Читать книгу Uit oerwoud en vlakte - Sangiro - Страница 12
ОглавлениеWatter gedagtes daar ook intussen deur die ou leier se kop gaan, en hoe erg sy mond ook al water as hy die gebraaide vleis ruik, hy voel dat dit noodsaaklik is om geduld te gebruik. Witmense is nie swartes nie – dit weet hy. Met persone van die laasgenoemde soort kom hy dikwels in aanraking, selfs hier in die wêreldverlore wildernis, en altyd gee hulle vir hom liewer pad; of as hulle in so groot getalle is dat hulle dit waag om met blinkende asgaaie dreigend op hom aan te kom, dan kon hy hom nog altyd gemaklik en sonder verlies aan waardigheid in die ruigtes terugtrek. Die gevreesde knal, wat soveel skrik en verwarring kon sprei, ook onder die ander wild van die vlakte, het hom nooit by die swartes laat hoor nie. By die witmens was afstand geen waarborg van veiligheid nie. Dra hy nie nog aan sy nek ’n litteken as ’n herinnering aan die laaste ontmoeting nie?
Met ’n steun vly die ou leeu hom teen die miershoop neer, sodat hy net oor die rand kan sien. Nou spyt dit hom eers reg dat dit nie vanaand donkermaan is nie. Die ander leeus strek hulle in verskillende houdinge op die grond uit. Almal is waaksaam en wag ongeduldig op die gebieder se wenke. Alleen die kleintjies bly regop sit; drie paar ogies, tot hul uiterste wydte gerek, bly pal op die vuur gerig. Vandat hulle die vreemde verskynsel gewaar het, kan hulle die gesig vir geen oomblik daarvan afwend nie; hul speelsheid en die gewone stoeiery is onder die erns van hierdie wonderbare nuwe ontdekking geheel vergeet. Die wyfie het geen moeite om hulle nou stil te hou nie: hulle is totaal verstom.
Die maanhaar het sy posisie ingeneem met die vaste hoop dat dit teen middernag in die kamp van die mense sou stil word; en in sy verwagting word hy nie teleurgestel nie. Die stemme is langsamerhand verstom, die vure uitgebrand, tot net die gloeiende kole nog oorbly. Die trekosse in die kraaltjie is ook tot rus gekom; meer as ’n sug of steun van tevredenheid af en toe word nie gehoor nie. Alles skyn te slaap; die enigste beweging kom van ’n paar honde, wat om die kraaltjie verspreid lê en hoorbaar kou aan die oorblyfsels van ’n stuk wild.
Die oomblik waarop hulle met soveel ongeduld gewag het, is eindelik aangebreek. Die tyd om te handel is daar. Aan die twee ou mannetjies het dit intussen duidelik geword dat hier net een weg oop is: hulle moet die beeste laat deurbreek en eers kans gee om onder die beskerming van die jagters uit te vlug. Hierin handel hulle al weer volgens ondervindinge met die natuurwild opgedoen; is ’n plek nie geskik vir handeling nie, dan moet die wild na ’n gunstiger een verdryf word. Het hulle maar eers die onnosele osse oor die veld versprei, die res is maklik genoeg!
Met dié doel stap die ou voorloper, gevolg deur die kraagmannetjie, wat sy ongeduld nie langer kan bedwing nie, wyd om die kraal, ten einde bokant die wind te kom. Dit is die eerste stap; hulle weet dat hul reuk alleen in die meeste gevalle reeds genoeg is om die diere op loop te jaag. Geluk dit nie, dan moet hulle sterker dreigemente gebruik, ook op gevaar af van deur die jagters gesien te word.
Die ander leeus bly by die miershoop lê; omtrent die aandeel wat hulle weldra te neem het, bestaan daar by hulle nie die minste onsekerheid nie.
Die maneuver sou ook ongetwyfeld geluk het; want op dieselfde oomblik toe hulle die leeureuk kry, spring die osse almal skielik orent en begin onder angstige gesnuif en geblaas onrustig rond te trap; maar, ongelukkig vir die leeus, hulle is nie die enigstes wat die gevreesde teenwoordigheid gewaar word nie: die klomp honde spring gelyktydig op en hardloop met ’n vreeslike lawaai na mekaar toe. Hierop het die twee nie gereken nie; hulle staan ’n oomblik besluiteloos, onderwyl die honde, aangemoedig deur mekaar se luidrugtigheid, beurtelings nader kom en retireer. Woede behou egter die oorhand; die tergende geblaf is vir hulle te veel; daarby is dit nou so ver dat alleen dadelike aksie die toestand kan red. Met ’n brul skud die ou maanhaar alle vrees vir die mense van hom af, en met boosaardige, wilde gebrom loop hulle al twee die honde storm.
Hulle is byna by die kraal; en werklik skyn dit of die beeste, in doodsangs nou, gaan deurbreek … Daar blits dit! Die ontsettende knal in die stilte van die nag skyn ’n towerkrag uit te oefen: die osse, vir seker nou weer van die mag van hul beskermers, bedaar meteens; die leeus verdwyn soos skaduwees en begin ná ’n paar minute op ’n klein afstand uit volle bors te brul.
Die eerste plan het misluk; hulle sou nou ’n ander een probeer. Die geweerskoot en die daaropvolgende gebrul van die twee oues was genoeg om die ander leeus te laat begryp dat die berekeninge misgeloop het, en om hulle dadelik weer by die leiers te laat aansluit. Nader en nader kom hulle nou, onderwyl hul magtige stemme die lug rondom laat tril, die honde op ’n hoop onder die waentjie injaag, en die benoude osse andermaal tot die uiterste radeloosheid dryf.
Daar spat weer twee vuurstrale; ’n koeël fluit langs die maanhaar se oor verby en raak byna een van die kleintjies, wat deur die wyfie agter in veiligheid gehou word. In plaas van te skrik, begin die drie nuuskierig rond te snuffel op die plek waar die koeël die grond oopgesny het. Hier was eindelik iets tasbaars, en hulle sou nou ook hul aandeel in die verrigtinge neem! Met die voorpootjies word die losgeskeurde grond versigtig oopgekrap en noukeurig ondersoek. Dog aan hul ywer kom plotseling ’n einde. Nog ’n skoot val, deur die nou meer en meer astrant wordende maanhaar uitgelok, en hierdie keer spring die moederleeuin met ’n brullende angskreet in die lug. Sowat twintig tree verder haal die kleintjies haar weer in waar sy agter ’n donker bossie weggeduik het; ’n aanhoudende geknor, wat kort-kort in ’n briesende gebrul oorgaan en net afbreek as sy vir ’n oomblik ’n pynlike wond aan die agtervoet lek, toon aan dat sy nie van plan is om ’n tree verder te wyk nie.
Ná die laaste skoot het die ander leeus weer stil verdwyn; dog slegs om weer van ’n ander kant af nader te kom. Die hoop opgee wil hulle nog nie. Meestal is ’n leeu wat honger het, in die nag onverskrokke en waag hy dit selfs om ’n os of esel te bespring wat deur ’n mens aan die riem gelei word; dog vannag is die maan so helder, en daarby brand die vure weer so groot, dat die jagters hul beweginge goed kan volg; dit merk die leeus wel aan die juistheid van die koeëls, wat altyd net daar gons waar hulle is.
Daar begin die jong paar te brul! Noudat hul ergste honger gestil is, begin hulle eindelik aan hul vriende te dink. Waarskynlik sal dit ook wel die rumoer van die geveg hier wees wat hulle aan hul verpligtinge herinner het. Sewe leeus – ook die wyfie en die kleintjies het opgespring – staan nou skielik stil en luister: die gebrul daar anderkant is ’n boodskap, ’n uitnodiging van maats wat sukses gehad het. Die maanhaar het onder al die gedoente die twee leeus wat agtergebly het, welhaas vergeet; aangenaam-verrassend val die klanke plotseling op sy gehoor. Drie maal laat hy ’n diepe, vérdraende “uuummppf” as antwoord hoor; toe gaan hulle op ’n vinnige draf onderom die kraal op die gebrul af.
Hulle is egter nouliks ’n paar honderd tree weg, of die maanhaar buk skielik laag en staar onbeweeglik op ’n vaal voorwerp reg voor hom. Die ander leeus volg onmiddellik sy voorbeeld. Wild is dit – hiervan is hulle almal oortuig; maar dood of lewendig? ’n Jakkals, verskrik deur ’n ligte geruis wat een van die klein leeutjies in die gras veroorsaak het, spring opeens te voorskyn agter die dier waaraan hy stil gelê en eet het, en los meteens die spanning op. Die geluk het die leeus reg op ’n dooie sebra aangevoer; of was dit die ongeluk? Die laaste seker, meen ’n teleurgestelde vos, wat nou al sy skone vooruitsigte omtrent ’n nag van feesviering en ’n week sonder kommer daarna opeens so wreed versteur sien. En dat Reinaert in sy mening nie heeltemal verkeerd was nie, sou die môrelig weldra openbaar.
Met die geesdrif deur ’n kwaaie honger ingegee, val ons lang-getergde klompie leeus nou op die dooie dier aan.
Af en toe het die jong paar weer hul stemme laat hoor; en teen halfdrie, toe daar niks meer as ’n paar bene en die nek van die sebra oor is nie, trek die maanhaar met sy wyfie en die kleintjies daarheen. Uit die aard van die herhaalde gebrul kon hulle wel goed verstaan dat die jong paar geluk gehad het; en die ou leier voel dat nog so ’n paar lekker happe hom nie eintlik kwaad sal doen nie.
Die kraagmannetjie en sy wyfie bly by die geraamte lê. Vir ’n geruime tyd ná die ander leeus weg is, laat geen geluid, behalwe die gekraak van bene, hul teenwoordigheid vermoed nie.
Die maan, glansend skoon tot op die laaste, is eindelik agter die bergkruine weggesink, en die ganse vallei, met sy duisende wilde inwoners, is skielik in donker en geheimsinnige skaduwees gehul. Die môrester, vir ’n kort oomblik in alleenheerskappy gelaat, skitter met ongewone helderheid hoog teen die donker lug. Sou die leeus sy vriendelike waarskuwing in ag neem?
’n Ander ligpunt neem van die kraagmannetjie se hele aandag nou besit. Onrustig blik hy na die kampvuur, wat daar so-ewe weer opgelewe het. Dat die buit aan die mense behoort, het hy aan die reuk wat by hul aankoms nog om die sebra te bespeur was, vasgestel; en dit laat hom vrees dat die terugtog na die sandsloot miskien kan afgesny word. Toe die môreskemering effentjies merkbaar begin te word, groei sy onrus sterk aan. Reeds het hy ’n paar keer opgestaan om die terugtog te begin; maar die wyfie skyn nie geneig om van die geraamte nou al afskeid te neem nie.
Daar dreun opeens die geweldige stem van die ou maanhaar, en kort daarop die gebrul van al die leeus by hom. Die herhaling daarvan ’n bietjie verder af toon aan dat hulle op die terugweg is. Die kraagmannetjie haal ook nou ’n paar van sy diepste note uit en stap dan beslis weg. Eers as hy ’n ent weg is, spring die wyfie skielik op en draf agterna.
Regs van die kamp draf hulle nou verby om op die spoor van die ander leeus te kom. Toe hulle die bultjie oorgaan, word die kraagmannetjie geruster. Voor hom lê ’n kort gelykte, begrens aan die ander kant deur die sandsloot, waar dit veilig is. Sy tevredenheid en lewenslus vind nou uiting in ’n aanhoudende gebrul, wat weldra bo uit die sloot beantwoord word. Die ander leeus is dus al daar.
Het hy maar stilgebly! Nouliks was hulle van die sebrageraamte af weg, of dit het begin lewe in die kamp van die jagters. ’n Oomblik later het twee figure agter ’n boom nader gesluip tot by die dier, wat hulle daar laat lê het as ’n lokaas vir leeus, en ontdek dat hulle te laat was. Snel het hulle toe ook die dooie gemsbok besoek, maar ook vergeefs: die ou maanhaar was daar aanvoerder! Dit was net toe dat die kraagmannetjie kort agter die bultjie brul. ’n Oomblik later val die skote van die heuweltjie af.
Die wyfie gee ’n smartvolle brul, spring hoog in die lug, hardloop soos ’n rasende nog ’n paar tree voort en slaan dan teen die grond neer; onderwyl sy woedend brul en vergeefs trag om op die been te kom, fluit die koeëls om die mannetjie. ’n Oomblik staan hy asof versteend; woede oormeester hom; en as hy die jagters op hierdie oomblik kon sien, dan sou hy gewis stormloop. Maar die heuweltjie is ver, en die jagters onsigbaar; dit is reeds dag, en die sand spat om hom … Met ’n dreigende gebrom begin hy in lang galop die vlakte oor te steek.
Eer hy die sloot bereik, kyk hy weer om. Daar kom hulle aan, die gehate wesens! – reguit na sy wyfie toe, wat nou in die laaste stuiptrekkings worstel, onderwyl die geroggel in haar keel van hier nog hoorbaar is.
Met ’n gevoel van magtelose woede spring hy eindelik in die sloot en draf onder die groot bome langs op na die vorige skuilplek.