Читать книгу Middernag - Sidney Gilroy - Страница 12
Hoofstuk 7
ОглавлениеTeen eenuur die middag is Maartin Brummels tevrede dat Palesa en Sollie hulle in die saak verdiep het. Sy speurder ploeg in die bloedige son van voordeur tot voordeur. Die patoloog versamel sakkies vol bewyse. Hy verskoon hom om verblyf vir die aand te gaan reël. En om van sy pynpille te drink.
Hy het nie vanoggend gestort nie, net die nodigste in sy rugsak gegooi en gery. Nou kan hy vir die eerste keer asemhaal.
Mountainview Inn is rye hotelkamers onder dennebome tussen ’n Ocean Basket, ’n Nando’s, petrolpompe en ’n Spur aan die buitewyke van die dorp. Dié rusplek vorm ’n knooppunt vir reisigers op die besige N3-snelweg. Van die ingang af kan Brummels Harrismith se stadsaal se vierkantige toring sien, boomtoppe op die voorgrond en silo’s in die verte.
Die kamer met en suite-badkamer is ruim. Verby die wynrooi gordyne en die N3 lê die berg en die gholfbaan. Platberg se kranse gooi lang skaduwees teen die hange af. Hier in die kamer is dit ’n bakoond en Brummels skakel die lugversorger aan.
Hy het pas uit die stort geklim of hy voel iesegrimmig. Die waterdruppels oor sy vel verdamp dadelik en die pynpille vat ook veels te lank om in te skop. Hy frommel sy neus. Die reuk wat uit die stort se afvoerpyp syfer, is dié van brak water. Die droogte het die Vrystaat in ’n wurggreep. Dis ’n versengende hitte wat grasperke dor laat en droë rivierlope laat kraak. Dit laat die inwoners van die vlaktes, dorpe en plase smagtend na die blou horison kyk, soekend om te sien of die volgende stapeltjie wolke dalk verligting sal bring.
Landswyd word die dalende watervlakke van damme en reservoirs bekommerd bespreek. Gegewe die kalkerige reuk is Harrismith se waterbron ook naby aan opdroog, en die reuk vanuit die toilet en die wasbak se dreineringsklep is een van verrotting. Gasserig styg dit tot in die slaapkamer.
Brummels trek die badkamerdeur toe, loer weer na Platberg. ’n Bruin blok teen ’n ligblou gordyn. Geen teken van reën nie. Alles verswelg onder ’n son wat die wit bliksem uit enige gesonde ding skroei.
Gou het hy ’n ander rede om te kla. Die dowwe, dooie pyn in sy lae rug verander van rat. Dit klop in sy kiewe. Hoeveel van die pynpille moet hy nóg drink? Die donnerse ding groei by die minuut. Sy lewe draai uit op een groot, moerse fokop.
Hy gaan lê op die bed, dryf genadiglik weg. En skrik minute later wakker toe die lugversorger se vinne met ’n harde kliek toevou. Die stroom koue lug kom skielik tot ’n einde. Harrismith het so pas die elektrisiteit-lotto gewen. Beurtkrag.
Geïrriteerd staan hy op en trek aan, ry polisiestasie toe. Dalk as hy met sy ou vriend gaan gesels, kan hy deur hierdie oorweldigende pessimisme breek wat sedert die dokter se oproep oor hom hang.
Harrismith SAPD se ontvangs laat besef hom opnuut die wysheid van die Natte se voorliefde vir donker hout, donker vloere en donker gange. Die plek se temperatuur is naby aan ’n koelkamer. En dis besig.
’n Man vol tatoes en met ’n lang swart baard moet sy stem verhef om bo die geruis van ’n massiewe waaier uit PW se tyd gehoor te word. Die kêrel in ’n stywe, modieuse denim verwoord luidkeels sy misnoeë met die enkele beampte agter die toonbank, die polisie en die algemene toestand van die land. Agter hom sit mense in verslete klere geduldig die stoele vol.
’n Meter weg staan ’n mooi jong vrou agter ’n duur donkerbril. Haar een hand vou om ’n loopstok en die ander om ’n Gucci-handsakkie. Emosieloos staar sy voor haar uit terwyl die man met sy plat hand op die toonbank klap. Hy het genoeg gehad!
Brummels staan nader om die man aan te spreek. Met min sukses. Meneer Pierewaaier is Kian Louw en hy dring aan op diens. Nóú. Blykbaar is dit ’n hopelose skaarste op ’n Dinsdagmiddag in die buitewyke van die Vrystaat.
Net toe Brummels die hipster-aan-die-verkeerde-kant-van-vyftig aan sy strot wil beetkry, verskyn kolonel Bester in die deur. Maartin en sy ou vriend se oë ontmoet. Kalmeer, wys Boere vir hom. En toe doen die stasiebevelvoerder dieselfde as wat Brummels hom gereeld as korporaal in die weermag sien doen het: sy diep stem ontlont die situasie van mans wat mekaar soos gekweste buffels aangluur.
Maar die oomblik toe Kian Louw sy klag in ’n kalm vertoon aan die kolonel oordra, word Brummels se dag nog veel, veel slegter.