Читать книгу Middernag - Sidney Gilroy - Страница 13

Hoofstuk 8

Оглавление

Die tweedelaaste voordeur in Wardenstraat waar die speurder met die letsel oor sy gesig aandoen, is dié van Meisie Swart. Maar sy bly salig onbewus van die vinger op die deurklokkie langs die loodglaspaneel voordat hy omdraai en wegstap.

Meisie het weer tot vroegoggend rondgedwaal en nou lê sy snorkend voor die elektriese waaier wat alle klanke uit die buitewêreld demp. In haar droom vee sy sweet van haar voorkop af. Dis nie net ’n droom nie: haar kopkussing en die lakens om haar is natgesweet. Die waaie van haar boarms kleef klam teen haar borste. Harrismith versmag hierdie tyd van die middag in ’n drukkende 34 ºC.

Meisie draai lusteloos om toe die tuinhekkie met ’n skril geluid toeswaai. Dan slaap sy verder. Eers teen skemer sal sy die kollega van die speurder wat vrugteloos die voordeurklokkie met sy pap battery gelui het, inlaat. Nou slaap sy.

Meisie se droom is ontstellend. Sy is naby aan trane, want Middernag is weg – die rondloperkat wat sy só gedoop het. Vandat sy die eerste keer die klein, skugter diertjie agter ’n hoop blare in die agtererf sien wegkruip het, gee sy vir hom kos. Ten minste, wanneer sy haarself so ver kan kry om verder as haar slaapkamer te beweeg.

Middernag het voor haar oë grootgeword. En saam met die ander katte wat mettertyd by hom aangesluit het, is hy haar rede om te lewe. Hy keer telkens terug: die kat wat so donker soos haar gemoed is. ’n Wrang refleksie van die stand van haar bestaan.

Sy rol in die laken totdat dit om haar kuite verstrengel raak. In haar slaap klem haar vuiste saam. Sy is nog kwaad vir hom. Vir Anton. Hoe kón hy doodgaan en haar so op haar eie los?

En nou is Middernag ook weg. Wat bly daar vir haar oor?

Meisie soek huilend na hom. Straataf. Straatop. Die hele dorp. Deur die donga wat King’s Hill met die bodorp verbind. Bo haar mor die N3. Sy druk die riete uit haar pad. Hy moet iewers wegkruip. Alles is dor. Sy dra haar japon. Dit wapper in ’n rukwind en ontbloot haar borste. Die lug is ’n vreemde, helderoranje kleur. En dis warm, só warm.

Sy skrik wakker toe honde oorkant die straat verwoed begin blaf. Deurmekaar vryf sy oor haar slape. Haar kop pyn.

Die geblaf sterf weg.

Toe sy na die muurhorlosie kyk, kom sy tot verhaal. 14:35. Sy sukkel orent uit die dubbelbed. Knoop haar japon om haar middel voor sy die kamerdeur ooppluk.

Die huis lyk skielik vreemd. Asof iemand hier was.

In die kombuis strek sy vir die koffieblik terwyl sy haarself teen die stoof stut. Een kyk in die kas laat haar die deur vinnig toemaak toe sy besef hoe laag die voorraad rys en stampmielies gesak het.

Koffiebeker in die hand drentel Meisie na die voorhuis. Sy gaan sit gapend voor die hoop swart wol, knope, materiaal, potjies akrielverf en halfgemaakte poppe wat oor die eetkamertafel gestrooi lê.

Sugtend kyk sy vir die spul. Sy het nie vandag krag hiervoor nie. Met ’n veeg van haar arm verdwyn die naaste hoop oor die rand van die tafel. Die NG Kerk se jaarlikse welsynbasaar is om die draai en sy kan haarself nie so ver kry om selfs één van die poppe te voltooi nie. Om die naaldekussing versamel ’n kringetjie stof.

Meisie kyk om haar rond. Die res van die huis lyk ook maar oes. Die botteltjie Plush Supreme staan steeds langs die eetservies, by die stoflap waar sy dit ’n week gelede neergeplak het.

Sy drink net die helfte van haar koffie, dwing haarself om die besem en verestoffer uit die kas te gaan haal. Steeds in haar pantoffels beweeg sy van vertrek tot vertrek.

Sy gaan kry die mop en ’n emmer water. Skrik toe sy haar beeld in die weerkaatsing van die glaskas sien. Vir ’n oomblik dink sy dat daar ’n vreemde vrou in haar eetkamer staan. Iemand wat sy nie ken nie. ’n Kort, dik vrou met hangende kalbasse vir borste in ’n japon wat eens pienk was. Vuil voete, ’n geplooide voorarm, ’n hand vol lewervlekke. Die hare yl, grys veertjies wat uitstaan om die breë voorkop.

Die mop voel skielik soos ’n dooie, nuttelose gewig in Meisie se hande.

Uit die hoëtroustel spoel musiek en mense praat. Vriende en familie wat mekaar oor die radiogolwe gelukwens. Verjaardae. Huweliksherdenkinge. Geboortes en dope. Sy luister net met ’n halwe oor, maar toe die bekende liedjie begin speel, kan sy die golf van misnoeë nie meer keer nie. Roy Orbison se baritonstem basuin dit uit: “Anything you want, you got it! Anything at all … Ba-byyy! You got it.”

“I’ve got nothing,” sê Meisie vir haarself.

Sy moet aangaan. Voordat sy weer aan ander dinge begin dink. Dis ’n stem uit die donker wat haar wil insluk. Of ’n spookhuis waarin sy gaan verdwaal.

Dis nie wie sy is nie.

Sy wring die mop hardhandig in die vuil water uit terwyl sy haar onderlip vasbyt. Die herinnering brand soos lemoensap in haar oë.

“Everything about you tells me I’m your man …”

Sy sweer sy sien Anton in die gang staan.

Dit was hulle huwelikslied.

Vies vee sy oor haar nat wange. Dan storm sy met mening op die hoëtroustel af en gee dit ’n skop. Die voorhuis verstil.

Lank staan sy met haar oë toe voor sy vasbeslote na die slaapkamers draai.

In Elsabe se kamer voel dit asof sy op dryfsand beweeg. Haar dogter se kamer lyk nog nes die dag toe sy Harrismith vir Pretoria verruil het om toerisme te gaan studeer. Uiteindelik, in haar derde jaar, het sy saam met Koert die rekenmeester van Kroonstad verdwyn.

Meisie trek die kamerdeur met ’n sug toe.

Rabie se kamer ruik na hom. Naskeermiddel en voosgetrapte rugbyskoene wat in die kas lê.

Rabie gaan nie weer rugby speel nie. In Nederland speel hulle sokker en ski op bevrore gragte in die winter. Nee, hy het nog nie iemand spesiaals ontmoet nie. Die agtienjarige wat aanvanklik voor gewelhuisies of tulplande geposeer het, het verander in ’n man met ’n bril soos sy pa s’n. Peinsend staar hy vir die kamera van agter ’n espresso of in kunsgalerye. Later sluit ’n man by hom aan: ’n Colombiaan met ’n blas vel en donker, krullerige hare. Sy briewe is in ’n taal wat Meisie net bolangs verstaan. Anton het nie eers die moeite gedoen om dit te probeer ontsyfer nie.

In die kombuis drink sy ’n glas water om moed vir die hoofslaapkamer te kry. Die hitte onder die sinkdak voel soos ’n konveksieoond. Sy asem diep in voordat sy die kamerdeur oopstoot. Die deurmekaarste van die lot. Als is uit plek uit. Haar klere van gisternag lê in ’n hopie voor die spieëlkas. Haar elektriese krullers staan oop en bloot.

Op die bedkassie is ’n hoop lekkergoedpapiere, met langsaan ’n leë velletjie van die kalmeerpille wat sy moet drink om te kan slaap. Waar Anton gelê het, bondel ’n vuil handdoek. Hy slaap nie meer daar nie.

Meisie pluk die verfrommelde lakens van die bed af. Sy sal dit moet was.

Sy is lus en tjank. Maar sy kan nie. Nooit kan sy nie.

Wat soek sy nog hier? wonder sy telkens. Sy wil nie doodgaan nie. Maar party dae wil sy. Die boeke sê depressie is ’n swart hond waarteen jy moet waak. Dit is nie so nie. Depressie is jou eie stem wat uit twee teenpole op jou skree.

Sy ruim net die nodigste op en gaan stort. Haar hare kam sy plat langs haar ore af.

Middagete.

Sy maak die kombuiskas oop en haal die rys uit. Rantsoeneer dit met presisie deur die stomp kant van ’n bottermes oor die koppie se bek te trek. Twee koppies per dag.

Sy keer dit in die pot uit, voeg water by en skakel die stoofplaat aan. Die mikrogolf staan langs die vrieskas in die garage. As die finansies weer knyp, sal sy die pandjieswinkel skakel. Dit voel waardiger om die huisraad uit die garage te verkoop.

Sy staar lank na die blikke op die rak voor haar. Daar is Ocean Flavour, Real Beef en Mutton. Sy kies die grootste blik: biefgeur. Sy sny die blik oop en meng die inhoud met die rys wat nog stoom. Dan skep sy dit in gelyke hoeveelhede in vyf pierings uit.

Sy loer deur die kombuisvenster. Die katte is nog nie daar nie. Versigtig stoot sy die agterdeur oop. Sy plaas vier pierings in gelid op die deurmatjie voor sy eergister se vuiles oppik.

Haar oë soek langs die heining af en dan deur die akkerboom se yl blare. Waar is hy? Haar nagmerrie van vroeër proe soos metaal in haar mond.

Sy tuur na die donga agter haar erf, tot waar dit in die verte onderdeur die snelweg verdwyn. Dit moet wees waar hy bly. Waarvandaan hy die eerste keer gekom het.

Sy het eers gedink dis ’n rot tussen die dooie blare, maar toe sy die besem lig om sy kop te verbrysel, het hy vir haar gegrom. Geamuseerd het sy vir die platgetrekte ore en ontblote slagtande gekyk. Dis nie ’n pes nie. Dis maar ’n klein katjie. Hy kan nie meer as ’n paar weke oud wees nie.

Sy hou nie van katte nie. Sy is allergies. Haar oë swel op. Haar keel trek toe.

Sy klem die besem stywer vas. Een veeg en hy is daarmee heen.

Hy hou haar dop met vreesbevange ogies. Iets in Meisie roer. Die katjie is sieklik en honger. Naby opgee.

Sy buk af, steek haar hand na hom toe uit. Sy grom word ’n klaende gekerm. Hy dink sy gaan hom seermaak, doodmaak, en hy wil lewe. Al vat dit wat.

Die Here weet, sy ken die gevoel. Sy voel skielik soos ’n lafaard, want sy het al dikwels snags aan die botteltjie miergif onder die wasbak gedink. Of die houtbalke in die garage. Die skeermeslemmetjies in die badkamerkas. Die kalmeerpille wat sy alles op een slag kan afsluk.

Armoede is niks. Eensaamheid is hel. Jou eie stem word twee mense, soms drie.

Sy het vir hom kos gegee en hy het teruggekom. Weer en weer. Soms in die middag. Soms in die oggend. Elke dag wag sy vir hom.

Eers toe sy ribbes minder uitgestaan het en sy pels in die son begin blink het, het sy gedurf om aan ’n naam vir hom te dink.

Middernag.

Terug in die huis staar sy kort-kort na die venster.

Sy sug verlig toe sy hom eindelik sien aankom. Soos altyd verskyn Middernag uit die niet: ’n donker visioen wat moeiteloos tussen die verskroeide klimoppe, roosbome en aalwyne deur glip en op die agterdeur afpyl.

Die swart hond kan vir eers die aftog blaas. Middernag is nie weg nie, hier staan hy voor haar. Selfs nadat sy hom die afgelope tyd verwaarloos het. En haarself.

Die vyfde piering katkos het begin stol en die vurk rus louwarm op haar tong.

Middernag

Подняться наверх