Читать книгу Middernag - Sidney Gilroy - Страница 4

Оглавление

Hy is te diep in. Veels te diep.

Sersant Sollie Mthembu is tam. As hy sy oë toemaak en ophou spartel, is dit verby. Hy besef dit nou: hy sterf vannag. Reëndruppels val koud en hard teen sy gesig. Om hom woed ’n storm wat met elke weerligstraal die Drakensberg se steil kranse in die verte verlig.

Die diep water van die Sterkfonteindam suig hom in. Sy bene kramp. Sy broek en hemp hang aan hom soos nat lakens. Heen en weer pluk die stroom sy hulpelose liggaam.

Van hier af is die damwal ’n veraf droom. ’n Soliede swart streep op die donker horison. Hy snak na asem, gryp sy broek se belt agter sy rug vas en beur sy skouers na bo.

Hoe lank kan hy nog uithou?

“Help!” Hees verdwyn sy stem in die niet.

Hy probeer sy skoene afwikkel. Hy moet harder skop. Hy moet sy kop bo water hou. Die tou sny in sy polse in. As hy sy oë toeknyp, sien hy Entle slapend in haar bedjie. Nyandi in die dokter se spreekkamer, Naledi se lyfie op die sonarskerm.

Hy kan nie vannag sterf nie. Hy mág nie.

Elke nuwe golf word ’n tsoenami wat ysig teen sy gesig klap. Dit spoel oor sy kop. Onder die water hoor hy sy eie hart teen sy oortromme hamer.

Hy baklei met alles in hom. “Help my!”

Elke asemteug word ’n mond vol water.

In die verte sien hy liggies blink. Hy móét daar uitkom.

As hy vannag sterf, sterf sy. Soos die ander twee.

Middernag

Подняться наверх