Читать книгу Susanna M Lingua-keur 15 - Susanna M Lingua - Страница 15

12

Оглавление

Op kantoor die volgende oggend gaan die tyd veels te stadig na Rista se sin verby. Sy is haastig om haar besluit aan Pieter mee te deel – haar besluit om met hom in die huwelik te tree sodra sy toestand dit toelaat.

Maar dit is vir haar al of die gedagte aan ’n huwelik met hom haar weemoediger stem vanoggend.

Sy kan dit egter nie begryp nie, want so ’n gedagte behoort haar tog opgeruimder te laat voel – die gedagte dat sy hom daardeur gelukkig gaan maak.

Nee, nou begryp sy haarself ook nie meer nie. Dit is tog nie die geval dat haar gevoelens teenoor hom verander het nie. Inteendeel, dit het verdiep nadat hy in die ongeluk betrokke was.

Nee, sy moet hom so gou moontlik van haar besluit verwittig. Vandag nog moet hy dit weet.

Ofskoon sy hom nie liefhet nie, voel sy tog besonder teer teenoor hom. Haar eie geluk is nie op die oomblik ter sake nie. Dis sý geluk waarmee nou rekening gehou moet word, sy gevoelens wat sy in ag moet neem, want ’n herhaling van nou die nag se gebeurtenis wil sy tot elke prys vermy. Sy wil onder geen omstandighede aanspreeklik voel vir Pieter se dood nie.

Dan merk sy dat dit al elfuur is en sy besluit om Pieter dadelik te gaan spreek. Maar ineens val dit haar by dat sy Pieter nie bedags alleen sal vind nie, aangesien sy familie feitlik heeldag by hom vertoef. En sy sal hom alleenlik oor hierdie saak kan spreek sodra sy hom alleen te sien kry. Vir haar is dit ’n uiters delikate saak wat privaat bespreek moet word, omdat dit nie vir ander se ore bedoel is nie.

Plotseling word haar gedagtes gesteur deur die buitedeur van haar kantoor wat op knip gedruk word. Dan staak sy onmiddellik haar getik.

Toe sy vinnig opkyk, sien sy Brenda na haar lessenaar toe aangestap kom. Glimlaggend roep Rista uit: “Jy is net betyds vir tee!”

“Ja, tee sal nogal heerlik wees,” glimlag Brenda terug en vervolg dan nadat sy teenoor Rista plaas geneem het. “Maar sê my eers, het die nuwe tikster dan nog nie opgedaag nie?”

“Nee, hier was nog geen lewende wese nie.”

“Twee het vanoggend by Jurie op kantoor gaan aansoek doen om die vakansiebetrekking, en die bekwaamste een het hy toe hierheen gestuur.”

“Wel, soos jy sien, het hier nog nie so ’n dame opgedaag nie. Maar laat haar gerus kom. Glo my, ek sal haar deeglik in die werk steek.”

Brenda glimlag. “Luister, sy sal natuurlik nou enige oomblik hier aanland. En aangesien jy so vasberade is om haar goed in te span, sal ek dan maar wag tot sy aankom, dan kom jy saam met my inkopies doen.”

“So, dan is dit waarom jy vandag in die stad is en my kom vereer met so ’n vriendelike besoekie …”

Maar voordat Rista nog haar sin kan voltooi, hoor hulle ’n klop en daarna word die deur saggies oopgestoot. Die nuwe tikster, ’n lang, skraal blonde meisie, kom huiwerig die kantoor binne en stel haarself aan Rista bekend.

“Aarde, ek was so bang dat ek dalk nie die regte plek sou vind nie, juffrou De Vos,” sê Elise Marais later duidelik verlig.

“Vergeet die ‘juffrou’ en noem my Rista, Elise. Ons sal twee weke moet saamwerk. En as ons mekaar gaan ‘juffrou’ die hele tyd, sal die atmosfeer maar ongesellig wees,” merk Rista vriendelik op en vervolg toe weer: “En wat meneer Van Zyl betref … Wel, jy sal hom maar moet vergewe dat hy so skandelik vergeet het om jou die nommers van ons kantore te gee. Jy weet natuurlik nog nie dat hy op die oomblik sowel meneer Myburgh as sy eie sake behartig nie. Hy het darem werklik nou sy hande so vol dat ’n mens hom ook nie juis kan kwalik neem as hy iets vergeet nie.”

“Gits, maar dan moet hy mos verskriklik besig wees, Rista.”

“Dit kan jy glo. Maar laat ek jou eers aan sy vrou bekendstel.” Nadat Rista hulle aan mekaar bekendgestel het, voeg sy Brenda weer toe: “Luister, maatjie, is dit moontlik dat jy nog tien minute kan wag?”

“Wel, wat kan ek anders doen? Ek sal maar eenvoudig moet wag,” lag Brenda.

Die kantoordeur gaan weer eens oop en ’n teemeisie kom die vertrek binne met twee koppies tee.

Nadat Rista haar gevra het om nog ’n koppie tee te bring, sê sy aan Elise: “Ek is bevrees ek gaan jou ’n uur of wat alleen laat, Elise.”

“Dis alles in die haak, Rista. Sê my net wat ek moet doen terwyl jy weg is.”

“Ek sal meneer Van Zyl eers moet bel en hoor of die dagvaardings van die getuies in die Schoeman-saak vandag al uitgereik moet word. Dan kan jy dit solank tik onderwyl ek mevrou Van Zyl stad toe vergesel.”

Sy skakel Jurie se kantoor en sê: “Hallo! Kan ek meneer Van Zyl spreek, asseblief?” Na ’n tydjie hoor sy Jurie se stem. “Hallo, Jurie, dis Rista hier. Luister, wat omtrent die dagvaardings vir getuienis in die Schoeman-saak? Moet ek dit vandag laat uitreik? Goed … Ja, sy is al hier. Brenda is ook hier. Ons twee gaan juis nou stad toe. Maar sê my, het jy Pieter al vanoggend gesien? … Ek is werklik bly om dit te hoor. Gaan sy familie hom besoek? … Gaaf, nadat sy ouers hom vanoggend besoek het en Chris weer vanmiddag, sal ek hom vanaand gaan besoek … Maar dit maak mos nie saak nie, Jurie. Julle twee kan gerus maar gaan. Ek wil Pieter graag vanaand spreek … Ag, nee wat, maak maar vir my verskoning, Jurie. Sê vir hulle ek kom hulle op ’n ander dag besoek … Dankie. Tot siens.”

“Dis hoog tyd dat julle nou end kry,” kom dit gemaak ongeduldig van Brenda, maar sy vra nietemin nuuskierig: “Wat klets julle so van besoeke en verskonings?”

Rista plaas haar arm om Brenda se lyf en sê ewe kalm: “Jurie vertel my nou dat die Myburghs ons genooi het om die aand by hulle te gaan deurbring. Maar ongelukkig kan ek julle nie vanaand daarheen vergesel …”

“En waarom kan jy nie saamgaan nie?” val Brenda haar effens streng in die rede.

“Luister, maatjie, ek moet Pieter vanaand gaan besoek. Daar is ’n sakie wat ek graag vanaand met hom wil bespreek.”

“Maar, Ristatjie!”

“Nee, maatjie, ek weet wat jy wil sê. Maar glo my, ek kan dit nie langer uitstel nie. Daardie sakie moet vanaand in die reine gebring word.”

“Rista, nee, jy mag dit nie doen nie. Jy sal tog nooit daardeur gelukkig wees nie. Jy gaan net jou eie geluk verongeluk,” sê Brenda byna pleitend.

“Ek besef dit wel deeglik, maatjie. Maar mý geluk is op die oomblik vir my van minder belang.”

“O, Rista, jy doen jouself ’n skreiende onreg aan.”

“Moet jou nie so ontstel nie, my hartjie. Ek weet wat ek doen. Kom, ek is gereed, ons kan maar gaan.”

Nadat Rista en Brenda die kantoor verlaat het, begin Elise in aller yl werk. Sy is werklik getref deur die wyse waarop Rista Jurie en sy vrou aanspreek, want nog nooit het sy ’n tikster so hoor praat met haar werkgewer se vriend nie. En uit hulle gepraat kan sy aflei dat die Pieter wat Rista vanaand in die hospitaal gaan besoek, hulle werkgewer moet wees. In die koerant is sy naam as Pieter Myburgh aangegee. So, dan noem Rista selfs haar werkgewer op sy voornaam! Wel, hulle is seker maar almal ou vriende, besluit sy. Maar sy is darem wraggies mooi, die mooiste mens wat sy nog gesien het. Sy wonder … Hemel, kan dit wees? Sou dit oor haar wees dat meneer Myburgh sy lewe wou neem? Wat het mevrou Van Zyl nou weer gesê van “jou geluk gaan verongeluk”? Dit moet seker wees. Wel, sy is darem wragtie ook so mooi dat enige man hom om die lewe sou bring vir haar. Dit verbaas haar nou glad nie meer dat meneer Myburgh so iets aangevang het nie. As sy ’n man was, sou sy net dieselfde gedoen het as sy haar nie kon kry nie.

Dan begin Elise weer haastig tik. Sy wil graag ’n klomp werk afgehandel hê voordat Rista terugkom. Sy is so gaaf en vriendelik, ek sal nie graag in haar onguns wil raak nie, dink Elise weer met ’n glimlaggie.

Toe die horlosie die middag vyfuur slaan, neem Rista en Elise hulle handsakke en verlaat die kantoor.

Nadat Rista die deur agter hulle gesluit het, sê sy aan Elise wat ’n entjie voor haar uitstap: “Waarom so haastig, Elise?”

“Wel, ek moet my maar haas, aangesien ek nog nie weet hoe laat daar ’n bus vertrek nie.”

“Maar ek neem jou mos vanmiddag huis toe.”

“Nee, Rista, ek gaan nie toelaat dat jy sulke moeite doen om my ontwil nie.”

“Luister, Elise, jy sal saam met mý huis toe gaan en nie met die bus nie. Is dit duidelik?” sê Rista vasberade.

“As jy dan so daarop aandring, sal ek seker moet instem,” glimlag sy dankbaar.

Toe hulle later in die motor klim, vra Rista: “Waar woon jy, Elise? Verbeel jou, ek is vasberade om jou huis toe te neem en ek weet nie eens waar jy woon nie,” glimlag sy.

“In Beatrixstraat, Rista. Tussen Kerk- en Pretoriusstraat. Maar jy moet regtig nie hierdie moeite gedoen het nie, jong.”

“Dit is vir my geen moeite nie, Elise. Weet jy, dit is nogal op my pad huis toe. Nee wat, jy kan maar gerus elke môre en middag saam met my ry.”

“Wel, as dit nie vir jou ’n draai is nie, sal ek met graagte saamry. Dankie.”

Met ’n laaste groet ry Rista se motor vinnig voor Elise se deur weg. Nou is sy weer die haastige Rista wat nog moet gaan klaarmaak om vanaand hospitaal toe te gaan.

Susanna M Lingua-keur 15

Подняться наверх