Читать книгу Susanna M Lingua-keur 15 - Susanna M Lingua - Страница 20
17
ОглавлениеVandag is daar in die losieshuis weer ’n doenigheid, want binne enkele ure sal die Myburgh-gesin tuis wees.
Behalwe Rista, is almal baie opgewonde oor die koms van die gesin. Die meisies is maar te gretig om Ouma te help, want alles word mos vandag uitsluitlik net vir die Myburghs voorberei.
Aangesien dit Saterdag is, bied Rista aan om vir Ouma die groente op die mark te gaan koop. Sy wil tog nie die herontmoeting by die aankoms van die gesin aanskou nie. Al is dit teen Ouma se sin dat Rista afwesig moet wees wanneer die Myburghs daar aankom, laat sy haar tog maar uiteindelik gaan.
Toe Rista later by die hek uitry dorp toe, slaak sy ’n sug van verligting. “Dankie Vader,” laat sy hoorbaar volg. “Nou is ek ten minste uit die gedrang. Dat die mense nou so laf kan wees! ’n Mens sou sê dis ’n koninklike gesin wat vandag verwag word.”
Dan glimlag Rista toe sy daaraan dink hoe maklik sy die “opwindende” ontmoeting ontduik. Vandag ry sy stadig. Daar is geen haas nie. Ouma het tuis nog genoeg groente vir vandag.
In die dorp gaan nuttig Rista eers ’n koppie koffie en koeksisters in die weduwee Nel se kafee. Daarna staan sy nog ’n ruk met die weduwee en gesels, speel so ’n tydjie met laasgenoemde se tweejarige dogtertjie en verlaat dan die kafee.
By die mark beweeg Rista rustig tussen die veelkleurige stalletjies. Hier en daar groet sy ’n bekende en staan ’n wyle met elkeen en gesels. Toe sy later al die nodige groente en vrugte gekoop het waarvan Ouma sorgvuldig ’n lys gemaak het, soek sy vir haarself ’n bossie rose uit. Dan stap Rista tydsaam na haar motor wat voor die markgebou geparkeer is.
Met die bossie rose veilig langs haar, skakel sy die motor aan en ry weg. Op die oomblik voel Rista baie ingenome dat sy byna drie uur gebruik het om Ouma se inkopies te doen. Nou sal die ergste opgewondenheid tuis al oorgewaai het, dink sy en glimlag. Ouma sal beslis gesteurd wees omdat sy so lank gedraai het, maar dit maak ook nie saak nie. Dit sal nie die eerste keer wees nie. Sy weet goed Rista hou nie van so ’n gedrang nie.
Dan draai sy by die hek in en hou agter die losieshuis stil.
Sy word deur die ou dokter en sy gade gegroet. Sy bemerk dat die jong dokter nie teenwoordig is nie en gaan ’n wyle by die twee ouer mense sit en gesels om te hoor hoe dit nou met Pieter gesteld is.
“Rista, jou klein stouterd,” kom dit ergerlik van Ouma wat net die portaal binnekom.”Waar bly jy tog die hele tyd weg, kind?”
“Ag, Oumatjie, daar was soveel ou bekendes dat ek nie juis vroeër kon wegkom nie.”
“Wel, ek stuur jou nie weer om vir my iets te gaan koop nie.”
“Toe maar, Oumatjie-lief,” paai Rista goedig. “Net volgende Saterdag gaan ek weer vir Ouma mark toe. Ek het mos nou uitgevind hoe lekker dit is om groente en goed te koop, en dan koffie en koeksisters in mevrou Nel se kafee te nuttig.”
Die ou dokter en sy vrou lag so lekker dat selfs Ouma ook moet glimlag. “So, ek sit hier vir jou en wag en al die tyd sit jy doodluiters by mevrou Nel en koffie drink …”
“Hoekom het Oumatjie dan vir my gesit en wag?”
“Vir die groente, natuurlik.”
“Nee, Oumatjie het nie die groente nodig gehad nie, want sien, ek het eers seker gemaak hoeveel groente Ouma nog in die kombuis het voordat ek mark toe is.”
“Wel, laat ek jou dit vertel, meisiekind, dit sal die laaste keer wees dat jy vir my iets gaan koop.”
Dan staan Rista op, plaas haar arms liefderik om Ouma se nek en vra kinderlik onskuldig: “Is Oumatjie nou kwaad vir haar stoute dogter?”
“Ek moes nou eintlik vir jou kwaad gewees het, jou klein vabond,” voeg Ouma haar bestraffend, maar tog glimlaggend toe.
“Wel, as Oumatjie dan nie meer vir my kwaad is nie, gaan ek gou eers my rose in die motor haal. Julle sal my mos verskoon, nè?”
Maar voordat een kan antwoord, is Rista by die deur uit en op pad na haar motor.
“Jy het ’n liewe ou dogtertjie, Ouma,” kom dit opreg van die ou dokter toe Rista se voetstappe wegsterf.
“O, Pappie, sê nou net sy was ons s’n!”
“Dan was jy natuurlik die trotsste moeder suid van die ewenaar, my ou vroutjie.”
“O, ek sou nie net trots gewees het nie … Ek sou haar so verwen het. Sy sou alles gekry het wat haar ou hartjie …”
“Ja, maar dan sou sy nie vandag so ’n liewe geaardheid gehad het nie, vroutjie. Ook maar goed dat sy nie joune is nie,” val ou dokter Myburgh sy gade laggend in die rede.
Dan maak Rista weer haar verskyning met die pragtige bos rose in haar hand. “Is dit nie mooi nie?” glimlag sy vir die drie ouer mense op die rusbank onderwyl sy die blomme na hulle uithou.
“Pragtig, my kind,” kom dit van mevrou Myburgh wat ook ’n liefhebber van rose is.
“Dit is seker vir jou kamer,” raai ou dokter Myburgh.
“Reg geraai, dokter. Hulle gaan op my kleedtafel pryk.”
Onderwyl Rista in die kombuis die rose in ’n geslypte glasbak staan en rangskik, neurie sy sag. Dit is ’n werkie waarvan sy vreeslik baie hou. Sy streel eers liggies met haar hand oor die fluweelsagte blare voordat sy die laaste roos liggies tussen sy maats indruk.
’n Oomblik bewonder sy die sagte kleure voor haar in die bak voordat sy dit na haar kamer neem.
Deur haar kamervenster merk sy dat byna al die loseerders by die tennisbane vergader het. Sy bespeur die fors gestalte van die jong dokter ook in die groep. Sy sien dat hy nog in gewone drag geklee is.
Weggesak in ’n gemaklike leunstoel, sit Rista met ’n boeiende roman op die voorstoep in die sonnetjie en bak. Sy word so meegevoer en leef haar so in met die heldin in die boek dat sy nie eens die groep tennisspelers sien toe hulle by haar verbystap na hulle kamers nie.
Etlike minute lank staan Chris haar met gemengde gevoelens op ’n afstand en betrag. Waar sy met haar een been onder haar ingevou sit, lyk sy vir hom die onskuld self. Ja, haar uiterlike lyk bepaald onskuldig, maar wee haar innerlike wreedheid. Snaaks, maar wat sy Pieter aangedoen het ten spyt, kan hy tog nie sy oë van haar afhou nie. Dis of haar uitsonderlike skoonheid ’n mens soos ’n magneet aantrek, jou boei en jou totaal teen jou wil gevange hou, staan Chris en dink. Hy besluit om nader te stap en haar te groet.
Toe sy skaduwee oor die boek val, kyk Rista langsaam op. Dan ontmoet haar donker oë die blouste oë wat sy nog ooit aanskou het. Etlike sekondes lank hou hulle oë mekaar gevange. Dan laat sy hare stadig sak.
Hoflik buig Chris vooroor en reik haar die hand voordat sy opstaan. “Steur ek jou, Rista?” vra hy vriendelik toe hy skuins voor haar op ’n stoel gaan sit.
“Glad nie, dokter, sit maar gerus. Ek was juis van plan om my lesery te staak.”
“Waar was jy vanoggend met ons tuiskoms?”
“Wel, ek moes vir Ouma gaan groente koop op die mark.”
“En het dit jou toe so lank geneem net om ’n bietjie groente te koop?”
“Hoe weet jy hoe lank ek weg was, dokter?” glimlag sy geamuseerd.
“Ek het gesien hoe laat jy teruggekeer het. Waarom probeer jy ons vermy, Rista?”
“Ek probeer julle nie vermy nie, dokter.”
“O ja, jy doen dit. Waarom het jy dan vanoggend so vroeg gaan groente koop wanneer jy dit net sowel ’n uur later kon gaan koop het?”
“Wel, dit was nie juis bedoel om jou en jou ouers te vermy nie. Ek hou net nie van ’n gedrang nie en ek het geweet dat die koms van die Myburgh-gesin ’n hele opgewondenheid gaan afgee. Daarom het ek ’n paar minute langer vertoef as wat nodig was – om die atmosfeer ’n kans te gee om weer normaal te word.”
“So, dan hou die nooientjie nie van ’n gedrang nie! Wel, ek ook nie. Maar wat dan van jou een en twintigste verjaardagpartytjie volgende Saterdag? Sal dit dan nie ook ’n gedrang afgee nie?”
“As jy maar net weet hoe teen my sin ek daardie partytjie gaan bywoon. Maar ek moet dit doen net om Oumatjie nie teleur te stel nie,” glimlag sy flou terwyl haar oë in die verte bly.
Beslis oë waarin ’n mens baie drome verlore sien lê, soos Pieter hulle beskryf het, dink Chris en weer vra hy: “Het jy planne om vanaand uit te gaan?”
“Wel, dit hang af of my vriendin nog daardie Afrikaanse rolprent wil gaan sien. Ek het haar reeds gister belowe dat ek haar vanaand sal …”
“Jou vriend of vriendin?” val hy haar weer eens sag in die rede met ’n tikkie jaloesie in sy stem.
“Ek het gesê my vriendín, dokter.”
“Hoe sal jy weet of jou vriendin nog vanaand daardie rolprent wil gaan sien, Rista?”
“Sy sal my later bel.”
“Wel, ek hoop sy bel nie.”
“Ek is bevrees jou hoop gaan verydel word, dokter. Sy sal my bel. Ons het gister so afgespreek.”
“Sal jy dan môreaand tuis wees om vir ons ’n bietjie musiek te maak?”
“Jy vergeet dat dit môre Sondag is, dokter, en dat ek môreaand kerk toe gaan.”
“Nou wat van oormôreaand?”
“Dan is dit kooroefening en moet ek weer die orrel speel.”
“Maar sal daar ooit een aand wees wat jy sal tuis wees? Wat van Dinsdagaand?”
“Ook nie, dan moet ek na mevrou Coetzee toe gaan. Ons wil ’n naaldwerkklas organiseer.”
“En Woensdagaand?”
“Wel, dan moet ek weer ’n debat bywoon.”
“En Donderdagaand?”
“Donderdagaand is daar weer ’n Jong Dames Dinamiek-vergadering.”
“En Vrydagaand? Seker weer iets anders, nè?”
“Ja, dan moet ek Oumatjie help met die voorbereidings vir Saterdagaand se doenigheid.”
“Ek het so kon dink,” merk hy duidelik teleurgesteld op. Hy het so gehoop om haar vanaand al te hoor speel, aangesien Pieter hom vertel het van haar talentvolle klavier- en orrelspel.
Dan hoor hy die telefoon in die ontvangskamer lui. Hy weet dat dit Rista se vriendin is wat bel.
Na ’n oomblikkie maak sy moeder haar verskyning in die deur en ontbied Rista na die telefoon. Dan neem sy Rista se sitplek in en sê duidelik verheug: “Ag, Chris, is sy dan nie ’n liewe klein skat nie? Ek is tog so bly om te sien dat julle besig is om kennis te …”
“Toe maar, my ou moedertjie,” val hy haar glimlaggend in die rede. “Dit is vir my heel duidelik wat Ma se hartsbegeerte is. Ma hoef dit nie eens te sê nie. Ek weet sy is mooi, besonder mooi, die mooiste meisie wat ek nog gesien het. Maar nou is die vraag nog: Is sy van binne net so mooi?”
“O, Chris, jy gaan my en jou pa nie teleurstel nie. Jy het haar tog lief, my kind, het jy nie?” vra sy ernstig en pleitend.
“Ja, my ou moedertjie, ek het haar so lief dat ek met elke druppel krag daarteen moet veg,” antwoord hy effens afgetrokke terwyl hy strak na die kerkgebou oorkant die straat sit en staar.
“O, my kind, jy maak my hart so bly!” sê sy verheug.
Dan maak Rista weer haar verskyning, gaan sit op die leuning van die ouer vrou se stoel en plaas haar arm speels om laasgenoemde se nek.
Chris is die eerste wat weer praat. “Wel, wat sê die vriendin, moet jy haar nog vanaand vergesel om daardie rolprent te gaan sien?”
“Ja, dokter, ek het jou mos gesê ek is bevrees jou hoop gaan verydel word.”
“Ag nee, jy gaan tog seker nie vanaand uit nie, kindjie?” kom dit teleurgesteld van die ouer dame.
“Ek is bevrees ek sal moet, mevrou. Ek het Elna gister belowe ons sal vanaand gaan fliek en ek kan onmoontlik nou kop uittrek. Ek hou ook nie daarvan om my woord te breek nie.”
“Dis nou regtig jammer. Ek het so daarna uitgesien dat ons almal vanaand bymekaar gaan wees.”
“Toe maar, mevrou,” paai Rista terwyl sy een van haar bekoorlikste glimlaggies te voorskyn toor. “Môre is ons heeldag bymekaar en môremiddag gaan speel ek vir julle op die kerkorrel …”
“Maar het jy nie flussies belowe om môremiddag vir my te gaan speel nie, Rista?” val Chris haar sag, verwytend in die rede.
“Wel, dit maak mos geen verskil nie, dokter. Ek speel tog vir jou ook.”
Dan kyk hy haar betekenisvol aan en sê: “Aan my maak dit tog wel saak, weet jy?”
“Goed, dan sal ek môremiddag vir jou speel. Ek het jou eerste belowe.” Liggies streel sy met haar hand oor die ouer vrou se grys hare en sê verskonend: “Julle gee mos nie om as ek vir julle en die ander op ’n later geleentheid speel nie, nè?”
“Wel, aangesien jy Chris nou eerste belowe het, sal ek maar tevrede moet wees om te wag. Maar ek moet sê ek brand al om jou te hoor speel.”
“Mevrou gaan straks teleurgesteld wees.”
“Ek wonder, kindjie. Ek het ’n voorgevoel dat dit my verwagtinge gaan oortref.”
“Wel, ons sal sien,” antwoord sy beskeie.
Na ete, terwyl Rista haar gaan verklee, sit Chris stil en eenkant tussen die geselsende groep in die ontvangskamer.
Verskeie kere probeer ’n paar van die jong meisies om sy aandag te trek deur ’n geselsie met hom aan te knoop, maar al hulle pogings misluk hopeloos. Chris bly meer afgetrokke, want op die oomblik voel hy bitter teleurgesteld dat Rista vanaand moet uitgaan. Vanoggend toe hulle teruggekom het, was hy net so teleurgesteld toe hy vind dat sy nie daar is nie.
Hy kan sy eie gevoelens ook nie meer verklaar nie, want ten spyte daarvan dat hy nog sy broer se ongeluk op haar wil wreek, het hy haar innig lief.
Geklee in ’n netjiese langbroek en ’n bypassende warm trui, haar swart hare golwend en glansend tot op haar skouers, kom Rista die ontvangskamer binne.
Daar kom weer lewe in die afgetrokke Chris. Hy trek sy asem diep en hoorbaar in. Telkens dink hy dat sy nou op haar mooiste lyk, net om die volgende keer te vind dat sy werklik nog mooier lyk as die vorige keer.
Hy staan vinnig op, stap na haar toe en sê: “Gee jy om dat ek jou tot by jou motor vergesel, Rista?”
“Dankie vir jou bedagsaamheid, dokter,” glimlag sy hom vriendelik toe.
Opgewek wens sy almal ’n goeie nag toe en saam verlaat sy en Chris die ontvangskamer.