Читать книгу Susanna M Lingua-keur 15 - Susanna M Lingua - Страница 16

13

Оглавление

In stilte sit Chris voor die bed van sy slapende broer. Om hom so bleek en kragteloos daar te sien lê, pynig hom geweldig. Hy wens net hy kan weet wie die vrou is wat verantwoordelik is vir sy lieflingbroer se lyding. Hy sal haar graag net so wil pynig. Maar ongelukkig weet hy nog nie wie sy is of waar sy haar op die oomblik bevind nie. Hy sal egter wel uitvind. Pieter sal hom nog alles vertel wat hier plaasgevind het. Hulle twee het geen geheime vir mekaar nie.

Dan sit hy weer droomverlore aan Rista en dink. Hy wou haar so graag vandag op kantoor gaan besoek het, maar hy was bang dat dit te voorbarig sou lyk, aangesien hy haar maar nou die aand eers ontmoet het.

In sy verbeelding sit hy lugkastele en bou oor ’n gelukkige toekoms saam met die bekoorlike Rista. Dan dink hy weer: Indien daar ’n hegter verhouding as vriendskap tussen haar en Pieter bestaan, sal hy nie sy lewe wil neem oor ’n ander meisie nie. Dus, daar is blykbaar net vriendskap tussen die twee. Ek sal Pieter geen leed aandoen deur haar die hof te maak nie. Tot dusver was dit net die gedagte aan hom – dat hý haar straks die hof maak – wat my daarvan weerhou het om in aller yl Pretoria toe te jaag en haar op te eis voordat iemand anders my voorspring.

Dan staan hy saggies op en stap uit op die ruim balkon voor Pieter se kamer om eers ’n sigaret te gaan rook.

Van waar hy nou staan, kan hy sy broer in die oog hou en sal hy gou kan sien wanneer hy wakker word.

In die heerlike sonskyn kan hy sy gedagtes vrye teuels gee om sy toekoms te beplan. Om Rista se hart te verower sal uiters verstandige beplanning en optrede verg.

Volgens wat hy tuis uit sy medeloseerders se gesprekke kon aflei, moet ’n mens met haar glo uiters versigtig te werk gaan om haar nie af te skrik nie. Sy is glo geweldig fynbesnaard, beskeie en soms effens teruggetrokke ook. Maar dit alles skrik Chris nog nie af nie.

Met die mening toegedaan dat Pieter haar die hof maak, het hy geduldig gewag op ’n geskikte lewensmaat vir homself. Maar noudat dit anders blyk, sal hy niks in sy pad duld nie.

Nadat Chris byna ’n halfuur in die koesterende wintersonnetjie gestaan en mymer het, merk hy dat Pieter wakker geword het. Hy gooi ’n halfgerookte sigaret weg en haas hom na sy broer toe.

Met ’n opgewekte glimlaggie groet hy Pieter, wat hom bly aanstaar.

Dan merk Pieter duidelik verlig op: “Ek is so bly jy het vanmiddag alleen gekom, Chris. Daar is so baie waaroor ek met jou wil gesels.”

Dan swyg hy ’n tydjie, sodat dit vir Chris byna voorkom asof sy broer se gedagtes baie ver weg dwaal.

Later sê hy weer besorg: “Sit, Chris. Waarom staan jy so?”

Nadat Chris gemaklik voor sy bed plaasgeneem het, lê Pieter deur die venster die verte en instaar en begin asof hy meer met homself praat as met sy broer: “Miskien was dit kinderagtig om my kop so te verloor, maar jy moet haar self sien om dit te glo. Sy is mooi, ontsettend mooi, die mooiste wese wat ek nog ooit in my lewe aanskou het. Haar swart hare is ’n sagte, golwende massa. Haar oë is donkerbruin en sag waarin ’n mens baie drome verlore sien lê. Sy het hier in die stad by vriende van haar gekuier. En ek was omtrent elke dag daar nadat ek haar een aand by dié vriende, wat ook my vriende is, se huis ontmoet het. Ek het haar later oorgehaal om in my kantoor te kom werk, want selfs bedags was dit toe al vir my te veel om van haar geskei te wees. Die ure op kantoor was vir my soos ’n ewigheid sonder haar. En saans wanneer ek by haar was, het die ure weer te gou verbygesnel. Ons was later groot maats. Maar in my hart het ek haar hartstogtelik liefgehad, met ’n liefde wat my soos vuur wou verteer. Die situasie het later vir my ondraaglik geword. Ek kon die verskriklike onsekerheid wat soos ’n kanker aan my gevreet het, nie langer verduur nie. Die aand van die ongeluk het ek my liefde aan haar verklaar … haar gevra om my vrou te word. Die slag wat my getref het toe ek gehoor het dat my liefde tevergeefs is, moes my bepaald van my sinne beroof het, want vanaf daardie oomblik wou my gedagtes nie meer reg funksioneer nie. Al waarvan ek daardie nag bewus was, was dat ek nie meer wou lewe nie, dat die lewe sonder my dierbare Ristatjie vir my ’n hopelose mislukking sal wees, want nooit sal ek ooit weer iemand so liefkry soos vir haar nie …”

Verder hoor Chris niks nie. Die wete dat Rista verantwoordelik is vir sy broer se ongeluk, tref hom soos ’n koeël. Dit voel vir hom asof sy sintuie besig is om hom te bedrieg, want wat hy nou uit Pieter se mond verneem het, klink vir hom ongelooflik.

My hemel, kan dit wees … kan dit waar wees? het hy byna uitgeroep. Dis so onmoontlik, so ongelooflik … Ek kan dit byna nie van haar glo nie!

Dan hoor hy Pieter weer praat, maar die woorde klink vir hom asof sy broer vanuit die verte met hom praat. “Die res begryp jy natuurlik.”

Nee … nee, ek kan dit nie begryp nie. Ek wíl dit nie begryp nie … nie van haar nie, kerm dit aanhoudend in sy binneste. Sy, die een wat ek so innig bemin … O, Pieter, as jy maar net kan weet dat ek haar net so innig bemin soos jy, my broer!

Toe Chris later by die hotel aankom waar hy en sy ouers tuis is, is hy stiller en meer teruggetrokke as voorheen.

Nadat hy sy ouers ingelig het in verband met Pieter se toestand, gaan hy met ’n swaar gemoed na sy kamer toe. Op die oomblik wil hy alleen wees met sy gedagtes. Hy voel verskriklik geskok en teleurgesteld in Rista. Hy het dit nooit van haar verwag nie. Alles wat hy tuis op Kroondal van haar gehoor het, bots geweldig met die gedrag wat sy hier teenoor Pieter openbaar het.

Op Kroondal praat almal met die grootste respek van die stil en besadigde Rista wat nooit eens ’n vlieg sal kwaad doen nie. In hulle oë word sy feitlik as ’n engel beskou. Maar hy wat Chris is, het haar ware kleure ontdek. Vir hom sal sy nie so maklik om die bos lei nie.

Hy sal sy arme broer se lyding wreek, al is dit nie vandag nie, dan wel later. Maar sy sal daarvoor boet.

Dan roep sy hart dit in sy binneste uit: Maar sal jy dit ooit regkry ten spyte van daardie geweldige liefde wat jy vir haar koester? Sal jou liefde nie dalk later vir haar verskonings probeer vind nie?

Nee, daardie liefde sal ek in die kiem smoor, totaal uit my hart verban, probeer hy in sy gedagtes teëstribbel. Hoe kan ek so ’n hardvogtige mens liefhê? Ek is ook nie meer so seker of ek haar wel nog liefhet nie. Ek wonder selfs of ek haar ooit liefgehad het!

Dan besluit Chris om haar in aller yl die hof te maak, want só alleen kan hy wraak op haar neem. Hy hoop egter sy onderneming slaag, sodat hy weer rus kan vind, want op die oomblik woed daar ’n geweldige storm in sy binneste. Sy verstand roep om wraak, terwyl sy hart pleit en verskonings opdiep vir Rista se gedrag. Hy voel asof hy kan gek word. Maar een ding staan vas: Hy moet sy broer se lyding wreek. Dit mag nie ongestraf bly nie. Hy het wraak gesweer en wraak sal dit wees …

Aan die etenstafel merk die ouerpaar dadelik dat daar iets met Chris skeel. Hy is gewoonlik nooit so afgetrokke nie. Hy het byna nog geen woord geuiter tydens etenstyd nie.

Sou hy dalk teleurgesteld wees omdat Rista nie vanaand die Van Zyls hierheen vergesel het nie? wonder sy moeder en skryf Chris se afgetrokkenheid daaraan toe. Dat hy geweldig baie van die swartkopmeisie hou, is vir albei ouers geen geheim meer nie.

Net sy vader kan hom maar nie vereenselwig met so ’n gedagte nie. Hy besef dat dit iets veel gewigtigers moet wees wat Chris so van sy ewewig beroof het.

Dat dit van teleurstelling is omrede Rista nie ook vanaand hier by hulle sal wees nie, lyk vir hom geheel en al onmoontlik. Daar moet bepaald iets anders skort.

Toe Chris sy koppie koffie geledig het, spreek hy sy ouers vir die eerste maal aan vandat hy aan tafel kom sit het. “Kan ek Pa en Ma ’n oomblikkie privaat spreek voordat die Van Zyls opdaag?”

In hulle sitkamer wag Chris eers totdat albei sy ouers plaasgeneem het voordat hy self ook gaan sit.

Dit is vir hom vanaand uiters swaar om hierdie onderwerp aan te roer, maar hy moet sy ouers daarvan verwittig. Hulle het tog seker al gehoor dat Pieter se ongeluk nie ’n gewone ongeluk was nie. Hy wou hulle dit self vertel, maar het nooit so ver gekom om dit te doen nie.

Dan begin hy op sy gewoon sagte toon praat: “Pa en Ma is seker al daarvan bewus dat Pieter die ongeluk opsetlik bewerkstellig het, nie waar nie?”

“Ja, Chris, ek het die koerantberig gelees wat melding maak van ’n liefdesteleurstelling wat hom tot so ’n daad moes gedryf het,” merk sy vader kalm op, maar tog angstig om te hoor wat nou gaan volg, want weet hy dan nie hoe sy broer se ongeluk Chris raak nie?

“Wel, dan sal Pa-hulle natuurlik begryp as ek sê dat ek verbitterd voel teenoor die meisie wat verantwoordelik is vir Pieter se ongeluk.”

“Nee, Chris, jy mag nie verbitterd voel teenoor haar nie, my kind. Sy kan dit nie help as haar liefde nie vir Pieter bedoel was nie,” val sy moeder hom sag in die rede.

“Luister, Ma, net ’n goedkoop flerrie sal met ’n man soos Pieter se liefde speel en hom vir die gek hou. Wat sou dit haar geskeel het of hy dood was of nie? Sy sou net geëerd gevoel het om te weet dat ’n man hom om die lewe gebring het vir haar. Maar sy gaan nie vrykom nie. O nee, ek sal sorg dat sy haar straf nie ontkom nie. Al die hartseer en lyding wat sy die arme Pieter besorg het, gaan ek nog op haar wreek. Al is dit nou ook die laaste ding wat ek hier op aarde doen!”

“Jy is te verbitterd, Chris!” roep sy vader geskok uit. “En jy is totaal verkeerd, ou seun. Maar sê my, weet jy wie die meisie is?”

“Ja, Pa, niemand anders nie as die wonderskone Rista,” merk hy met spottende minagting op.

“Chris, wil jy my vertel dat jy jou gaan wreek op die onskuldige ou Ristatjie?”

“Ja, Pa. En glo my, sy is glad nie so onskuldig as wat sy voorgee nie. Ek het haar ware kleure vandag eers uitgevind. Sy sal my oë nie langer verblind met haar pragtige voorkoms nie. Sy is net daarop uit om te sien hoeveel mans sy op haar kerfstok kan kry. Maar hier is een man met wie sy haar gaan …”

“Luister, Chris,” val sy moeder weer eens sy woordevloed in die rede, “jy gaan niks van die aard doen nie. Wil jy nou op ons oudag ons harte breek? Jy wat altyd so voorbeeldig was, wat ons net altyd plesier verskaf het … Gaan jy nou werklik ons harte breek deur so iets aan te vang? Nee, my kind, laat vaar daardie wrede gedagte. Ek sê jou ook, Ristatjie is onskuldig aan al jou verskriklike aantygings!”

Maar voordat Chris weer iets kan sê, hoor hulle ’n klop aan die deur wat die Van Zyls se koms aankondig. Dan word die gesprek tussen ouers en seun onmiddellik gestaak.

Susanna M Lingua-keur 15

Подняться наверх