in die vlakte. ’n Hele rukkie ná dit stil geword het, duur dit eer die leeu dit waag om sy skuilplek in die ruigte van die sandsloot te verlaat en hom weer op die wal onder die akasia te vertoon. Daar staan hy nou en kyk verskrik na die verandering wat die skendende hande aangebring het. Hy begin eindelik verstaan dat sy nie weer sal opstaan nie en mismoedig vly hy hom neer in die skaduwee van die boom.

Die dag word warm; in die laaste donker klofie van die berghoek het die nuuskierige sonstraaltjies kom indring en die skaduwees onder die digste dele van die oerwoud laer af laat invlug. Aasvoëls, wat al van sonop af bo rondgedraai het en waarvan die getalle nog steeds aangroei, begin laer en laer vlieg en loer met gierige blikke op die buit onder. Was dit nie vir hul teenwoordigheid nie, dan sou ’n vreemdeling hom hier nou geheel verlate gevoel het; die enkele diere wat gedurende die nag in die nabyheid van die berghoek geloop het, is deur die jagters by hul vertrek verjaag geword; en in die stilte sou hy nouliks kon vermoed dat hier digby onder die akasia ’n leeumannetjie, met kop en voorpote onder ’n ruie bos silwergrou maanhare bedek, in onrustige sluimering lê, ’n bietjie hoër op die ou maanhaar met sy geselskap onder die krans rus, en ’n weinig laer af, waar die donker geboomte begin, die maat van die gevalle renoster, teen ’n oliewenhoutboom geleun, sy middagslaap geniet.

Die jong mannetjie ontwaak uit ’n halwe sluimering en ontdek dat die skaduwee op ’n ander plek val; toe staan hy op en stap langsaam weg om die ander leeus te gaan opsoek.

Die aasvoëls, wat by die leeu in ’n besonder slegte reuk staan, reeds omdat hulle altyd sy buit verslind sodra hy sy rug draai, het dit nie gewaag om op die grond te gaan sit solank as die jong mannetjie nog onder die boom lê nie: hy was veels te ná aan die begeerde buit. Dog nouliks is hy twintig tree weg, of die eerste aasvoël val neer op die dooie leeuin. Woedend spring die leeu om, en die aasvoël het juis nog tyd om homself deur ’n haastige vlug te red.

In stede van sy vorige plan te volg, kruip die leeu nou onder digte bossies in op die wal, ná aan die dooie leeuin. Vandag sal die aasvoëls en jakkalse nog nie aan sy gesneuwelde wyfie raak nie.

Uit oerwoud en vlakte

Подняться наверх