Читать книгу Susanna M Lingua-keur 15 - Susanna M Lingua - Страница 8
5
ОглавлениеIn die deftige kantoor met sy stinkhoutlessenaar, sagte tapyte en skilderye sit Pieter agter sy lessenaar. Hy het vanmôre vroeër gekom as ander oggende. Nou sit hy op Rista en wag.
Dis tien voor nege. Dan hoor hy ’n sagte kloppie aan sy kantoordeur. “Binne!” roep hy uit.
Geruisloos gaan die deur oop. In die oop deur staan Rista. Sy is geklee in ’n donkerrooi baadjiepak wat fraai afsteek teen haar raafswart krulle en besonderse roomwit vel.
Haastig staan Pieter op van waar hy die afgelope halfuur al sit, groet haar vriendelik en sê duidelik verlig: “Ek is bly jy het gekom, Rista. Reken, ek was nogal bevrees jy kom straks nie!”
“O, het jy gedink ek sal my eers in die namiddag kom aanmeld?” glimlag sy plaend.
“Wel, om die waarheid te sê, ek het gedink jy gaan glad nie kom nie.”
“En wat het jou so laat dink, Pieter? Is ek laat?”
“Glad nie. Jy is nogal stiptelik. Dis net … wel, julle vroumense kan so gou en op so ’n ongeleë tydstip van opinie verander dat ’n mens nie juis op julle kan peil trek nie.”
“Jou kennis aangaande die vroulike geslag is maar beroerd, Pieter. As een jou ’n streep getrek het, kan jy tog nie teenoor almal wantrouig wees nie. Of verwag jy miskien dat al wat vroumens is moet boet vir een se sondes?”
“Glad nie. Vergeet gerus wat ek gesê het, Rista. Ek het dit darem werklik nie so erg bedoel nie. Ek was maar net ongeduldig om jou weer te sien, om te weet dat jy regtig in my kantoor is en dat ek jou voortaan elke dag by my sal hê.” Dan merk hy dat hy te veel gesê het en verander gou die gesprek deur te vervolg: “Maar kom, ek wil jou graag al die kantore gaan wys.”
Al geselsend verlaat hulle sy kantoor.
Eers neem Pieter haar na ’n klein kamertjie waar die mure feitlik net uit rakke bestaan en waar al die ou lêers gehou word.
Dan neem hy haar weer na die aangrensende kantoor waar haar lessenaar staan en wat langs sy eie geleë is, met ’n glasdeur wat die twee kantore verbind.
Op die hoek van haar lessenaar is daar ’n stapel lêers en langs die rekenaar staan die telefoon. Op die vensterbank pryk twee weelderige groen varings wat ’n bietjie kleur aan die vertrek verleen. Dan is daar ook ’n rusbank en twee gemakstoele wat besaai lê met tydskrifte. In die een hoek staan ’n klein kabinet wat veronderstel is om die tydskrifte te huisves.
In ’n paar oomblikke neem Rista die wanorde waar en besluit om gedurende die etensuur die vertrek ’n bietjie op te knap. Dat die kliënte nog nie verdwaal geraak het tussen die menigte tydskrifte nie, is vir haar ’n raaisel.
“Ek is bevrees die vorige tikster het die werk laat ophoop,” hoor sy hom verskonend verduidelik terwyl hy die lêers op haar lessenaar deurblaai.
Agter die lessenaar met die hoop lêers voor haar, voel Rista eers bitter ontuis. Op die oomblik kan sy nie besluit of sy maar eers die dagvaardings moet tik of eers die petisies aan die hooggeregshof nie.
Toe Rista die opgehoopte werk byna voltooi het, hoor sy die klokkie wat haar na Pieter se kantoor ontbied. Natuurlik nog briewe, dink sy senuweeagtig. Nou is sy ineens bevrees dat sy dalk die regsterme en sekere Latynse woorde verkeerd mag spel, want sy het juis so lank laas briewe afgeneem. En om die naarheid te kroon, het sy Pieter vroeër met ’n ander man hoor praat van aktes waarvan sy ook geen kennis dra nie – sy begryp nie eens wat die woord beteken nie.
Met potlood en aantekeningboek in die hand tree sy Pieter se kantoor binne waar hy doodkalm agter sy lessenaar sit, onbewus van die spanning waarin sy verkeer.
Nadat sy haar plek op die stoel teenoor hom ingeneem het, met haar aantekeningboek voor haar, is hy oorgehaal om te dikteer.
Terwyl hy dikteer, sit hy haar effens geboë kop met die golwende swart massa aandagtig en betrag sonder dat sy daarvan bewus is.
Vinnig en met ’n sagte geskraap gly haar potlood oor die papier.
Nou bewonder hy weer haar slanke vingers. Dan dwaal sy blik af na haar enkels en haar voetjies in die swart hoëhakskoene. Ja, alles wat die nooientjie Rista uitmaak, is fyn en delikaat.
Haar fynbesnede neus, haar oulike skulpoortjies, haar sagte donkerbruin oë, haar rooi lippies wat soos ’n pas ontluikte roosknop vertoon, hou Pieter se aandag gevange waar hy haar van agter sy lessenaar betrag.
Op die oomblik het hy net een begeerte – om daardie sagte, aanloklike lippies van haar teen syne te voel. En hy moet geweldig hard veg om dié drang te onderdruk. Hy kan dit nou eenmaal nie bekostig om hierdie sekretaresse te verloor nie, wat gewis die geval sal wees indien hy haar ineens oorweldig met sy liefkosings.
Terug in haar kantoor hoor Rista in die verte bo die gedruis van voortsnellende verkeer vaagweg ’n horlosie slaan. Werktuiglik kyk sy af na haar polshorlosie en merk dat dit al eenuur is. Tyd vir middagete, dink sy.
Dan maak Pieter ook sy verskyning in die deur en kuier langsaam in die rigting van haar lessenaar. “Gaan jy saam met my iets eet, Rista?” vra hy vriendelik.
“Ek glo nie, Pieter. Ek wil graag eers die kantoor ’n bietjie opruim. Dit lyk of ’n orkaan hierdie vertrek getref het.”
“Ja, dit lyk nie te netjies nie, nè?” sê hy effens verleë en ongemaklik. “Maar jy kan altyd later opruim, Rista. Wat op die oomblik van meer belang is, is dat jy nou jou inwendige moet versterk. ’n Mens se brein kan nou eenmaal nie reg funksioneer op ’n leë maag nie.”
Met ’n tegemoetkomende glimlaggie besluit sy om maar sy uitnodiging aan te neem. Dis mos nie elke dag dat ’n sekretaresse deur haar werkgewer genooi word vir middagete nie. Sy kan maar net sowel daarvan gebruik maak. Hulle was immers vriende voor sy vir hom kom werk het. Waarom nou skielik minderwaardig voel teenoor hom?
Pieter neem haar na een van Pretoria se deftigste restaurante. Net die allerbeste is goed genoeg vir haar, besluit hy.
Terug in die kantoor spring Rista dadelik aan die werk en begin die vertrek opruim. Vir haar wat van kindsbeen af gewoond is aan netheid, is dit pynigend om haar werkplek in so ’n warboel te sien. In die vervolg sal sy self toesien dat albei kantore netjies en aan die kant is.
Toe haar taak eindelik afgehandel is, staan sy haar handewerk krities en bekyk. ’n Vaas met blomme is al wat nog makeer, maar daarvoor sal ek môre sorg, besluit sy.
Agter haar lessenaar is Rista druk besig. Haar aandag is ten volle toegespits op die brief waarmee sy besig is. “So ja,” sug sy van verligting toe sy dit afgehandel het. “Nou eers daardie hooggeregshofsaak.”
Maar dan vind sy dat die dokument in die brandkas is waar al die belangrikste dokumente gehou word.
Nou sal sy eers na Pieter se kantoor moet gaan om die dokument te gaan haal, want dis noodsaaklik en moet vandag afgehandel word. Môre moet hy en ’n advokaat die saak in die hooggeregshof gaan verdedig.
Toe Rista haar werkgewer se kantoor binnetree, vind sy dat hy nog steeds besig is met sy onaansienlike, middeljarige kliënt.
Op die oomblik is die dame aan die woord. Toe sy Rista gewaar, hou sy dadelik op met praat. Onmiddellik voel Rista soos ’n indringer wat verbode grond betree het. Sy voel sy bloos tot in haar nek.
Maar tot haar grootste verligting snel Pieter haar te hulp deur te sê: “Gaan maar aan, mevrou. Dis my sekretaresse en jy kan maar gerus in haar teenwoordigheid praat. Sy is tog op die hoogte van elke saak wat deur my behartig word.”
Met ’n dankbare blik in Pieter se rigting stap sy na die brandkas en vind die nodige dokument wat haar in so ’n verleentheid laat beland het.
Naby sluitingstyd voel dit vir Rista of haar kop draai van al die syfers en datums, en nou moet sy weer die kasboek naslaan, want êrens het sy ’n fout begaan. Sy voel meer lus om te huil as om verder met die kasboek te sukkel.
Pieter praat kort agter haar. “Hoe het dit toe vandag gegaan, Rista?”
Sy stem is sag en vriendelik en sy kan nie help om dankbaar teenoor hom te voel nie. Hy het haar die hele dag deur so verdraagsaam en vriendelik bejeën, ten spyte van al die foute wat sy begaan het. “Ek is bevrees ek het baie foute begaan, Pieter,” antwoord sy byna verontskuldigend.
“Toe maar wat, die ou paar foutjies sien ons maar oor. Dit gaan gewoonlik so die eerste dag op kantoor. Wat ek eintlik wou vra, is hoe hou jy van die werk?”
“Dis verbasend interessant. Ek hou baie daarvan!”
“Ek is bly om dit te hoor. Nou is ek immers seker dat jy my nie gou sal verlaat nie.”
“Nee, ek sal hierdie werk nie maklik laat vaar nie – tensy jy my natuurlik ontslaan,” lag sy.
Hy glimlag. “Nou ja, as jy gereed is, kan ons maar gaan. Of het jy vanoggend met jou motor gekom?”
“Nee, ek was bang ek kry nie parkeerplek nie. En ek ken julle stad nog lank nie so goed om te weet waar die parkeerterreine geleë is nie.”
“Skitterend, dan neem ek jou huis toe,” besluit hy opgewek.
“Jy moet regtig nie moeite doen om my ontwil nie, Pieter. Ek kan maar ’n bus ook haal.”
“Dis vir my geen moeite nie, Rista. Raai, ek hou nogal daarvan om sulke aangename moeite te doen.”
“Dis sal my natuurlik niks baat om met jou te staan en redekawel nie.”
“Gewis nie. Ek is nogal taamlik verwen, ten spyte van die feit dat ek een van ’n tweeling is.”
“ ’n Tweeling!”
“Ja, ek het nog ’n broer wat net drie ure ouer as ek is. En soos die ongeluk dit wou hê, was ek die swakker een van die twee, met die gevolg dat my moeder al haar tyd en aandag aan my moes bestee om die lewe in hierdie swak, brose liggaampie van my aan die gang te hou.”
“Noem jy tog nie daardie vreeslike gestalte van jou swak en broos nie?”
Hulle glimlag vir mekaar terwyl hulle aanstap na Pieter se motor wat voor die gebou geparkeer staan.
“Waar woon jou broer?”
“Sy naam is Chris en hy het verlede week ’n pos aanvaar in Kroondal se hospitaaltjie.”
“Het ek reg gehoor, Pieter? Het jy gesê Kroondal?”
“Jy het my heeltemal reg gehoor, meisie. Ek het gesê Kroondal, die dorpie van waar jy afkomstig is, nè?”
“Dan is hý die dokter Myburgh wat daar verwag word, oor wie se koms daar so ’n ophef gemaak word dat selfs die jong dames met mekaar wedywer oor wie hom eerste gaan uitnooi vir tennis of ’n partytjie.”
“En jy, het jy saam gewedywer?” terg hy laggend.
“Moet nou nie staan en laf wees nie, Pieter. Hoe sal ek nou opgewonde raak oor ’n man wat ek nog nie eens gesien het nie? En pasop, kyk waar jy bestuur. Jy het daardie groen motor rakelings gemis, weet jy?”
“Toe maar, moet jou nie ontstel nie. Ek sal nie ’n ongeluk maak nie.”
Toe hulle voor die huis stilhou, sê Pieter: “Hier is ons nou voor jou deur.” En vervolg dan meer besadig: “Kan ek maar vanaand vir jou kom kuier, Ristatjie?”
“As my geselskap jou nie sal verveel nie, is jy welkom.”
Etlike sekondes staar hy haar aan en sê dan ewe kalm: “Jou geselskap sal vir my aangenaam wees. Verwag my dus om agt-uur. Indien dit jou geval, kan ons ’n entjie gaan ry. Of verkies jy om te gaan fliek?”
“Wel, na ’n dag se gesit tussen vier mure sal ek ’n bietjie vars lug meer verwelkom, Pieter.”
“Goed, dan is dit so afgespreek. Tot siens tot om agtuur.”
“Tot siens, Pieter.”