Читать книгу Uit oerwoud en vlakte - Sangiro - Страница 13
Hoofstuk 3
ОглавлениеDie maanhaar en sy geselskap het die skote gehoor en sit regop voor die ingang van hul rusplek. Almal tuur vol verwagting af in die vlakte; alleen die kleintjies, vermoeid ná ’n nag van ongewone inspanning, het hulle op die wal in die eerste môrestrale uitgestrek en lê reeds in vaste slaap, die voetjies na elke rigting uitgestoot.
Daar klim die kraagmannetjie uit die sandsloot reg onderkant hulle en kom nader … alleen! Sodra hy hulle bemerk, laat hy ’n klaende “aaaôôuu” hoor en kyk af na die vlakte om te sien of sy wyfie nie miskien nog van ’n ander rigting aankom nie. ’n Halwe minuut staan hy so; toe laat hy ’n gedempte knor hoor en kom stadig nader. Elke vyf of ses tree gaan hy staan om eers weer te kyk. Eindelik skud hy met ’n ongeduldige beweging die dou van sy kop af en sluit by die ander leeus aan.
Nog lank sit hulle daar – nugter, ofskoon die slaaplus oorweldigend begin te word. Die ou leeus verstaan wat met die ongelukkige wyfie gebeur het. Die skote eers, die kraagmannetjie se gedrag daarna, en nou die lang wegbly van die wyfie – dit alles het maar een verklaring. Die ou maanhaar, veral, onthou nog goed hoe hy nie baie lank gelede nie ’n dergelike verlies gely het. Hulle onthou almal ook dat die mense dikwels op hul spore volg; en die vrees dat hulle in die slaap verras word, hou hulle nog wakker.
Toe ná ’n uur nog niks van die mense te sien of te hoor was nie, gaan die leeus een vir een lê. Alleen die kraagmannetjie bly sit. Onophoudelik staar hy af in die vlakte, onderwyl sy nekhare nou en dan rys en ’n kreun aan sy bedrukte gemoed ontsnap. Moes hy dan so wegvlug?