Читать книгу Middernag - Sidney Gilroy - Страница 9

Hoofstuk 4

Оглавление

Sollie Mthembu staan om 05:12 op. Versigtig om nie sy swanger vrou wakker te maak nie, loop hy na die badkamer. Sy blaas druk al van vieruur af, maar hy durf nie snags van die krakerige dubbelbed af opstaan nie.

Terwyl hy so sag as moontlik water afslaan, loer hy na waar Nyandi se voete op die bed sigbaar is, Entle teen die muur aan haar ander kant. Hulle slaap nog. Dankie tog. Om deesdae sy vrou se buie te probeer voorspel is soos om Russiese roulette met ’n volgelaaide rewolwer te speel: die uitkomste bly dieselfde.

Hy dagdroom al daaroor om in ’n aanhangsel van sink vir die huis te belê. Nie aanlap vir uitverhuur nie. Nee. Meer wegkruipplek vir homself. As sy nou al só te kere gaan, hoe gaan dit wees as Naledi bygekom het? Dan staan hy manalleen teen drie vroue. Vier, as jy Agnass van langsaan bytel.

In die kombuis wag hy vir die ketel om te kook terwyl hy deur die venster staar. Sy oë soek na die horison waar die dakke van Phahameng se HOP-huise en sinkkaias in die eerste lig begin glinster. Binne die huis ruik dit na slaapasems en gisteraand se kerrievleis. Hy stoot die voordeur oop terwyl hy die toekoms oordink. Hopelik erf Naledi nes Entle sy ma, Nadjwa, se temperament en nie sy vrou s’n nie, sug hy voor hy na die kombuis terugdraai.

Hy smeer botter op vier snye witbrood en sluip daarmee deur die sitkamer tot op die stoep. Hy teug aan sy tee voordat hy die brood dubbel vou en deur die tee vee. Hy het nie melk bygegooi nie. Ook nie suiker nie. Sedert die nuus dat hulle tweede baba op pad is, hou hy die bankrekening en koskaste met valkoë dop.

Gisteraand toe sit Nyandi weer met pen en papier. Nóg ’n lysie.

Hy dink al daaraan om vir haar te sê dat hy naweke moet werk. Dan kan sy hom, en die bankkaart, nie weer winkels toe sleep nie. Hoe kos ’n stootwaentjie buitendien drieduisend rand? Van wanneer af word doeke uit peperduur bamboesmateriaal gemaak? Hoeveel sjampoes, kombersies, bottels, skoonmaakmiddels, hempies, kousies, poeiers en blikke verskillende soorte melkpoeier gaan die Corolla nog Phahameng toe moet aanry? En hoe lank gaan die geld hou?

Hulle besoeke aan Dis-Chem is ’n nagmerrie, hy moet altyd ’n tweede trollie gaan haal.

“Nog rome?” vra hy as sy vrou mik na die bokant van die rak. Haar rok lig tot bo haar knieë en haar boude en maag veg om haar gewig op haar tone te balanseer.

“Dié een is hypo-allergenic.”

“Hypo-what? Wat is dit?”

“As sy dalk ’n veluitslag kry. Hierdie is baie goed, dit word op televisie geadverteer. Deur ’n velspesialis. Dit doen wonders vir brandboudjies. Agnass sê ook so.”

“Ons hét rome gekoop, Nyandi. Baie,” frons hy as sy twee bottels in die trollie laai.

“Ons moet voorbereid wees, Sollie! Jy’t al vergeet hoe dit met Entle was.”

“Maar jou datum is nog maande weg. Kan ons nie later eers kom koop nie?”

“Moenie laf wees nie,” gebruik Nyandi haar slim-stem. “Jy werk en ek kan nie bestuur nie. Ek’s die ma, ek moet betyds sorg dat alles reg is.”

Sollie vat ’n sluk tee en vryf oor sy voorkop. In die straat voor hul huis begin jillende skoolkinders en fabriekswerkers in oorpakke verskyn. Die ontwakende township se klanke word deur sy selfoon onderbreek. Hy ken die nommer.

“Mthembu!”

“Kaptein?” Met die foon teen sy oor skarrel hy na die verste hoek van die erfie, weg van die kamervenster af.

“Waar is jy?” blaf Maartin Brummels in sy oor.

“Ek-k-k is by die huis, kaptein. Dis skaars s-s-sesuur, kaptein.”

“Hoekom fluister jy?”

“My vrou s-s-slaap nog. Ek wil haar nie w-w-wakker maak nie. Sy is s-s-swanger.”

“Ja, ek weet.” Daar is ’n gevroetel en geklingel en geskop in die agtergrond. Klink soos ’n gesukkel met ’n deurslot. “Jissis!” swets Brummels terwyl ’n hond verwoed blaf.

“Kaptein?” vra Sollie onseker.

“Nie jy nie, Mthembu!”

Die rumoer aan die ander kant van die lyn word stil. Dan skielik: “Toe, Koevoet, uit! Jy maak my fokken mal.”

“Kaptein? Ek hou s-s-steeds aan. Waarmee kan ek h-h-help?”

“Pak jou tas. Ons moet ry.”

Hy wag vir die woorde voordat hy sy tong daarmee vertrou. En dan, as die besef insink: “Waarheen gaan ons ry, kaptein?”

“Harrismith. Daar is ’n moordsaak wat vanoggend ingekom het waarvoor ons dringend benodig word. Kolonel Bester, die stasiebevelvoerder, het die docket gereed. Ek wil hê jy moet die ondersoek hanteer. Daar is ’n kantoor wat jy kan gebruik.”

“Waarheen moet ek eerste gaan, kaptein?”

“Die crime scene, waar anders? Forensies van Bethlehem is alreeds daar, saam met ’n konstabel Jantjies wat as toneelbestuurder optree. Basic training, so jy weet wat dit beteken. Ons beter daar kom, dis twee en ’n halwe uur se ry.”

“Kaptein, as ek mag vra …”

“Wat, Mthembu?”

“W-w-waarom ek? Maluti-a-Phofung het sekerlik tog speurders. Dis hulle gebied.”

“Niemand het ’n gebied nie, julle is nie fokken eiendomsagente nie. Dis een provinsie.”

“Oukei, kaptein.”

“Nou toe, pak jou tas en kom stasie toe. Jy ry agter my Isuzu aan. Palesa is in haar Fiesta. Jy het mos nou jou eie kar?”

Middernag

Подняться наверх