Читать книгу Middernag - Sidney Gilroy - Страница 15
Hoofstuk 10
ОглавлениеKloktyd Restaurant is besig, sien Sollie toe hy na die ingang stap. Die eetplek was voorheen ’n woonhuis waarvan die tuin omskep is met sementbankies en ’n verskeidenheid tafels van staal en hout. Duidelik ’n gunsteling onder die dorpenaars.
Sollie vee oor sy voorkop toe hy onderdeur ’n staansambreel koes. Die kwik trek al verby 35 ºC en daar is nie ’n wolkie in die blou uitspansel nie.
Eenkant by ’n tafel sit die kaptein, kolonel Bester en ’n fris blonde man wat met sy arms én bene gekruis sit. Sy hare is borselkop geskeer, só kort bokant sy ore dat sy kopvel pienk deurslaan. Sy gesig en die agterkant van sy nek is oortrek met oranje sproete.
“Ivor Groesbeek,” groet hy en staan op om Sollie se hand te skud. Sy greep is so stewig dat Sollie voel hoe sy pinkie en wysvinger mekaar in die man se vuis ontmoet.
“Speursersant,” voeg Groesbeek by toe hy weer gaan sit.
“Sersant Mthembu.” Sollie knik in die ander twee se rigting. “Kaptein, kolonel.”
Die vier mans kyk om die beurt vir mekaar. Wat Sollie eerste opval, is Groesbeek se oë, wat hy aanhoudend knip. Gryserig soos ’n vlies wat oor ’n blou albaster getrek is.
“Ek het nou net met Palesa gepraat,” sê Maartin Brummels. “Daar is meer in Harrismith aan die gang as die lyk wat julle in die koelhouer gevind het, Mthembu.”
Sollie se blik gly oor twee dossiere wat in die middel van die tafel lê. Die onderste een is ooglopend splinternuut. Daar val sigaretas op die dokumente toe Brummels dit na hom aanskuif.
“Ek stem saam, kaptein. Ek vermoed dit al vandat ek vanoggend die lyk op die toneel gesien het. Ek moes net eers gaan nadink oor waar ek al voorheen iets soortgelyk gesien het.”
Brummels hou sy hand omhoog. “Voordat jy verder praat … hier is MAS-19286 en MAS-19297. Die eerste een was Ivor se dossier, die ander een is vanoggend geopen. Ivor het reeds verklarings geneem, maar op die kolonel se versoek oorhandig ek nou al twee aan jou. Binnekant sal jy verklarings kry en die lys van geprosesseerde bewyse, wat nie veel is nie. Daar is ook foto’s van die slagoffers se huise en slaapkamers.”
Sollie frons. “Maar dis ander saaknommers as die dossier wat ek vanoggend gekry het?”
“Want dis ander sake,” praat Groesbeek uit sy beurt uit.
Toe Sollie na hom kyk, sak die blonde man se blik na sy linkerhand. Die pinkie se kneukel is duidelik gekneus. Ook die kolonel staar peinsend na hom.
“Is hierdie dossiere verwant aan Wardenstraat s’n?” vra Sollie.
“Dit weet ons nie,” antwoord Groesbeek vinnig.
“Nog nie,” korrigeer die kolonel hom.
Sollie vou MAS-19286 oop. “Waaroor gaan hierdie sake?”
Die gesig van ’n laggende kleuter staar uit ’n foto na hom. Sy lyk soos enige drie- of vierjarige: ietwat pokkelrig, rooi wangetjies en skerp tandjies wat spoegerig wys. Sy het fyn donker hare. Die man en vrou weerskante van haar is haar ouers, neem Sollie aan. Die drietal balanseer op ’n springkasteel. In die agtergrond is die buitelyne van ’n eenvoudige huis, soortgelyk aan duisende ander in die Vrystaat.
“Anneri Woltemade,” verduidelik Brummels. “Sy het Vrydagaand uit Wilgepark verdwyn, die woonbuurt aan die regterkant van die N5. Ons het daar verbygery.”
Hy kyk na Ivor, wat op sy beurt traag begin praat.
“Die foto is in Januarie geneem, by Anneri se laaste verjaarsdagpartytjie. Sy is vier jaar oud en gaan na Die Besige Bytjie Kleuterskool in die dorp. Haar pa is ’n IT-konsultant wat vryskut werk en haar ma is ’n kassier by die Frontier Inn Casino in Bethlehem. Daar’s ook grootouers, maar dié is in Westerbloem. Sy weet nog nie dat haar kleinkind weg is nie.”
“Hoe het Anneri weggeraak?” vra Sollie.
“Vrydag kort voor middernag het Mariëtte Woltemade ’n harde knal in die huis gehoor. Sy het opgestaan om te gaan kyk. Haar man, Davey, het haastig sy wapen uit die kluis in hul slaapkamer gehaal en haar gevolg. Hy het haar in die kombuis gevind. Dit was die wind wat die agterdeur toegewaai het. Volgens Mariëtte was beide die agterdeur en sekuriteitshek gesluit, maar nou was dit oop. Die sleutels, wat hulle gewoonlik onder ’n matjie op die eetkamertafel versteek, het in die sekuriteitshek gehang. Hulle het gedink daar is aanvallers in die huis en Mariëtte is na buite om by die bure alarm te maak. Davey het agtergebly om die huis te deursoek. Hul seuntjie was nog veilig in sy bedjie in die hoofslaapkamer, maar toe hy in Anneri se kamer kom, was haar bed leeg.”
“Is daar al enige vordering met die saak?” In sy gedagtes vergelyk Sollie die gelaatstrekke op die foto met die opgeblase, swart gesiggie in die koelhouer. Onverwacht en Rhynveld spook in sy agterkop: vermiste persone wat dood opduik.
Groesbeek skud sy kop. “Die dossier bevat alles wat ons het. Oggendpos is vrot van die spekulasie, Facebook ook.”
Sollie kyk op. “Oggendpos?”
“Whitey van Coller het Saterdagmiddag by die Harrismith Inn ingeboek. Met ’n kamera en ’n dik notaboek. Daar is net een rede waarom hy in Harrismith sal wees.”
“Jy weet hoe min die brigadier en die kommissaris van ’n uitgerekte sage op eNCA of in Rapport gaan hou,” sê Brummels terwyl hy ’n sigaret uit sy pakkie skud. “Daarom het die kolonel besluit om ons eerder vroeër as later te laat kom.”
Sollie frons. “Wat van die Valke?”
“Wat van hulle? Hierdie is nie ’n prioriteitsmisdaad nie, Mthembu.”
“Nog nie,” sê Groesbeek.
Sollie onderskep ’n waarskuwende blik van die kolonel in die blonde speurder se rigting.
“Enige verdagtes?” vra hy.
“Nee,” antwoord Groesbeek. “Ek het die ma en pa uitgecheck. Hulle is werklik net bekommerde ouers. Hulle is ’n normale middelklaspaartjie, geen uitermatige finansiële probleme of enige kinks nie. Die personeel by die kleuterskool het ook almal verklarings afgelê.”
“Huishoudster?” Sollie dink onwillekeurig aan die kere wat Nadjwa huilend by haar buitekamer ingestap het as sy van steel beskuldig is.
“Die huishoudster werk al sedert Anneri se geboorte vir hulle. Daar is geen tuinwerker nie, net tuindienste.”
“Familie?”
“Die Woltemades se familie woon almal in Gauteng. Hulle is nie mense wat gereeld kuiergaste by hul huis onthaal nie.”
“Wat is geprosesseer?”
Groesbeek tel op sy vingers af. “Ons is deur die huis. Ek het van Anneri se speelgoed en haar beddegoed in Bethlehem laat prosesseer, maar ek wag op die uitslae. Van wat ek onder die soeklig kon sien, was daar geen bloedspoor, geen chemiese spoor of fisiologiese materiaal soos semen in haar kamer of op haar beddegoed nie. Geen elektroniese toestelle of waardevolle items word uit die huis vermis nie.”
“So die motief was nie roof nie?”
“Korrek. Selfs die vingerafdrukke is net Anneri of haar ouers of die huishoudster s’n. Daar was ’n paar moddermerke voor die agterdeur, maar dis dit. Ons kon niks aan ’n definitiewe afdruk koppel nie.”
“Dan lyk dit soos menseroof. Was daar enige kontak deur die ontvoerders gemaak? Enige losprys gevra?”
“Tot dusver nog niks.”
“En die belangrikste,” onderbreek Brummels hulle. “Die agterdeur is van binne af oopgemaak en die sleutel is net daar gelaat.”
“Beslis dan iemand wat die Woltemades se huis ken, of iemand wat alreeds in die huis was.” Sollie blaai na die bewysregister. “Is die sleutel as bewysstuk geneem? Kon enige vingerafdrukke daarop gevind word?”
Groesbeek begin vroetel met die dossier. “Ek is seker ek het dit aangeteken.”
“Jy gaan die ondersoek van voor af hanteer, Mthembu,” sê Brummels geïrriteerd.
Hy beduie na die tweede dossier, MAS-19297. “En dan is daar hierdie. Nóg ’n kind wat verdwyn het, net in ’n ander woonbuurt.”
Sollie frons. “Bedoel kaptein … net weggeraak?”
“Soos ’n poep in die wind. Haar pa het vanmiddag soos ’n besetene in die polisiestasie te kere gegaan.”
Sollie maak die dossier oop. Weer eens word hy deur die stralende gesig van ’n kleuter begroet. Haar hare is taamlik kort en lig van kleur, klein krulletjies hang agter haar ore. Sy sal eendag krulhare hê. Dit lyk soos ’n geposeerde foto in ’n studio; sy dra grimering wat haar ouer laat lyk. Kiara Louw, lees hy die naam boaan die eerste nota.
Brummels suig aan sy sigaret en blaas blou rook uit. “Vandag as vermis aangegee. Sy word volgende maand vier. Derde kind van Kian en Mia Louw van Bergsig, bekendes in die vermaakbedryf. Kiara moes gisteraand verdwyn het, dalk vroeg vanoggend.”
“Kian Louw is ’n musiekpromotor,” sê die kolonel. “Die ma is ’n huisvrou wat voorheen aktrise en sangeres was. Kiara woon geen kleuterskool by nie. Haar tweelingbroers is al afgestudeer en woon elders in die land.”
“Laatlam?” raai Sollie.
“Kiara is onlangs deur Kian-hulle aangeneem,” verduidelik Groesbeek. “Mia is sy tweede vrou.”
Sollie blaai deur die dossier na Mia Louw se verklaring wat in ’n krom handskrif onderteken is. “Jy sê die ma was ’n aktrise. Het sy intussen uitgetree?”
Groesbeek snork liggies. “Daar’s nie baie filmstelle in Harrismith nie.” Hy hou sy selfoon op. “Dis Mia Louw in haar heyday.”
Sollie staar na die foto op die skerm. “Wat soek ’n aktrise so mooi soos sy in Harrismith?”
“Sy werk vir haar man. Al kan sy môre haar sangloopbaan hervat.”
Sollie probeer die beeldskone gesig plaas, maar skud uiteindelik sy kop.
“Herken jy haar dan nie? Daai is ’n reklamefoto van ’n paar jaar gelede.” Groesbeek sit die foon terug in sy broeksak. “Sy lyk nie meer so nie. Mia is nou blind.”
“Blind?” vra Sollie oorbluf.
“Soos ’n mol.”
“Jirre, Groesbeek,” blaf Brummels.
Die blonde man lig sy hande verskonend. “Ek sê maar net.” Hy strengel sy vingers inmekaar en dop sy elmboë na buite. ’n Sarsie knakgeluide skiet oor die tafel voor hy sy dik voorarms op sy skoot neerlê.
“Hoe het sy haar sig verloor?” vra Sollie.
“Ek is nie seker nie. Daar is stories in die dorp, maar niemand weet eintlik die waarheid nie. Ek skat dit was trauma.”
“Iets soos ’n karongeluk? Of was sy ’n slagoffer van geweld?”
Groesbeek trek sy skouers op. “Ons kan haar saam gaan ondervra, sou jy wou.”
“En sy en haar man het ’n kind aangeneem?” Sollie kyk weer na Kiara se foto in die dossier voor hom.
“Ja, hoekom nie? Hulle het die finansiële vermoë. Kian Louw maak geld soos bossies.” Groesbeek staan op. “Ek moet gaan fluit.”
Sollie kyk die sersant agterna. Die kolonel en die kaptein ook. Groesbeek se arms bak verby sy rugspiere wat driehoekig oor sy skof bult.
“Bodybuilder?” vra Sollie toe niemand iets sê nie.
“Hy lyk darem nou na iets,” snorklag die kolonel. “Tien jaar gelede toe hy hier aankom, was hy maar ’n pisdruppel met ’n groot attitude.”
“Die attitude het gebly,” merk Brummels op.
“Ken kaptein dan vir Ivor?” vra Sollie.
“Ja, hy het Bloem se bright lights kom opsoek toe Bethulie hom begin verveel het. Nie ’n slegte ou nie, net ietwat onbeholpe. Hy’t nie lank gehou by Parkweg nie.”
“Ivor was bietjie obsessed daarmee om gou naam te maak,” beaam die kolonel. “Eintlik maar ’n windbal. Hy’s steeds meer gepla met CSI en Crime Watch op DStv as die sake in sy dockets.”
“Either way …” Brummels tik op die dossier in Sollie se hande, “dis nou jou ondersoek.”
Sollie voel hoe sy tong wil swaar raak, maar hy dwing sy gedagtes in ’n ander rigting.
“As ek so na julle luister, het Kiara Louw in die vroeë oggendure verdwyn. So ook Anneri Woltemade.”
Brummels knik. “Uit hul kamers in hul ouerhuise.”
“Die lyk in Wardenstraat is ook in die oggendure daar gelos.”
Groesbeek keer terug. Hy glimlag in Sollie se rigting. “Wat het ek gemis?”
“Mthembu is besig om tydlyne te plot,” beduie Brummels met sy sigaret.
“Ek mik eint-t-tlik na iets … anders, kaptein,” sê Sollie.
En toe almal hom afwagtend aankyk: “D-d-die Universitas S-s-slagter.”
Brummels frons woes. “Die wát?”
“Die r-r-reeksmoordenaar wat rondom 2009 in Bloemfontein w-w-was. Die lyk in die koelhouer is op d-d-dieselfde manier agtergelaat as wat ek van die Slagter se t-t-tonele kan onthou.”
“Nou is nie die tyd om Inspector Watson te speel nie, Mthembu! Waar was jy in 2009?”
“Ek was toe nog ’n k-k-konstabel, kaptein.”
“So wat weet jy van die dockets van daai tyd af?”
“Ek was op van die Slagter se t-t-tonele. Ek het gesien wat hy aan sy slagoffers gedoen het.”
“Verskoon my.” Groesbeek vlieg uit sy stoel op, ’n rooi blos oor sy ligte vel. Hy storm na die uitgang en ’n kardeur klap. Dan brul ’n enjin.
“H-h-het ek iets v-v-verkeerd gesê?” vra Sollie.
Die ander twee loer na mekaar.
“Ons moet hom seker vertel, Maartin,” sug die kolonel uiteindelik.
“Mthembu …” Brummels verfrommel sy halfgerookte sigaret in die asbakkie. “Jy krap aan ’n byenes. Ons het geen bewyse om die kind in die koelhouer aan ’n reeksmoordenaar uit die verlede te koppel nie.”
“Hy’s nooit gevang nie, kaptein.”
“Ek weet dit.”
“Maar Ivor kan my help om destyds se rekords deur te gaan.”
Die kolonel lig sy hand. “Ek het Ivor uitdruklik verbied om verder aan die dossiere te werk.”
“En met goeie rede,” voeg Brummels by. “Jy sien, Sollie, Ivor was een van die speurders wat aan die Slagter-ondersoek gewerk het. En hy het nie goed daarvan afgekom nie. Soos jy weet, is nie een van die sewe moorde ooit opgelos nie. Om nou skielik op ’n whim die Slagter uit die verlede te laat herrys, is nie ’n baie goeie idee vir jou ondersoek nie.”
“Maar die kind se geverfde gesig …”
“Maar niks! Nie totdat jy vir seker weet dis ’n moontlikheid nie.”
’n Swaar stilte hang tussen hulle. Teleurstelling rem aan Sollie se mondhoeke.
“Die saak het Ivor destyds in vele opsigte gebreek,” sê die kolonel oplaas. “Ek weet julle ouens van die stad af floreer op hoëoktaan-sake. Ivor nie. Hier op die platteland is hy beter af. Hy’s oukei met papierwerk. Kapings. Veediefstal. Die odd mesvoorval wat ’n lyk oplewer. Maar nie ’n reeksmoordenaar nie.”
“Ivor kan jou met die donkiewerk help,” beaam Brummels. “Maar die feit bly staan: geen korrelasie kan gemaak word totdat ons nie harde bewyse het nie. Fokus op wat voor jou is – Anneri Woltemade, Kiara Louw en ’n onbekende slagoffer.”
Die kolonel wink die kelner nader. “Kiara se pa het ’n kantoor by sy huis in Bergsig. Ken jy die Groot Plaasjolkonserte, speurder?”
Sollie knik. Natuurlik ken hy dit. Naas die jaarlikse skou en kunstefees in Bloemfontein is dit die grootste gebeurtenis op die Vrystaat se sosiale kalender. “Is Kian Louw daarby betrokke?”
“Ja, sy maatskappy reël dit. Hy bestuur kunstenaars van regoor die land, meestal sangers en akteurs. Selfs orreliste en mense wat vir kinders optree.”
“Ek sien.” Sollie lek oor sy droë lippe en vou die dossier toe. “Ons sal ’n STR-toets op die lykie en Anneri en Kiara se ouers moet doen. Die identiteit van die kind in die koelhouer moet bepaal word sodat ons Anneri en Kiara kan uitskakel.”
“Of bevestig,” kug die kolonel. “Ek sal daarvoor sorg.”
“Waarmee kort jy hulp?” vra Brummels.
Sewentig ratte draai tegelyk in Sollie se kop.
“Daar’s nog een huis in Wardenstraat wie se inwoner nie oopgemaak het toe ek daar was nie, kaptein. Nommer 2.”
“Reg, ek sal daar omgaan.”
“En maak ’n vriend van Ivor, speurder,” sê die kolonel toe hy opstaan. “Soos ek sê, hy is nie ’n slegte ou nie. Maar sake soos hierdie kort ’n man met murg in sy pype. Moenie dat Ivor se groot arms jou bluf nie. Hy is ’n softie.”
“En jy nie,” klop Brummels Sollie op die skouer toe hy ook opstaan.