Читать книгу Susanna M Lingua-keur 15 - Susanna M Lingua - Страница 21
18
ОглавлениеNa middagete begin al die jong mense hulle gereed maak om mekaar op die tennisbane te ontmoet.
Toe Chris merk dat Rista ook begin aanstaltes maak om na haar kamer te gaan om haar te gaan verklee vir ’n paar stelle tennis, stap hy haastig na haar en sê duidelik teleurgesteld: “Jy gaan tog seker nie ook saamspeel nie, Rista?”
“En waarom moet ek nie ook gaan speel nie? Kom speel jy ook saam.”
“Maar hoe het ek dit nou, Rista? Het jy dan nie gister belowe om vanmiddag vir my op die orrel te gaan speel nie?”
“Ag, ek is vreeslik jammer, dokter. Verskoon my tog. Regtig, ek het skoon vergeet. Natuurlik gaan ek vir jou speel. Sê maar net wanneer jy gereed is,” sê sy verskonend.
“Ek is gereed. Ons kan nou maar gaan as dit jou pas.”
Toe hulle by die voordeur uitstap, merk albei dat Oumatjie en Chris se ouers na die stoep gekom het en nou in die sonnetjie sit en gesels. Dat hulle al drie verheug is oor die vriendskap wat goed op pad is om tussen Rista en Chris te ontstaan, is duidelik te bespeur.
Hulle weet goed dat sy nou vir hom gaan orrel speel. En die gedagte verbly hulle, want waar hulle op die stoep sit, sal hulle die musiek duidelik kan hoor.
Voor die kerkdeur oorhandig Rista die sleutel aan Chris om oop te sluit. Dan tree hulle die stil, ruim gebou binne.
’n Oomblik bly sy stil staan om die byna tasbare stilte om haar in te drink. Dan sê sy sag: “Geniet jy nie ook gewoonlik die stilte in ’n kerkgebou nie, dokter?”
“Ja, en ek is bly om te hoor dat ek ’n maat gekry het wat ook daarvan hou,” glimlag hy.
Dan beweeg hulle geruisloos oor die dik mat wat die paadjie tussen die banke bedek.
Voor die orrel gaan Rista sit. Sy kyk stil na haar hande wat op die toetse rus, asof sy diep ingedagte is, terwyl Chris gemaklik langs haar teen die orrel aanleun. Dan vra sy sag: “Wat sal ek eerste vir jou speel, dokter?”
“Enigiets. Ek laat die eerste keuse aan jou oor.”
’n Paar oomblikke blaai Rista deur die musiekboeke totdat sy eindelik vind waarna sy soek. Sy begin sag speel – nie verhewe en klassieke werke van die groot meesters om haar kennis en tegniek ten toon te stel nie, maar sagte, strelende musiek wat soos ’n ligte windjie deur die leë gebou sweef.
Met bewondering duidelik op sy gesig, staar Chris haar aan.
Die musiekstuk wat sy gekies het is onoortreflik. En die goddelike klanke daarvan tref hom tot in sy diepste wese en voer hom na verre oorde. Sulke musiek het hy nog nooit voorheen beleef nie. Ja, dit is vir hom hemels. Hy sou ure lank daarna kon sit en luister sonder om moeg te word.
Toe die laaste klanke eindelik wegsterf, kyk hy haar sprakeloos aan. “Wonderlik,” kom dit fluisterend toe hy eindelik weer tot verhaal kom. “Dit was volmaak, Rista. Speel nou ’n wiegeliedjie!”
Rista speel byna twee ure lank om aan al sy versoeke te voldoen. Hy is ’n groot liefhebber van musiek en sy kennis is taamlik wyd.
Toe Chris merk dat Rista wil aanstaltes maak om te gaan, vra hy weer pleitend: “Speel vir my nog net een liedjie voor ons gaan, Rista, sal jy?”
“Goed, dokter. Wat sal dit wees?”
Teer kyk hy af in haar donker oë wat hom afwagtend aanstaar en heel sag sê hy: “In my hart sal ek jou altyd bemin.”
Toe Rista die ou-ou liedjie begin speel, begin Chris saggies en gevoelvol saamsing, asof elke woord net vir haar bedoel word. In sy hart sing hy ook elke woord net vir haar, wil hy haar laat begryp hoe innig hy haar bemin, want alleen deur hierdie liedjie kan hy sy liefde op die oomblik aan haar openbaar. Hy durf nog nie sy gevoel in woorde aan haar verklaar nie, aangesien hulle kennismaking nog van té korte duur is.
Rista staan stil op, asof haar gedagtes saam met die laaste note uit die gebou gevlug het. Alles is nou leeg en stil in haar.
Dan hoor sy Chris langs haar sê: “Dankie, Rista, dit was wonderlik. Dit was die genotvolste tydjie wat ek nog op Kroondal beleef het. As jy maar net weet hoeveel plesier jy my vandag verskaf het.”
“Ek stel jou waardering hoog op prys, dokter. Dit verskaf my net soveel genot. Maar wat ek eintlik wou sê, jy het ’n pragtige stem, dokter.”
“Dankie vir die kompliment, Rista. Jy is die eerste een vir wie ek nog ooit gesing het.”
Tuis sluit Rista en Chris by die drie ouer mense op die stoep aan. Saam geniet hulle nou die flou strale van die laatmiddagsonnetjie.
Sy moeder en vader kan Rista nie genoeg lof toeswaai vir die wonderlike klanke wat sy uit die orrel getower het nie.
“Wel, as my musiek dan so geslaag is soos almal vandag wil voorgee, sal ek maar Saterdagaand vir die jongklomp dansmusiek lewer op die klavier om hulle litte mee los te maak,” glimlag sy mevrou Myburgh toe.
Maar voordat die ouer dame iets daarop kan sê, is Chris reeds aan die woord. “Maar dan sal jy mos nie kans kry om self te dans nie, Rista. Nee, ek stel voor dat Ouma ’n klein orkessie kry vir Saterdagaand se partytjie.”
Sowel sy houding as sy woorde bewys duidelik dat hy Rista se voorstel ten strengste afkeur, dat hy dit geensins sal duld dat sy heelaand klavier speel nie.
“Ek glo nie daar is juis iemand wat Saterdagaand gretig sal wees om met my te dans nie, want ek is eintlik ’n ou tonetrapper,” voeg sy Chris plaend toe. “Nee wat, ek dink tog ek moet klavier speel. Laat staan die orkes maar liewer, Oumatjie. Ek sal beter vaar voor die klavier as op die dansvloer.”
“Wel, as jy dan daarop aandring om heelaand te speel, dink ek ek sal beter vaar in die hospitaal as op die dansvloer.”
“Maar, dokter, hier is tog baie ander meisies met wie jy kan dans en wat meer as gretig sal wees om met jou te dans.”
“En as ek sou verkies om nie met genoemde oorgretige dames te dans nie?”
“Wel, ek waarsku jou, ek is ’n tonetrapper van die eerste water,” glimlag sy nog steeds tergerig. “Jy sal dit nie heelaand met my kan uithou nie.”
“Dis vir my om te besluit of ek dit sal kan uithou of nie,” merk hy nog effens gesteurd op. Hy weet sy kan dans. As sy nog nie voorheen saam met Pieter gaan dans het nie, sou hy dit miskien nog geglo het.
Dan snel Ouma hom egter te hulp deur te sê: “Ja, ek dink ook dat ’n klein orkessie die aangewese ding is vir Saterdagaand.”
“Toe, sien jy nou, dis net jy wat ewig stroomop dwing,” glimlag hy selfvoldaan. “Daar hoor jy nou dat selfs Oumatjie my voorstel sekondeer. So, vergeet nou asseblief van die tonetrappery. Ek glo dit tog nie. En as dit wel die geval is, is ek altyd gereed om my tone tot jou diens te stel, juffrou.”
Dan skater Rista van die lag en sê: “Vanwaar die skielike ‘juffrou’, dokter?”
“Wel, jy ‘dokter’ my so dat ek nou maar verplig sal wees om jou ook in die vervolg aan te spreek as ‘juffrou De Vos’.”
“Asseblief nie, dokter. Regtig, as die mense in hierdie huis my moet begin aanspreek as ‘juffrou’, lag ek my skoon siek en dan is daar nog meer werk vir jou. My naam is Rista.”
“Wel, my naam is Chris. En ek verkies ook dat jy my in die vervolg so sal aanspreek,” sê hy met ’n ondeunde flikkering in sy oë.
“Maar nie een van die ander huisgenote noem jou op jou naam nie, dokter, behalwe Oumatjie.”
“Ek het niks met die ander huisgenote te doen nie, Rista. Wat hulle doen of sê, kan my regtig nie die dikte van ’n haar skeel nie.”
“Wel, ek weet nie … Ek glo nie ek sal dit ooit regkry om jou op jou naam te noem nie, dokter.”
“En waarom nie? Jy het Pieter en Jurie tog altoos op hulle name genoem?”
“Ja, dis alles goed en wel, dokter, maar jy besef blykbaar nie dat ek voor Jurie grootgeword het nie. Ek het hom maar gewoonlik as ’n broer beskou. Selfs vandag nog beskou ek hom as die broer wat ek nooit gehad het nie.”
“En Pieter? Jy het tog nie voor hom grootgeword nie, Rista.”
“Jy het gelyk, dokter, ek het nie. Maar jy moet dit ook in aanmerking neem dat jy en Pieter hemelsbreed van mekaar verskil.”
“In watter opsig?”
“Wel, eerstens jou karaktertrekke, jou geaardheid … Pieter is die grappige, opgewekte soort. In sy teenwoordigheid kan ’n mens nie lank vreemd voel nie. Hy laat jou altyd lag.”
“Jy het hom reg opgesom, Rista. Dis net hoe Pieter is – vol plesier. En ek is natuurlik die dooierige soort, nè?” glimlag hy ondeund. Maar hy dink: Pas op, nooientjie, ek is glad nie so dooierig soos ek lyk nie. Jy moet jou geensins met my misgis nie. Ons ouens wat uiterlik kalm lyk, kan soms verbasend baie waag!
Dan hoor hy Rista weer praat, maar haar stem verraai duidelik haar verleentheid. “Wel, ek sal dit nie juis so stel nie, dokter.”
“Nou hoe dan? As Pieter die opgewekte soort is, moet ek bepaald die dooierige soort wees. Jy het dan so pas gesê dat ons twee hemelsbreed verskil.”
“Jy druk dit darem té kras uit, dokter,” glimlag sy meer verleë.
“Nou vertel my, hoe sal jy dit dan uitdruk, Rista?” vra hy nuuskierig.
“Nee, dokter, vra my asseblief nie daardie vraag nie. Ek is nie bereid om dit te beantwoord nie,” probeer sy Chris se vraag ontduik.
Hy kyk haar met ’n tergende blik aan en sê gemaak verontskuldigend: “Ek is jammer, Rista, ek wou jou geensins in die verleentheid plaas nie. Vergeet maar my laaste vraag. Maar moet my asseblief nie weer aanspreek as ‘dokter’ nie. Ek is ’n doodgewone man, net soos Pieter. Al lyk ek miskien vir jou so sedig, het ek darem ’n goeie sin vir humor. Ek is nog glad nie ’n gedroogde pruim nie, as dit miskien is wat jy dink.”
Dan bars almal hardop uit van die lag, behalwe Rista wat net effens flou glimlag.
Sy staan op en gaan staan aan die oorkant van die stoep. Sy leun met haar arms gemaklik op die muurtjie terwyl sy strak na Ouma se blombeddings staar.
Sy kan werklik nie begryp wat haar vandag makeer nie, want die geringste woordjie van Chris bring haar in opstand. Soms is dit vir haar kompleet asof hy daarop uit is om die gek te skeer met haar. Dan voel sy ’n veglus in haar opstyg. Ja, sy voel so lus om hom seer te maak. En tog weet sy dat sy dit nie sal doen nie. Dis of iets haar daarvan weerhou om hom bytend te antwoord.
Nadat Rista opgestaan het, kyk Chris die drie ouer mense vraend en met opgetrekte wenkbroue aan. Toe staan hy vasberade op en sê sag: “Wag, hierdie nukke gaan ek nog uit haar haal.”
Onderwyl sy nog sake so met haarself staan en uitspook, kom Chris agter haar staan, neem haar aan albei arms en swaai haar om. Dan kyk hy haar effens gekrenk aan en vra: “Waarom is jy kwaad, Rista?”
“Ek is nie kwaad nie, dok … Chris,” sê sy berouvol en met ’n stygende blos.
Dan speel daar ’n glimlaggie van bevrediging om sy mondhoeke by die aanhoor van sy naam wat vir hom soos musiek klink uit haar mond. Ook die pragtige blos wat hy op haar gelaat bespeur, betrag hy met genoeë. “Nou goed, as jy dan nie vir my kwaad is nie, kom ry ’n entjie saam met my.”
“Ons kan onmoontlik nou gaan, Chris, want dis byna teetyd.”
“Toe maar, ek sal Oumatjie vra om nie vir ons tee te skink nie. Ons twee kan sommer iewers gaan tee drink. Kom.”
Hand aan hand, soos twee jare lange maats, stap Rista en Chris om die huis in die rigting van die motorhuis waar Chris se motor staan.
Na ’n kwartier se ry nader hulle die kloof net buite die dorp. Chris ry tot by die ingang en hou daar stil.
Etlike minute lank sit en kyk albei na die prag van die bosse en varings in die begroeide kloof. Toe klim Chris uit en hou die deur vir haar oop.
Vraend kyk sy hom aan voordat sy self uitklim.
“Ons gaan so ’n rukkie in die kloof rondkuier,” verduidelik hy glimlaggend. Toe neem hy haar arm en langsaam begin hulle tussen die bosse en rotsblokke deurvleg.
“Dit moet seker heerlik wees hier in die somer,” merk Chris op toe hy die koelte om hom heen betrag en die sagte mostapyt onder hom voel.
“Dit is. Ons hou gewoonlik hier piekniek in die somer. Ons hou selfs vleisbraai-aande hier.”
Na ’n halfuur se stap bereik hulle eindelik die bopunt van die kloof en kan hulle weer die koesterende strale van die sonnetjie op hulle voel neerskyn.
Op ’n tamaai ontwortelde boomstam gaan die twee sit en betrag die wêreld benede hulle. Dan haal Chris ’n klein dosie sjokolade te voorskyn.
“Jy is ’n bedagsame man, Chris. Hoe het jy geweet dat ek op die oomblik lus het vir sjokolade?” glimlag sy verras.
Dan glimlag hy ook en sê: “Ek het maar net geraai, meisie.”
Aandagtig sit hy die bewegings van haar slanke vingers en dophou onderwyl sy die blinkpapier verwyder en die stukkie sjokolade fyntjies in haar mond steek.
Skielik neem hy haar klein handjie in sy hand en vra half ernstig: “Het iemand jou al gevra as dansmaat vir Saterdagaand se partytjie, Rista?”
“Nee, nog nie, Chris.”
“Sal jy my maat wees?”
“Wel, as jy dit so wil hê … Ja.”
Dan gee hy haar hand ’n sagte drukkie, bring dit na sy lippe en druk ’n ligte soen daarop. “Dankie, Rista,” sê hy sag en met ’n uitdrukking in sy oë waaruit sy niks kan wys word nie.
Dan stamel sy laggend, vererg bewus van die ellendige blos wat haar altyd pla: “Ek hoop net ek trap nie jou tone blou nie.”
“Jy kan maar trap, meisie.”
Toe hulle merk dat die son al byna onder is, begin hulle aanstaltes maak om terug te gaan na waar Chris se motor is.
Tuis is hulle ook net betyds vir aandete, want Sondae word aandete gewoonlik vroeg bedien sodat almal gereed kan wees vir die aanddiens. Rista moet gewoonlik vroeër by die kerk wees omdat sy moet orrel speel.
Maar vanaand stap sy nie alleen nie, want toe sy die ontvangskamer binnekom, vind sy dat Chris reeds wag om haar te vergesel.