Читать книгу Uit oerwoud en vlakte - Sangiro - Страница 18
Hoofstuk 4
ОглавлениеOnderwyl die twee ou mannetjies broederlik uit die klein openinkie saam eet, het die ander leeus tevergeefs probeer om ’n toeganklike plekkie in die taai vel van die renoster te kry. Die moederleeuin dring haar eindelik ongeduldig by die maanhaar in en herinner hom knorrend aan sy plig. Die twee wyfies kry nou kans; dog toe die jong mannetjie hom ook daar wil indring, loop die maanhaar skielik dreigend op hom toe. Dadelik gaan die jongere leeu lê; hy trek sy ore plat en knor binnensmonds, maar waag dit nie om aan die gebieder weerstand te bied nie.
Geen leeu verneder homself ooit so ver as om die rug aan ’n sterkere toe te keer nie; sien hy nie kans om homself met sukses te verweer nie, dan gaan hy eenvoudig plat lê en erken daarmee die meerderheid van sy teenstander, wat dan ook gewoonlik die saak nie verder dryf nie as om hom miskien vir ’n oomblik in dreigende houding oor sy mindere te verhef. Of ’n geveg intussen wel tot ’n oorwinning vir die maanhaar sou gelei het, is twyfelagtig: hoewel swaarder en sterker gebou, besit hy nie meer die volmaakte en glansende slagtande van die jong mannetjie nie.
Die wyfie het eindelik ’n stukkie vleis uitgeskeur en aan die kleintjies oorgelaat om aan hul ongeduld en lastigheid ’n einde te maak. Hiermee het hulle opsy gegaan, onderwyl hulle komieke poginge aanwend om die groot leeus ná te doen en mekaar bang te maak. Die sterkste een, wie se fris voorlyfie en oneweredig groot voorpootjies hom reeds as die opvolger van die ou maanhaar bestempel, het eindelik die vleis bemagtig en daarmee om die boomstam gehardloop. Hier keer die ander twee hom vas; en vir ’n tydjie duur die luidrugtigheid voort. Veel vleis het hulle egter nog nie nodig nie; en ná ’n rukkie begin hulle om en oor die renoster te stap en die verskillende dele van alle kante te besnuffel, asof hulle wil vasstel watter soort van wild hy eintlik mag wees.
Beurtelings het die groot leeus uit die opening probeer haal wat hulle kon; en ofskoon dit nou so diep uitgeëet is dat hals en kop daarin verdwyn en hulle nie anders dan klein stukkies vleis meer kan losskeur nie, voel hulle tog almal vir vannag tevrede. Die tussenpose word deur dié wat hul beurt afwag, gebruik om die omtrek te bespied of in die sand te rol. Tussen die ou maanhaar en die jong mannetjie is die vrede ook weer geheel herstel. Almal verkeer in ’n besonder goeie stemming, want hulle het uitgereken dat die groot stuk wild hulle nog vir verskeie dae van alle moeite en kommer sal ontslaan. Hier in die ruigte sou dit wel gaan om die aasvoëls – wat op die kaal vlakte altyd alles wat van hul vangs oorbly, met die eerste lig laat verdwyn – op ’n afstand te hou; en met hiënas, ingeval hulle die reuk kry en van onder af uit hul skuilplekke hierheen kom, kon ook wel ’n plan gemaak word.
So het ons klompie leeus hulle dit alles baie mooi voorgestel. Selfs hul gevaarlike vyande, die mense, word deur hulle vir ’n oomblik vergeet; en toe die drie mannetjies teen vieruur een ná die ander begin te brul, was dit niks anders as voldoening en die uitbundigste lewenslus wat daar in hul diep-uitdreunende stemme tril nie.
Die twee ou mannetjies stap onder die skaduwee van die akasia uit in die volle maanlig en begin die grond met hul naels oop te skeur. Hierdie oefening maak hul naels skerp, en terselfdertyd gebruik hulle die losgemaakte grond om ’n droë bad in te neem. Onder veel gesteun en gekreun rek en rol die twee oues om en om, en eindelik bly hulle nog ’n rukkie lui uitgestrek lê.
Die stilte van die nag se laaste uur heers alom. Die twee leeus het hul koppe opgerig en skyn nou aandagtig te luister: hulle soek na die eerste tekens van die naderende dag. Die ou maanhaar wil weggaan eer dit lig word, en hy voel dat die dag haas gaan aanbreek. Dis of die leeu ’n ekstra sintuig het, waarmee hy die nadering van die dag presies weet te bespeur nog voor daar iets van merkbaar is – vir die menslike sinne ten minste.
Onder die boom is alleen die jong paar nog besig met eet. Die maanhaar se wyfie het begin onrustig word en staan nou onbeslis halfweg tussen die renoster en die twee ou mannetjies. Die pyn wat deur die koue môrelug in die oop wond aan haar voet veroorsaak word, het verhinder dat sy die gevaar sou vergeet; en sy het daar skielik gemerk dat ’n aasvoël wat oorkant op ’n doringboom swart teen die lug afsteek, sy vere al begin regskud. Die kleintjies, intussen, oor wie sy eintlik die meeste besorg is, het begin slaperig word; en daar hulle meen dat hierdie plek net so goed is as enige ander, lê twee reeds en slaap teen die boomstam, waar hulle die grond losgekrap en vir hulself ’n behoorlike lêplekkie reggemaak het; die derde een sit nog regop op die kop van die renoster en kyk hoe die twee leeus eet. Die uitskeuringsproses skyn skielik sy bewondering in die hoogste mate gaande te maak.
Die twee ou mannetjies het intussen opgestaan, die sand van hulle afgeskud, en begin nou verlaas, eer hulle afskeid neem, nog eens na hartelus uit te brul. Hul opwekkende môregroet werk aansteeklik; een ná die ander val die ander leeus ook in, tot weer ’n volle leeukoor die berghoek laat dreun en weergalm. Verskrik verlaat die aasvoëls hul sitplekke in die bome rondom en vlieg die donker lug in; en ver onder uit die vlakte, waar die maanlig verder en verder oor heenvlug, kom die antwoord van twee ander leeus.
Nouliks is die ou maanhaar se growwe, gedempte endnote – “uuuummppf – uuumpf – mmmff” – dof soos ’n eggo in die verte weggesterf, of hy verdwyn met sy wyfie en die kleintjies oor die wal in die ruigte van die sandsloot, gevolg deur die kraagmannetjie, wat goeie rede het om die verstandigheid van ’n tydige terugtog in te sien. Die jong paar, wat minder kans gehad het om te eet en nog nie soveel ondervinding met mense opgedoen het nie, bly by die renoster.
Ná ’n rukkie, toe dit reeds begin lig word, gaan die mannetjie naas die renoster lê en wag geduldig en sorgeloos tot die wyfie sou klaar wees – sorgeloos, want hy meen dat hier bo in die ruie hoek tog geen gevaar van mense kan wees nie, veral nie in die skemermôre nie.
Die jagters het intussen aan die gebrul van die ou maanhaar, hoër op in die sloot, gemerk dat die leeus die renoster reeds verlaat het, en het versigtig op die wal tussen hoë gras langs gekruip tot op ongeveer tien tree van die renoster af. Op dieselfde oomblik toe die maanhaar met sy geselle die dwarsslootjie bereik en nog in twyfel staan of hulle die dag weer op die krans sal deurbring, of dit liewer maar waag om hier in die ou rusplek onder die wal in te kruip, van waar hulle kan sien wat by die renoster aangaan, spring die wyfie luid brullend in die lug, met ’n koeël deur die hart. Die verskrikte mannetjie, wat agter die renoster deur die jagter nie kon gesien word nie, is met een enkele sprong in die sloot, terwyl sy ongelukkige wyfie, in haar poging om hom te volg, nie verder as die wal kom nie, waar sy in wanhoop haar tande in die pynlike wond inslaan en onderwyl afwisselend woedend brul en jammerlik klae. Ná ’n minuut is dit uit met haar.
Die jong mannetjie het terstond onder ruie struikgewas ingeduik en laat hoor nou herhaaldelik ’n eienaardige geluid – “uuuupp” – waarmee leeus mekaar roep as hulle nie te veel geraas in teenwoordigheid van gevaar wens te maak nie. Maar hierdie keer roep hy tevergeefs; en toe twee donker gedaantes bokant hom op die wal verskyn en ondersoekend in die bossies afkyk, kruip hy stilletjies dieper in.
Die jagters het die nutteloosheid van verdere moeite ingesien, daar hulle geen honde by hulle het nie; en so vertrek hulle ná ’n rukkie weer. ’n Halfuur later kom enige swartes aan om die vel van die dooie leeuin af te slag. Dog toe hulle naby kom, rys skielik die dreigende gestalte van die mannetjie naas die wyfie op; en in verwarring ontruim hulle die veld.