Читать книгу Middernag - Sidney Gilroy - Страница 8
Hoofstuk 3
Оглавление’n Knal trek deur Gelderlandstraat 37 in Bayswater, Bloemfontein. Koevoet die boerboel vlug met platgetrekte ore van waar hy agter die grys bleskopman in sy japon gestaan het.
Kaptein Maartin Brummels het pas die laai van die staankas in die gang toegebliksem. Daar is nie meer Grandpa’s oor nie. Hy het een nodig. Gisteraand se rooiwyn en die oproep wat hy nou net ontvang het, vereis dit. Dit gaan ’n lang dag by Parkweg-polisiestasie word.
In die sitkamer steek hy sy laaste sigaret aan, skiet die leë boksie tot agter die televisiekas. Koevoet snuffel nuuskierig agterna. Brummels skroef die drinkbare jogurt wat hy uit die yskas saamgebring het oop en verstel sy japon sodat sy lieste darem bedek is. Lang, soet slukke uit die bottel volg. Hy kyk na die tyd op die televisieskerm. 05:43. Die leë bottel eindig op ’n hopie gefrommelde Grandpa-papiertjies langs sy uitskopstoel.
Wat het Harrismith se stasiebevelvoerder gesê? ’n Kind se lykie. Dalk vier jaar oud. In die hoofstraat gevind.
Sy Dinsdag begin soos ’n Maandag te voel. ’n Onbeholpe speurder in Harrismith soek al sedert die naweek na ’n dogtertjie wat uit ’n huis in Wilgepark verdwyn het. Haar ouers is rasend van bekommernis. Brummels het die berig gelees. Almal het.
Whitey van Coller van Oggendpos bel sekerlik Harrismith SAPD se lyne blou. Met sy pofferige vingers, ongeskeerde dubbelken en boepens aas hy vir sensasie.
En nou dit. ’n Dooie kind in ’n koelhouer op ’n roomysverkoper se fiets.
Die nuus uit dié stil dorpie was skokkend, om die minste daarvan te sê. Boere Bester, stasiebevelvoerder en oudweermagpel van Brummels, het onseker geklink. Boere is nie die tipe ou wat die media te woord moet staan nie. Hy het reeds angstig geklink toe hy Brummels Saterdagoggend geskakel het om hulp te vra met die vermiste dogtertjie.
Brummels het Anneri Woltemade se dossier telefonies met die ondersoekende beampte bespreek. Ivor Groesbeek, Harrismith se enigste speurder. Hy fokus uitsluitlik op die dorp, terwyl die ander drie speurders Qwaqwa, Warden, Kestell en Van Reenen bedien – op sigself ’n kakspul.
Ná Brummels afgelui het, het hy vir Mike gebel, buiten homself die langsdienende speurder by Parkweg.
“Mike, onthou jy ’n Groesbeek-knaap wat nou in Harrismith werk?”
“Ivor Groesbeek? Ja, kaptein, ek onthou hom,” het Mike uitasem gesê en uit die pad van die ander Parkrun-hardlopers getree. En toe rammel hy die storie af wat Brummels se geheue verfris het.
Ivor Groesbeek het ’n ruk lank in Parkweg gewerk. Een van ’n string konstabels wat sersante in Bloemfontein kom word en soos cowboys hul hand aan speurwerk waag. Net om later stert tussen die bene terug te kruip na die godverlate dorpies waarvandaan hulle gekom het. Vrot speurwerk. Onvolledige dossiere. Sake wat op die nippertjie op tegniese punte deur landdroste of regters afgeskiet word.
Niemand kry ’n tweede kans by Brummels nie. Hy pos hulle sodra hy snuf in die neus kry. Ivor was geen uitsondering nie. As hy reg onthou, het ’n sielkundige verslag destyds die man se oorplasing na Harrismith aangehelp. Ivor het onopgeloste woede. Ivor ly aan posttraumatiese stres. Ivor werk te hard. Ivor gaan eendag net knak. Ivor moet met handskoene hanteer word. Ivor pas nie in Bloemfontein aan nie.
Iemand wat Brummels en Parkweg nie kan gebruik nie.
Bye-bye, Ivor.
En nou sit die skepsel steeds met Anneri Woltemade se dossier in sy hande en Boere Bester vra wéér om hulp.
Brummels is Saterdag saam met Ivor deur die verklarings in die SAPS 3M-vorm. Die saakdossier. Die ruggraat van die soektog wat verklarings, die voorgeskrewe polisievorms, patologieverslae en die ondersoekdagboek bevat. Uiteindelik sal die hele lêer voor ’n regter of landdros eindig – mits Ivor ’n verdagte kan uitwys wat tot ’n lasbrief vir inhegtenisname kan lei.
En dis waar die probleem lê. Volgens vanoggend se gesprek met Boere het Ivor se dossier nooit daai hekkie geclear nie.
“Scan en mail vir my alles wat jy het,” was Brummels se voorlaaste opdrag aan die onbeholpe speurder.
Hy kon sien die ouers se handtekeninge is amper krampagtig op die SAPS 55-vorm aangebring, die dokument vir vermiste persone wat die polisie toestemming gee om Anneri se foto en gegewens met die land se polisiestasies te deel. Die Woltemades het nie soos useless ouers voorgekom nie, die kind was nie misplaas of verwaarloos nie. Hy het geskat sy sou voor sononder gevind word. Sy is nie. En teen Saterdagaand het hy onwillig vir Ivor aangesê om Anneri se foto in sirkulasie te plaas.
Tot gisteroggend was daar niks behalwe die berig in Oggendpos nie. Dit sal in die B-gedeelte van Anneri se ondersoeklêer eindig. En in die A-gedeelte is tot dusver net ’n stapel verklarings wat Ivor Saterdag by mense in die dorp afgeneem het, van die huishulp tot Anneri se kleuterskoolonderwyseres.
Brummels ken Harrismith. ’n Anglo-dorpie aan die voet van Platberg, ’n kolos van dolomiet en sandsteen wat bo die vlaktes van die Vrystaat uittoring. Slegs ’n paar kilometer verder val die plato saam met Van Reenenspas met bykans 1 600 meter tot in KwaZulu-Natal. Die N3-snelweg omsoom die ou dorp en sny deur die nuwer woonbuurte, met die Wilgerivier wat lui aan die westekant verbykronkel. ’n Rustige middelklasdorp tussen sandsteenkoppe, uitgestrekte weivelde en die Drakensberge blou op die horison.
Eers ’n vermiste kind en drie dae later ’n moordtoneel. ’n Lykie in ’n swartsak.
En Ivor Groesbeek is die ondersoekbeampte.
Brummels wil nie die afleiding maak nie. Maar hy moet.
Sure, kinders raak weg in die Vrystaat, all the time. Geskeide paartjies wat mekaar wil bykom en met ’n kind verkas. ’n Alkoholis of ’n addict wat syne of hare verlê. Ja, kinders raak weg, om later aan die verkeerde kant van die stad of dorp tussen die drek gevind te word. Pasgebore babas wat in bondels bebloede handdoeke lê. Gewoonlik vind hulle die ma in die naaste informele nedersetting of skoolkoshuis, nooit baie ver weg van waar die kaal, ontblote lyfie gelos is nie. Ongewenste asems.
Maar nie vierjariges nie. Nie sommer nie. En nie in die toestand wat hierdie lykie gevind is nie.
En nie Anneri nie. Sy het ’n ma en pa wat oral na haar soek. Die hele blerrie dorp soek na haar. Naarstiglik. Sy kom uit ’n goeie buurt. Sy gaan na ’n kleuterskool waarvan die ouers in groepe op WhatsApp, saam met die Pink Ladies en Facebook en AfriForum en God-weet-wie-nog, haar probeer opspoor. Sy is nie ’n weggooikind nie.
Oggendpos het gisteroggend die voorblad aan Anneri afgestaan; selfs die naweek se rugby en die volgende politieke sirkus is na bladsy twee en drie geskuif. Vrydagnag se kinderontvoering is tans die grootste enkele gebeurtenis in die Vrystaat se kollektiewe sosiale geheue. En Whitey van Coller gaan dit melk.
Sedertdien het Ivor Groesbeek, Harrismith SAPD en hý by Parkweg fokkol uitgerig.
Brummels druk die sigaret dood sodat gloeiende vonkies oor die koffietafel spat.
Kinders gaan dood. Bloedjong kinders ook. Hy sien die stroewe gesigte van die welsynwerkers as Kinderbeskermingsdienste in die hof moet getuig.
“Hoe oud?” het hy vroeër vanoggend vir Boere gevra.
“Ek skat nie ouer as drie of vier nie.”
Kinders word vermoor. Dít weet hy.
“Hoe?”
Sy vriend het gekug. “Dit lyk asof ’n dier haar beetgehad het.”
Brummels staar na die gekrabbelde notas wat hy tydens die oproep gemaak het. Hy ken die kolonel, hulle twee het destyds harde klippe gekou op die grens. In sy kameraad van ouds se stem kon hy die onsekerheid hoor.
“Ek het lanklaas só iets gesien, Maartin.”
Drie of vier jaar oud. Wit. Vroulik. Vermink.
Jissis. Hier is iéts. Brummels voel dit in sy water.
Hy trek sy foon nader. Ivor moet al wakker wees.
Stuur vir my Anneri Woltemade se foto, gee hy opdrag oor WhatsApp.
Terwyl hy wag, slof hy na die toilet. Hy staar beteuterd na die frommels vel om sy geslag tot die druppels spetterende geel straaltjies word.
Boere Bester is ’n goeie man, dink hy.
“Ek meen, ek is ’n kolonel, Maartin, en jy is ’n kaptein. Ek kan die saak aan jou delegeer, niemand sal ’n oog knip nie. Jy weet self hoe min hulpbronne ons het. Ek ken vir Ivor. Hy gaan nie regkom nie. Die laaste ding wat ek kort, is dat die Valke hier moet opdaag. Of dat my stasie op ’n koerant se voorblad deur die modder gesleep word.”
“Sou hulle?”
“Dit hang af. Die dorp is op die rand van histerie.”
“Tot hier in Bloemfontein is dit groot nuus.”
“Nou, kan jy dink wat gaan gebeur as die lyk in die swartsak Ivor se vermiste …”
“Don’t jump the gun. Wat sê jou speurder?”
“Niks.” En toe Brummels sug: “Ivor is nie ’n slegte outjie nie, maar ek moet al sy dossiere double-check.”
“Weet mense al wat julle vanoggend gevind het?”
“Nee.”
“Hou dit so.”
“Maartin, jy weet hoe dit deesdae gaan, nuus versprei vinniger as ’n veldbrand. Ek het jou en Parkweg se hulp nodig.”
Natuurlik sal hy help. Die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit is op sy knieë. Harrismith SAPD se hulpbronne is besig om te keer dat mense uit die township langs die snelweg nie elke trok afbrand of die land se belangrikste slagaar na die Durban-hawe afsny nie.
Terug in sy leunstoel herroep hy Anneri se ondersoeklêer. Daar was geen bewyse nie. Geen ooglopende verdagte nie. Geen ooglopende motief nie.
’n Lyk is slegte nuus. Altyd. Die lyk van ’n kind nog soveel meer.
Sy foon op die koffietafel maak die geluid van ’n waterdruppel wat val. Ivor het sy boodskap beantwoord. Brummels krap eers deur die asbakkie vir iets om te rook.
Hy kyk na die beeld in die WhatsApp-venstertjie. “Jirre, Groesbeek,” sug hy toe hy sien dat die boodskap slegs ’n foto bevat. “Jy is al in jou veertigs. Moet ek en Boere dan álles vir jou doen?”
Hy weet wat hom te doen staan. Hierdie docket is niks minder nie as ’n lekker lokaas vir Oggendpos as die lyk wel dié van Anneri Woltemade is. Hy en Boere speel vir tyd. Beide se aftrede is om die draai. ’n Kak smaak in die brigadier of kommissaris se mond kan ’n paar nulle agter jou aftreegeld uitvee. En Harrismith was juis Boere se aftreeplan.
Met ’n stompie van gisteraand smeulend tussen sy wysvinger en duim vasgeknyp, vee Brummels deur die name op die WhatsApp-groep waarmee hy sy span speurders op hok hou. Boere is reg, Ivor gaan nie hierdie stront kan handle nie. Hy wat Maartin is, gaan self hulp kort. Die feit dat hy moet druk laat dit bars om te kan pis, is net die helfte van die saak. Niemand, nie eers Petru, weet van sy afspraak met die operasieteater nie. Hy gaan die saak moet delegeer en van die kantlyn af bestuur. Saam met wie?
Gefrustreerd blaas hy blou rook deur sy neusvleuels terwyl hy sy opsies oorweeg. Sy vinger huiwer bo staatmaker-Mike se profielfoto. Mike het ’n berg sake.
Sy vinger gly verby Mapaseka se naam. Nee. Dié speurder het deesdae ’n politieke inslag met alles – hy moes haar al aanspreek oor die rooi baret wat oop en bloot op haar lessenaar lê. En by Mapaseka sal dit ’n gemeenskapsprojek word, sy is after all ’n vrou en ’n ma. Dalk die perfekte kandidaat om die publiek aan hulle kant te kry en daar te hou, maar wat as sy te emosioneel betrokke raak en die saak ’n slaanstok word vir ander griewe wat sy en haar rooi intelligentsia koester? Hook, line and sinker ’n voorblad vir Whitey se Oggendpos.
Sicelo en André bedien Brandfort, Kroonstad en Welkom.
Khabe? Nie eers ’n opsie nie.
Sollie Mthembu. Brummels het hom net gister uitgetrap, maar hy weet die nege-en-dertigjarige sersant is soos ’n bulhond onder daai bedeesde uiterlike. Al struikel hy op die vreemdste tye oor sy eie woorde, los Sollie nie as hy iets beetkry nie. En hy het homself met die Onverwacht-moorde bewys. Maande nadat Brummels gedink het die saak is opgelos en verby, wys Sollie die skuldige uit.
Brummels se huiwering wyk. Hy kan Sollie saamsleep Oos-Vrystaat toe. Die kort, lywige speurder met die opgehewe letsel oor sy gesig is nie juis ’n gunsteling by Parkweg nie. Hy is nie een van die boys nie; niemand sal hom mis nie. Mike kan die fort hier in Bloemfontein hou. En die stof het al gaan lê oor die sensasionele manier waarop die Onverwacht-moordenaar aan sy einde gekom het.
Brummels se vinger huiwer opnuut bo die ikoon op die skerm. Hy raak te oud hiervoor. Fronsend dink hy aan wat voorlê. Lang ritte saam met ’n vreemdeling. Moontlike stram gesprekke om ontbyttafels. Kakpraat oor aandetes. Hy weet nie of hy kans sien daarvoor nie. Elkeen sal met sy eie kar moet ry en sy eie hotelkamer moet kry. Hy vermaak niemand nie.
Hy ken die mannetjie skaars, besef hy nou. Hy weet nie eens wat Sollie se vrou se naam is nie, net dat hy getroud is. Dan onthou hy van die pienk ballon wat hy laas week in die sersant se kantoor sien dartel het – ’n verrassing van Parkweg se ander speurders.
Sollie Mthembu gaan pa word. Vir die tweede keer.
Brummels kliek op die ikoon om die hakkelende speurder te bel. Die koerante en die Valke se moer.