Читать книгу Uit oerwoud en vlakte - Sangiro - Страница 21
Hoofstuk 5
ОглавлениеBetowerende maanlig oorvloei die berge en sprei ’n sagte glans op die vlakte, waardeur die sandsloot met sy donker geboomte kronkel. ’n Aangename windjie waai van onder af hierheen en maak die gerunnik en skerp geblaf van sebras in die verte hoorbaar – hier waar ons drie leeus met die kleintjies op die rotsplate rus. Nie te ver nie klink nou en dan die klaende gehuil van hiënas en jakkalse, wat troosteloos omswerf en wonder wat van die klompie leeus geword het wat in die laaste maande aan hulle so menige lekker stukkie oorskiet van sebra of wildebees laat bly het. Die dooie renoster het hulle nog nie ontdek nie, want van gister af waai die wind berg op, en die skuilplekke van die hiënas is meestal onder in die sloot: hierdie hoek het hulle lankal eerbiediglik aan die leeus afgestaan.
Van sononder af lê die klompie leeus al hier op die rotsplate, en hulle luister nog altyd of daar van hul twee makkers niks te hore is nie. Hulle het in die vroeë môre die geweerskoot en die daaropvolgende smartkrete van die sterwende leeuin gehoor, en lank daarna het hulle wakker gebly en gewag om te sien of een van die twee sou uitkom. Dat die een nie meer sou terugkom nie, het die ervare ou leeus maar alte duidelik begryp uit die geluide wat hulle van hier verneem het. Die beweginge van die mense later, en die skoot op die jong mannetjie, het nie gedien om hulle geruster te maak nie. Daarom lê hulle nog hier, hoewel die dag lank verby is en alles lok tot ’n toertjie deur die bekoorlike maanliglandskap.
Die hiënastemme het intussen hul onrus laat aangroei. Sou die gespuis by die renoster wees? Dié gedagte en die feit dat geen leeustem hom daar onderkant ter verdediging van die buit laat hoor nie, laat die ou leier eindelik opstaan en uitvorsend van sy hoogte op die rots na benede afkyk. Maar op dié afstand kan hy niks onderskei nie; en ’n oomblik later gly hy, gevolg deur die ander leeus, in die maanlig deur die gras teen die berg af. Geen geluid kondig hul koms aan nie, want die ervare ou leier vrees dat daar gevaar om die dooie renoster skuil, en wil nie hul teenwoordigheid aan die onsigbare vyand verraai nie.
Halfweg na die renoster, op ’n breë streep wit sand, waar die bome yl staan, sien hulle die jong mannetjie aankom. Hy is maklik aan sy glansende maanhare te herken, al sou sy gedrag nie dadelik gewys het dat dit hy is nie; en toe hy hulle sien, laat hy ’n kreun van verligting hoor en kom vinnig nader. Stilswyend ruik hulle almal aan hom, wat hom baie welgevallig is; want die vervolging van die mense, en die eensaamheid van die môre af, het hom laat begin verlang na hul geselskap; bowendien is daar iets in die houding en maniere van die grys ou maanhaar wat sy volgelinge aantrek en vertroue inboesem. Dit was heeltemal natuurlik dat die jong mannetjie in sy radeloosheid daaraan sou dink om die ou leier te gaan haal en na die ongeluksplek te voer.
Daarheen draai hy ook nou terug; en na hy die ander leeus twee of drie keer met ’n “uuuupp” aangespoor het en omgekyk het of hulle aankom, draf hy vinnig vooruit, asof hy begerig is om hulle te wys wat gebeur het.
Met die neus teen die wind gaan die leeus versigtig op die renoster af, en wantrouig snuif hulle die lug op om seker te maak dat daar geen verraad skuil nie. Op die wal in die skaduwee van die akasia uitgekom, ontdek hulle met verbasing dat twee vreemde leeus reeds rustig aan die renoster smul. Dit is vir ons leeus, wat reeds vir die laaste twee dae in geen aangename stemming verkeer nie, tog eenmaal te veel. Onheilspellend krom die twee ou mannetjies se sterte, en langs ruggraat en nek rys die hare steil orent; en nader kom hulle, met dreigende gebrom, wat hulle harder en harder uitstoot by elke tree.