Читать книгу Susanna M Lingua-keur 15 - Susanna M Lingua - Страница 11
8
ОглавлениеToe die son se laaste strale agter die gesigseinder verdwyn, stap Rista na dieselfde ou boom waar haar en Johan se lewenspaaie vier maande gelede uitmekaar gegaan het.
Soos Johan die aand met sy rug teen die boomstam aangeleun gesit het, gaan Rista nou ook sit, ten spyte van die koue aandlug wat deur haar trui dring.
Veel eerder sou sy wegvlug as om vanaand daardie onaangename gesprek met Pieter te hê.
Sy het al selfs die moontlikheid oorweeg om haar antwoord op skrif te stel en dit aan hom te oorhandig. Maar so iets sal bepaald lafhartig wees, en lafhartig is sy nie. Dit is net dat sy dit nie sal kan verdra om die pyn in sy oë te sien nie – die pyn wat sy maar alte goed besef haar woorde gaan meebring.
“Ag, Vader,” prewel sy, “waarom moet dit nou juis ék wees wat hom so moet folter? Hoe kan ek hom tog daardie pyn bespaar, hy wat my so liefhet? Sy liefde is so edel en opreg. Ek kan nie … nee, ek het nie die moed om hom so te pynig nie!”
Dan dink sy weer radeloos en verwytend: Waarom, o waarom moes ek ooit Pretoria toe kom en hom ontmoet? Het ek tog maar liewer tuis by Oumatjie gebly. Dan het nie een nou seergekry nie, want selfs vir my is dit pynigend om op sy vraag te antwoord.
Agtuur die aand vind Brenda haar nog net so teen die boomstam. Sy is hewig ontsteld om haar vriendinnetjie so laat in die koue nag buite te vind. Daar moet bepaald iets radikaals verkeerd wees met haar, dink Brenda angstig. Dit is mos nie Rista se geaardheid om sulke ongewone dinge te doen nie!
Soos Rista daar teen die boomstam aangeleun sit, lyk sy vir Brenda duidelik soos ’n kind wat straf gekry het.
Sy sak op haar knieë langs Rista neer, plaas haar arms beskermend om haar vriendinnetjie en sag, simpatiek vra sy: “Ag, ou maatjie, is daar iets wat ek vir jou kan doen?”
“Dankie, Brenda, maar op die oomblik kan jy vir my niks doen nie. Dis ’n saak waarmee niemand my kan help nie.”
In haar stem is daar trane en dit ontgaan Brenda se oor nie. Vir die soveelste keer wonder sy wat met die fynbesnaarde Rista gebeur het om haar so te ontstel. Dan sê sy moederlik besorg: “Kom, maatjie, jy kan onmoontlik langer hier buite in die koue vertoef. Laat my toe om jou huis toe te neem, jy is al byna verkluim. In die sitkamer waar dit warm is, kan jy my alles vertel wat gebeur het, indien jy daaroor wil praat.”
In die sitkamer voor die kaggel sit Jurie en koerant lees toe Brenda en Rista die vertrek binnekom. Een kyk na sy vrou se stroewe gesig laat hom gou begryp dat daar fout is met haar vriendin.
Haastig staan hy op en plaas nog twee stoele langs syne sonder om enige vrae te stel. Ook hy voel nou bekommerd oor Rista, want dat sy hewig ontsteld is, ly geen twyfel nie.
Waar Rista nou teenoor Jurie sit, lyk sy vir hom so verwese dat sy hart ineenkrimp van jammerte vir haar.
Dan begin Rista eindelik praat terwyl sy weemoedig na die gloeiende kole staar. “Ek weet nie hoe om julle te vertel nie … dis vir my uiters moeilik!” Sy swyg ’n wyle asof sy besig is om ’n besluit te neem en gaan dan op ’n sagte, weemoedige toon voort: “Ek moet Pieter se liefde van die hand wys. Hy het my vanmiddag gevra om met hom te trou … en tienuur vanaand moet ek hom antwoord.”
Dan sit sy weer etlike sekondes strak voor haar en uitstaar. “Julle twee verag my seker al omdat ek al die mans se liefde van die hand wys. Maar ek kan julle verseker dat ek nie in die minste daarop uit is om hulle op my verlief te maak net om hulle met ’n voldane gevoel weg te stuur nie. Dit was nog telkens vir my ’n pynigende situasie …”
“Luister, Rista, jy moet nooit weer sulke gedagtes oor ons koester nie,” val Jurie haar sag in die rede.
Sy sug. “Ag, Jurie, ek voel soms of ek myself kan haat. Die Vader weet, ek weet nie wat om vanaand vir Pieter te sê nie. Ek sal nooit die teleurstelling op sy gesig kan verduur nie. Waarom moet dit nou juis ék wees wat hom hierdie pyn moet besorg? Pieter sal my dit nooit kan vergewe nie!”
“Luister, maatjie, ek weet Pieter sal verskriklik teleurgesteld wees, want hy het jou ontsettend lief. Maar wat ek ook weet, is dat Pieter baie verstandig is. Hy sal verstaan. ’n Mens het tog immers geen beheer oor die drange van jou hart nie.”
Terwyl Brenda vir hulle gaan tee maak, gaan Rista haarself opknap, want so kan sy tog nie voor Pieter verskyn nie.
Toe sy die kam deur haar krulle trek, dink sy weer hoe graag Pieter altyd met haar krulle speel. Selfs op kantoor is dit al sy gewoonte om spelend met ’n haarkrulletjie om sy vinger agter haar te staan terwyl sy besig is om te tik.
Ja, hulle was nog altyd sulke groot maats en nou moet sy hom ook prysgee, want na dese sal hy haar ook vermy, soos Johan en al die ander. ’n Vriendskap met haar bring net teleurstelling mee.
Saggies trek Rista haar slaapkamerdeur agter haar toe. Dan kyk sy op haar horlosie. Dis kwart voor tien. Pieter sal nou enige oomblik opdaag.
Nadat sy twee pilletjies saam met haar tee gedrink het, voel sy kalmer. Dan hoor sy die voordeurklokkie skril en dringend lui en weet onmiddellik dat dit Pieter is.
Na ’n opgewekte “Goeienaand”, word sy koue hande speels in Rista se nek gedruk. Dan neem hy vir hom ’n stoel en plaas dit langs hare terwyl hy nog steeds in dieselfde luim sê: “Brr, maar dis deksels koud, mense. Ek is byna verkluim.”
Almal skater dit uit van die lag en die atmosfeer is skielik vrolik. Waar Pieter binnetree, neem bedruktheid van enige aard gewoonlik die wyk.
Nadat Pieter ook met ’n koppie warm tee bedien is, neem Brenda en Jurie afskeid van die twee jong mense.
“Ou mense behoort op so ’n koue aand vroeg bed toe te gaan,” werp Jurie sy vriend laggend toe terwyl hy ondeund in die rigting van sy swanger vrou knik.
Nadat Pieter sy leë teekoppie op die tafel geplaas het, skuif hy nader aan Rista en plaas sy regterarm liefkosend om haar smal skouertjies.
Sy staar egter stil en afgetrokke na die knetterende vuur.
Met sy linkerhand onder haar ken, draai Pieter haar gesig na hom en kyk liefdevol af in die dieptes van haar donker oë. “So, dan kry ek nie eens ’n soentjie nadat ek so ver in die koue gery het om by jou te wees nie, nè?” verwyt hy haar glimlaggend.
Sy glimlag stil terug.
Laer en laer sak Pieter se kop totdat sy lippe hare in ’n teer minnaarskus ontmoet. Dan vou hy haar styf in sy arms en druk haar hartstogtelik aan sy bors.
In haar binneste skroei dit van pyn toe sy dink aan die wrede ontnugtering wat nog op hierdie saggeaarde man wag.
Toe Pieter egter sy kop effens lig, staar hy afwagtend af in haar weemoedige oë onderwyl hy met sy asem warm teen haar gesig fluisterend sê: “Jy het nou lank kans gehad om te dink, skat. Ek verlang nou ’n antwoord. Gaan jy my vrou word?”
“O, Pieter, ek wens ek kon,” sê sy sag en weemoedig en kyk dan weg om nie die pyn in sy oë te aanskou nie.
“Rista, my liefling, jy bedoel dit nie!” roep hy verbysterd uit. “Sê dat jy dit nie werklik bedoel het nie, my skat. Toe, sê dit, my dierbaarste! Nee, dit kan nooit wees nie. Ek droom seker.” Hy is bleek onderwyl hy haar moedeloos en met pynbelaaide oë aanstaar. “Ek kon my nie so misgis het nie. Sê dit, liefling … Sê dat jy dit nie werklik bedoel het nie.”
Dan druk hy haar effens stywer teen hom aan terwyl hy haar strak en nog steeds met oë vol pyn en teleurstelling aankyk. Sy lippe is opmekaar geklem en in sy regterwang trek ’n spiertjie aanhoudend.
Rista is daarvan bewus dat haar woorde hom diep getref het en dat hy sy ewewig kwyt is. In die dieptes van haar hart voel sy innig jammer vir hierdie dierbare vriend van haar. Maar sy kan ook niks aan die saak verander nie, óf sy moet hom bedrieg deur ’n liefdelose huwelik met hom aan te gaan. En dit is teen haar beginsels om oneerlik te wees.
Toe Rista haar oë opslaan en weer eens die somber trek op sy gesig sien, spring warm trane in haar donker oë op.
Dan neem sy Pieter se gesig teer in haar twee handjies en sê stamelend, aangedaan, onderwyl groot traandruppels ongestoord oor haar wange rol: “Ag, Pieter, ek wens ek kon die liefde vir jou hê wat jy vir my koester … maar ek besit dit nie. En ek wil jou ook nie bedrieg nie … jy was altyd so ’n dierbare vriend vir my. Dit is vir my net so pynigend om jou so teleurgesteld te sien.”
Dan druk hy haar vir oulaas styf aan sy bors en soen haar hartstogtelik op haar gloeiende, nat wange, en plaas dan ’n lang afskeidsoen op haar sagte lippe wat liggies bewe. Dan stamel hy sag en weemoedig. “Ek begryp, my liefling.”
Hy los haar plotseling en verlaat die vertrek sonder om een keer terug te kyk.
Met die wegsterf van sy voetstappe hoor Rista die voordeur saggies toeklap en daarna weer vaagweg sy kragtige motor wat vinnig voor die deur wegtrek. Dan is alles ineens stil om haar.
Soos ’n veroordeelde sit sy droewig voor haar en uitstaar na die dooie kole wat vroeër die aand nog rooi en lewendig gegloei het. Nou is ook die lewe in hulle geblus, mymer sy verdwaas sonder om ag te slaan op die koue wat besig is om teen haar bene op te kruip.
Hoe lank Rista nog so in die koue vertrek gesit het, weet sy nie. Later hoor sy die huishorlosie slaan en toe eers besef sy dat dit al middernag is, tyd vir haar om bed toe te gaan.
Nadat sy die deure gesluit het, gaan sy saggies en met ’n loodswaar gemoed na haar slaapkamer.
Traag begin sy haar vir die nag verklee, want aan slaap kan sy nie dink nie. Haar gedagtes is gedurigdeur by die ongelukkige Pieter wat op die oomblik in ’n verskriklike stryd verkeer. Dit is al vir haar of sy iets vrees – of sy wag op iets om te gebeur. Selfs nadat sy die bedlamp afgeskakel het, rol sy nog onrustig rond en spits telkens haar ore om die geringste geluidjie wat sy hoor duideliker op te vang.
Twee-uur die môre het sy nog nie ’n oog toegemaak nie. En toe sy die horlosie drie-uur hoor slaan, besluit sy om op te staan en ’n slaapdrankie te drink. Só kan dit darem waarlik nie aangaan nie, besluit sy en skakel die lig voor haar bed aan.
Bibberend van koue gaan sy na die sitkamer om ’n bietjie water in die glas te tap. Dan meng sy die poeiertjie met die water en sluk dit haastig weg. Die koue water laat haar egter kouer voel.
Sy gaan op haar bed sit en wil net haar pantoffels uitskop toe sy die voordeurklokkie dringend en aanhoudend hoor lui.
“Ag, Vader, daar het tog seker nie iets met Pieter gebeur nie,” kreun sy dit uit.
In die eetkamer loop sy haar byna in Jurie vas wat ook in sy kamerjas geklee is en op pad is na die voordeur waar die klokkie nog aanhoudend lui.
Dan neem sy hom senuweeagtig aan die boarm en sê angstig: “O, Jurie, ek hoop tog nie daar is iets met Pieter verkeerd nie, want dit sal alles net my skuld wees.”
“Jy ontstel jou verniet, Rista. Daar sal hoegenaamd niks met Pieter gebeur nie. Hy is mos nie meer ’n kind nie,” voeg hy haar bemoedigend toe, maar diep in sy binneste koester hy dieselfde vrees as sy.
Met ’n hand wat liggies bewe, skakel Jurie die stoep se lig aan en maak dan die voordeur oop.
In die oop deur verskyn ’n konstabel. Na ’n wedersydse “Goeienaand”, begin die geregsdienaar praat: “Meneer Van Zyl, ken jy miskien ’n prokureur met die naam Pieter Myburgh?”
“Alte seker, hy is ’n ou vriend van my en was nog vanaand hier by ons aan huis.”
“Wel, dit spyt my om julle dit mee te deel, meneer Van Zyl, maar meneer Myburgh was vanaand, of sal ek liewer sê vroeg vanoggend, in ’n verskriklike ongeluk betrokke. Sy toestand is kritiek en hy word op die oomblik in die Algemene Hospitaal behandel. Hy het nog nie sy bewussyn herwin nie. Meneer Myburgh se motor het teen ’n trein vasgery op die eerste oorweg naby Pretoria-Noord.”
“My hemel, wat vertel jy my nou, meneer?” roep Jurie geskok uit.
Rista uiter net een wanhoopskreet en sak langs die verbysterde Jurie inmekaar.
Later, in die sitkamer, skink Jurie vir hom ’n drankie en slaan dit met een teug weg terwyl die konstabel besig is om hom in te lig omtrent die ongeluk wat omstreeks eenuur die oggend plaasgevind het.
“Wat ons egter nie kan begryp nie,” gaan die konstabel voort, “is dat so ’n nugter man soos hy so ’n ding gaan aanvang het. Dit is iets wat ons eerder van ’n dronk man sou verwag het.”
“Ja, dit verbaas my self, want Pieter het nooit ’n druppel drank gebruik nie. Maar wat my meer verbaas, is dat hy in daardie deel van die stad verongeluk het. Dit is ook nie eens op sy pad huis toe nie, want hy woon in Waterkloof.”
“Ons kan dit ook nie begryp nie, meneer Van Zyl. Volgens die masjinis het meneer Myburgh se motor reeds op die treinspore gestaan toe die lokomotief om die draai kom. Daar is ook vasgestel dat die enjin van sy motor al koud was. Selfs die motor se ligte was uitgedoof lank voor die ongeluk plaasgevind het, want alles aan die voertuig was koud.”
“Maar dan het die man die ongeluk mos opsetlik bewerkstellig!” roep Jurie geskok uit.
“Juis, meneer, dit is ook ons mening … Het jy enige idee waarom hy so iets sou doen?”
“Wel, sover my kennis strek, sou ek sê dat hy hoegenaamd geen rede gehad het om ’n einde aan sy lewe te maak nie. Behalwe natuurlik … maar ek glo nie dit is juis ter sake nie. Dus, ons kan dit gerus maar laat links lê.”
“Verskoon my, meneer Van Zyl, maar ek sou baie graag wil weet wat jy so pas wou sê. Sien, elke brokkie inligting, hoe gering ook al, mag ons help om die saak op te los. ’n Man moet tog immers ’n motief hê as hy opsetlik so iets aanvang.”
“Wel, ek het maar net aan die moontlikheid gedink en selfs gewonder of dit straks die liefdesteleurstelling kan wees wat Pieter gisteraand ondervind het wat hom tot so ’n afgryslike daad kon gedryf het.”
“Dit is nie onmoontlik nie, meneer,” antwoord die konstabel effens ingedagte en vervolg toe saakliker: “Dat sommige mense ’n teleurstelling van so ’n aard darem so te harte kan neem, is werklik onbegryplik.”
“Ja, nie almal kan so ’n terugslag verwerk nie.”
“Wel, ek hoop meneer Myburgh se beserings is nie van ’n té ernstige aard nie.”
Met daardie woorde staan die konstabel op om te vertrek. Hy kan merk dat Jurie haastig is om na sy ongelukkige vriend te gaan wat in die hospitaal lê en wie se kanse om die lewe te behou uiters gering is.
Nadat die konstabel weg is, trek Jurie haastig aan onderwyl Brenda besig is om ’n oproep na Kroondal te maak om Pieter se familie van die ongeluk in kennis te stel.