Читать книгу Uit oerwoud en vlakte - Sangiro - Страница 15
ОглавлениеDog toe die son hoër klim en warmer word, begin die slaaplus eindelik vir hom ook te sterk te word; en toe twee renosters in die sandsloot afgestap kom en reg onderkant hom gaan staan en wei, word hy meer gerus en gaan lê. Dié twee ferme wagposte sou wel betyds die nodige waarskuwing gee. Met sy swaar kop op die uitgestrekte voorpote neergelê en sy vakerige oë reeds toe, skyn dit of die ou leeu onmiddellik in slaap val. Maar ’n ligte trilling van sy senings nou en dan toon aan dat die gebeurde nog in sy gedagtes is; en ná ’n rukkie maak hy sy oë weer half oop om ewe die beeld van die vlakte daarin op te neem. Hy kan nog nie reg tot rus kom nie.
“Pffrrr!” onderkant in die sloot. Met ’n ruk is die ou mannetjie se oë weer oop. Die voorste renoster, byna swart van die modder waar hy laas in gerol het, staan nog in die lae struikgewas teen die wal oorkant, waar die leeu sy beweginge goed kan volg. Maar hy het skielik opgehou met eet en skyn met gespanne aandag voor hom in die sloot af te kyk. “Pffrrr!” laat hy nog eens vraend hoor, en sy ore beweeg onrustig heen en weer, asof hulle na die herhaling van ’n sekere geluid soek. Die kraagmannetjie word ongeduldig: wat sou die renoster makeer?
Daar kraak dit! Die renoster val op sy knieë, spring weer op, en loop storm onder ’n briesende gesnork en geblaas. Nog ’n skoot! Die leeus het by die eerste in ’n oogwink almal regop gespring en sien nou hoe die rasende dier op die jagter inloop en selfs nie deur die tweede skoot tot val gebring word nie. Toe die renoster sy horing reeds laat sak om sy vyand te deurboor, geluk dit die jagter om homself aan ’n boomwortel teen die wal op te trek. Die snuiwende gedierte hardloop onderdeur en storm die tweede jagter, wat ’n paar tree verder staan en nou op hom begin te skiet. Langer wag die leeus nie. Met elke haar orent spring hulle die klipbank af in die slootjie, klouter die wal oorkant uit, en draf vinnig ’n ent teen die berg langs, om hoër op weer in die sandsloot te spring. Gelukkig kan die jagters onder uit die ruigte niks van hierdie beweginge waarneem nie. Hulle is daar juis besig om die renoster, wat hul planne met die leeus so onbewus verydel het, te besigtig.
In een van die talryke klein slootjies, waar die sandsloot teen ’n bergkrans doodloop, versteek die leeus hulle nou. Nie te lank nie, of daar hoor hulle naderende mensstemme. Onwillekeurig vonkel die leeus se oë, en hul nekhare rys steil in die hoogte. Met ’n kwaadaardige gebrom bestyg die maanhaar die wal links om te spioeneer. Die jagters, voorafgegaan deur hul honde, kry nou die leeuspore en kom vinnig aan in die sloot op. Met ’n kort alarmklank – “arruaau” – spring die maanhaar weer terug, draf nog ’n ent in die klofie op, klim toe regs uit, en galop teen die berg op, gevolg deur die ander leeus.
Aan die voet van die krans verdwyn hulle in hoë gras en struike; tussen groot los klippe vleg hulle deur, om ’n oomblik later bo-op die rotsmassas te voorskyn te kom. Versigtig nader die ou leier tot aan die rand en gaan lê tussen die bossies wat uit die splete groei; met die swaarbemaande kop op ’n klipplaat neergelê kan hy juis oor die krans sien en die beweginge van die jagters onder gadeslaan. Agter hom, net oral waar die struike ’n weinig koelte aanbied, vly die ander leeus hulle neer, in die hoop dat hulle eindelik sal kan rus. Die drie kleintjies blaas nog hard van die ongewone vermoeienis en pla die onwillige wyfie dat sy hul dors moet les.
Nog ’n rukkie kan hulle die mense hoor en sien rondsoek in die sloot, wat hier op die bo-ent alleen met lae struikgewas bedek is en ná aan die krans geheel doodloop; toe skyn die jagters dit op te gee, en eindelik verdwyn hulle weer om die bergpunt.
“Eindelik! Waar gaan hulle heen, die sonderlinge, regopstaande figure, die gehate rusverstoorders! Waarom vervolg hulle ons gedurig so? Ons gaan tog uit hul pad.” Die maanhaar knor onwillekeurig by dié gedagtes, en in sy blikke op die gehate vervolgers flikker die wraaklus onheilspellend. Die oortuiging dat hierdie nie ’n vyandskap is wat maar net by toevallige ontmoetings uitbreek nie, maar dat dit onverbiddelik voortgesit word deur die mense, wat hulle in hul ruigste skuilplekke agtervolg, vervul die ou leeu met woede – en ja, met vrees. Want sulke vyande het hy in sy ganse uitgestrekte jaggebied nog nooit aangetref nie; en alleen die gedagte dat hier ’n wese is wat hom sistematies op sy ondergang toelê, is genoeg om die woeste ou leeu met ’n onverklaarbare angs en ’n gevoel van onsekerheid teenoor die mens te vervul. Daarby is hy nie onkundig omtrent die gedagte wat ander diere van die witmens het nie: net waar dié astrante skraal figuur hom vertoon, vlug al wat wild is. En het hy nie daar nou net weer gesien hoe die mens selfs teen die gevaarlike renoster die veld behou het nie?
Gramstorig lê die ou daar, ook lank nog ná die jagters van die toneel verdwyn het. Eindelik staan hy op, rek hom slaperig uit, en stap toe verder agtertoe om ’n beter beskerming teen die sonstrale te soek. Onder veel gegaap kruip die ander leeus een vir een by hom in; die rusplek is lank nie so aangenaam as die vorige een hier onderkant nie; maar daarheen wil hulle vereers nie weer teruggaan nie. Intussen voel hulle hier volkome veilig; rus is dit wat hulle op die oomblik bo alles begeer.
Toe die laaste leeu, die somber-swyende kraagmannetjie, reeds ’n lêplek onder die vyeboompie naas ’n oorhangende rots gekry het, skrik die drie kleintjies, wat lui uitgestrek en vas aan die slaap op ’n warm rotsplaat gelê het, eers wakker. Met ’n uitdrukking van ontsteltenis op hul komieke gesiggies spring hulle op toe hulle die ander leeus nie dadelik gewaar nie. ’n Sagte geknor van die wyfie stel hulle gerus en lok hulle ook onder die boom in.
Die son is al warm; en die leeus, vaak en moeg van die lang galop met ’n vol maag, gee hulle weldra oor aan die welverdiende slaap.
Toe die ondergaande son weer die landskap in purper en goud doop en onder uit die vlakte ’n koel aandwindjie aangewaai kom, tree hulle weer een vir een te voorskyn en strek hul kragtige lede bo-op die klipplate in die laaste strale uit. Die hele lug is oortrek van ’n donker, wynkleurige rooi, waarteen die majestueuse vorm van die maanhaar, wat bo-op die hoogste punt staan en op die vlakte afkyk, hom in duidelike trekke afteken. In die trotse figuur wat hom daar verhef, skyn geen vrees denkbaar nie. Met die ruie kop hoog, die neus teen die wind, en die oë onafgewend op die vallei, wat nou donker onder ’n gloeiende westersfeer uitstrek, is dit of hy die lewe met volle teue indrink.
En wie sal beweer dat daar van al die grootsheid rondom hom niks tot sy bewussyn deurdring nie? Niemand, gewis, wat al voor die ystertralies van ’n leeuhok in die dieretuin gestaan en daar gesien het die hongerende, die pynlik-smagtende blik, wat oor die omstanders heen na die berge daar ver gerig is, die ewig-rustelose beweging op en neer voor die knellende ysterwerk, en die onuitspreeklike dors na vryheid – ’n dors wat deur geen hoeveelheid van vleis tevrede gestel kan word nie.
Met die nadering van die nag groei die maanhaar se selfvertroue weer aan. Hulle is tog maar die heersers in die dierewêreld; as hulle maar net eers weet hoe om die gehate witmense te beveg! By dié gedagte gee die ou leeu weldra uiting aan sy toorn, wat hy die hele dag deur moes inhou, in lang-aanhoudende, dreigende gebrul, wat skeur hier deur die rotssplete, in elke hoek ’n weerklank vind, en ver onder in die gelykte die sebras en ander wild laat koud kry ten spyte van die daglig. Dan vly hy hom ook neer; want voor dit geheel nag is, wil hy nie afgaan nie.
Die ander leeus lê spoedig weer in halfslaap en skyn te lui selfs om deel te neem aan die gewone brul-konsert. Alleen die kraagmannetjie lyk onrustig; af en toe staan hy op, loop tot op ’n punt van die krans, kyk rond in elke rigting, en kom dan terug, om weer met ’n steun te gaan lê. Dit is duidelik dat hy die gebeurde van die vroeë môre nog nie vergeet het nie. Weldra gee hy ook lug aan sy verkropte woede; hy moet eers uitbrul om hom weer as ’n leeu te gevoel.
Daar hulle nog taamlik versadig voel, bly die leeus nog lank so in ’n aangename sluimering lê. Die ou maanhaar het ingedommel weer, met die plan om eers te gaan drink en dan die renoster, wat die jagters in die môre op geskiet het, op te soek. Hy het geleer dat waar die mens in geveg kom met wilde diere, daar gewoonlik een of meer slagoffers bly lê. So ’n leeu, van wie die lewe so vol is van avontuurlike gebeurtenisse, so ryk aan aanval en oorwinning, soms ook neerlaag en vlug, moet noodwendig langsamerhand ’n buitengewone skerpsinnigheid ontwikkel, ’n hoogs uitgeleerde jagter word; lesse eenmaal geleer, vergeet hy ook nie maklik nie.
Toe die maanhaar teen tienuur weer ontwaak, is sy eerste gedagte: water. Die ander leeus is reeds wakker; hulle het al begin rusteloos word; almal het dors. Maar waar is die kraagmannetjie? Een blik is genoeg om seker te maak dat sy forse gestalte nie onder hul getal is nie. Die maanhaar snuffel langs die klippe af tot teen die berg en bespeur dat sy maat met die paadjie van die môre weer af is.
Waarheen? Die ou leeu staan verwonderd; dit gebeur nie lig dat hulle twee sonder mekaar handel nie! Die ander leeus het intussen opgestaan, en toe die ou leier ’n diepe “uuummppf” onderkant die krans laat hoor, volg hulle hom een vir een, die jong mannetjie laaste.
Sonder om veel ag te slaan op die wild wat hulle op pad ontmoet, en wat vanaand oral besonder talryk skyn te wees, het ons klompie leeus die fontein bereik en hul dors in een van die diep gate deur renosters in die nat grond uitgetrap, na hartelus bevredig. In gemaklike pas aanvaar hulle nou die terugreis oor die toweragtige maanligveld. Die maanhaar is voor. Sy onrustige blikke is nou egter nie vir die wild bedoel nie: die lang wegbly van sy ou maat, wat hy gemeen het om op pad na die water te ontmoet, maak hom angstig. Sy drie gedempte brulle – die gewone teken – het hy reeds tevergeefs probeer. Nou brul hy effe harder; en waarlik, ’n entjie verder hoor hulle eers ’n trop wild met donderende hoefslae oor die vlakte heenstorm, en kort daarop kom die kraagmannetjie aan. Sodra hy hulle bemerk, draf hy nader, brom-brom, en met al die tekens van ontsteltenis.
Ná hy van die ander leeus weg is, het hy ál in die sandsloot afgedraf, met die doel om die ongeluksplek van die môre weer te soek. Laat ons hom op die spoor volg. Toe hy op die plek kom waar die renoster gestaan het, bespeur hy bloed; en hoewel hy nie juis erg honger het nie, volg hy onwillekeurig die spore – dit lê nou eenmaal in die leeunatuur. ’n Entjie in die sloot af hou die spoor aan, toe draai dit links teen die wal uit, en bo onder ’n groot akasia kry hy die renoster – dood. Dog vanaand het hy nie tyd vir eet nie; hy moet verder en aan die kwellende onsekerheid ’n einde maak. Ná hy die bloed wat afloop op die neus waar die mense die horing afgesny het, opgelek het, draf hy verder en bereik eindelik die gelykte waar sy wyfie geval het.
Dog hier begroet net die treurige geraamte sy blikke; die bene is reeds deur aasvoëls en jakkalse skoongemaak en oor die veld gestrooi. ’n Langgerekte “aaaaôôuu” ontsnap sy bors by die gesig en bewys dat leeus ook smart gevoel. Vol haat hef hy sy oë op in die rigting van die mense se kamp en … ontdek die naderende gedaantes van die twee jagters! Oor die helder verligte vlakte kom hulle sorgeloos aan, reguit na hom toe.
’n Vreeslike besluit kom by die ou leeu op. Onder die indrukke wat hy daar so-ewe opgedoen het, vergeet hy vir ’n oomblik sy vrees vir die mens, die feit dat die maanlig hom maar ’n onsekere beskerming bied en alles – behalwe dat hy sy doodsvyande hier voor hom het. In ’n oogwink duik hy tussen ’n paar klein bossies weg en berei hom voor om te spring. Ongetwyfeld sou hy vanaand sy wraaklus bevredig sien.