Читать книгу Uit oerwoud en vlakte - Sangiro - Страница 9
ОглавлениеIn spannende verwagting, die lede krampagtig bewende, wag die drie leeus die aanstormende sebras af. Dog vergeefs; op twintig tree dreun die trop verby in volle vaart. “Om hulle so te laat gaan sonder eens ’n poging te waag!” Die kraagmannetjie ontspan sy kragtige senings, vlieg voort, en is met ’n paar geweldige spronge kort agter ’n sebra. Hulle het hom egter dadelik gewaar en swenk in verwarring links weg. Twintig tot dertig tree bly die kraagmannetjie op die beangste dier se hakke; dog hy kry nie kans om te spring nie.
Met ’n paar brulle, kortaf en dreigend, steek hy vas en kyk half beskaamd die vlieënde gedaantes ná. Die opgewondenheid en lus het hom sy leeuwaardigheid sover laat vergeet dat hy werklik agter wild aan gehardloop het en dit vergeefs! Sy stertkwas piets krampagtig heen en weer; toe laat hy ’n ergerlike gebrom hoor – “arruau” – en stap langsaam terug.
En ver oor die maanligvlakte proes en runnik ’n uitgelate trop sebras teen die aandwind.