Читать книгу Ridders van die grondpad - Деон Мейер - Страница 12

Оглавление



Hel toe. En terug.

Die Hel is nie meer wat dit was nie.

Deesdae kan ’n mens daar onder gaan afsaal, jou tuismaak in ’n gemakstoel en jou dors uit ’n wye verskeidenheid drinkgoed les. En as jy die teenwoordigheid van gees het om vooruit te bel, kan jy selfs aansit vir ’n bord boerekos wat jou na jou ma sal laat verlang. O, en die Ingelse sit die Hel-pot heeltemal mis. Die pad daarheen is hoegenaamd nie geplavei nie – allermins met goeie voornemens. Dis rybaar wanneer dit droog is, goeie grondpad wat vir 90% van die roete glad nie moeilik is nie. Maar dan is daar die ander 10% …

Kom ons begin by die begin. Die Hel se naam is eintlik Gamkaskloof. Dit lê in die diep voue van die Swartberge en jy moet bo in die Swartbergpas afdraai om daar te kom. Dit is ook een van daardie bestemmings wat die Suid-Afrikaanse avontuur-motorfietsryer nog as ietwat van ’n trofee beskou: As jy nog nie daar was nie, kan jy nie rêrig met die Manne en Vroue saamgesels nie.

Die beste ding om te doen, is om, sê nou maar, die vorige nag in Oudtshoorn te oornag, omdat jy genoeg tyd wil hê om in Die Kloof te gaan talm. Jy kan daar ook oorslaap in een van die pragtige ou huisies met hul dik mure en die skemerkoeltes binne. Dan vra jy vir die tannie-hulle om vir jou aandete ook te maak, want ’n mens wil nie noodwendig jou drasakke vol kos pak vir die reis nie.

Ons het die laaste keer van Van Wyksdorp se kant af gekom, eers oor die Rooibergpas, koffie gedrink en die Klein-Karoo se beste appeltert op Calitzdorp geniet en daarna die Groenfontein-pad Swartbergpas toe geneem. Dit was my eerste rit saam met die fotograaf Adriaan Oosthuizen – dis reg, die man wat die foto’s in dié boek geneem het. My ou vriend Jan du Toit was saam, asook die jong, blonde dr. Paul Theron, wat lyk asof hy uit ’n hospitaal-sepie stap.

Adriaan is gou herdoop tot “Skillie”. Nie omdat hy moeilik uit sy dop kruip nie, maar weens sy deeglikheid met die fotonemery, wat ons spoed so effe gebreek het. Dit was juis Skillie se skuld dat ons dié dag so baldadig was. Want ons sê hy is te stadig en hy beweer hy kan byhou as die pap dik aangemaak word. Toe sê ons: “Wys ons,” en hy sê: “Dis reg so.”

Sowat 53,7 km uit Oudtshoorn (of 1 km anderkant die Voortrekker-gedenkteken bo in die Swartbergpas) draai ’n mens links. Daar is ’n duidelike padpredikant. Dit sê “Gamkaskloof Die Hel”, net om dubbel seker te maak jy weet waarheen jy op pad is.

By ’n vorige winter-geleentheid het die sneeu dik bo in die berg gelê en die ry was loutere … wel, hel, gly-gly deur die modder, dik mis en ysige, ysige koue. Maar op die Skillie-ekspedisie was die weer én die padoppervlak perfek. Toe stoot ons maar aan.

Eienaardig hoe vinnig ’n klomp volwasse, verantwoordelike mans skielik kan verander in nege jaar oue seuntjies wat alle versigtigheid oorboord gooi. Die eerste klompie kilometer kyk ons kort-kort om om seker te maak of Adriaan byhou. En Skillie laat wiel. Nog ’n bietjie vinniger, weer die kyk oor die skouer en steeds is Adriaan net hier agter, besig om al ons vooroordele in die stof te laat byt.

En toe maak ons die ketels oop.

Dit was egter nie die regte ding om te doen nie. Eerstens gaan ’n mens die ongelooflike landskap misloop. Die manjifieke rotsformasies, die kleure wat van uitgewaste pastelle verdiep na olieverf-skakerings soos jy dieper daal, die klipspringers wat soms teen die kranse uitskarrel met vaste voet, die waterlopies wat daar diep in die skeure lê en blink. Tweedends gaan ’n baie skerp draai jou die een of ander tyd uitvang, want hierdie roete het meer kronkels as ’n Bryan Habana-dartellopie doellyn toe. Derdens gaan ’n bobbejaan hom boeglam skrik en reg voor jou oor die pad hardloop as jy veel vinniger as wat hy verwag om sy draai gaan kom.

Laastens is daar die reeds genoemde ander 10%: Daardie laaste stukkie wat jy afdaal Hel toe móét jy met groot sorg en teen ’n slakkepas aandurf as jy in een stuk onder wil kom. Die skerp draai het ons amper-amper betrap, dit was ’n oomblik van intense benoudheid en beknellende adrenalien toe die afgrond sy wye, diep bek hier voor ons oopmaak en ons op die laaste oomblik onthou: “Kyk vir die pad, nie die gevaar nie.” Maar ons jaag hart-in-die-keel voort.

Die bobbejaan het ook verskyn: Hy het soos ’n bees gebulk en blitssnel oor die stofpad gerol. Agterna weet jy nie wie die grootste geskrik het nie. Maar die laaste afdaal, daardie visueel intimiderende kilometer of twee, die een haarnaalddraai op die ander met die Kloof wat onmoontlik diep doer onder lê, was eenvoudig net te gevaarlik om as negejariges aan te durf.

Toe word ons almal skilpaaie. Tot bedaring gedwing deur die pad, ja. Maar ook deur die geskiedenis van dié kloof en die mense wat ons voorafgegaan het … deur die berge en vallei en die blou hemel. So ’n laaste stukkie raad: Gaan eet daar by tant Annetjie Joubert-hulle, maar ry ook dieper in oor die samevloei van die Dwyka- en Gamkarivier tot by Natuurbewaring se plek. Gaan praat met die oom daar oor die reuse-pofadder in die bottel. Laat hy jou die hele storie vertel.

Dan ry jy stadig en statig, soos dit ’n grootmens betaam, heelpad terug tot in Prins Albert, sodat jy niks misloop nie. En jy noem niemand meer “Skillie” nie.

Roetegradering

2 (onder in die kloof kan dit 3 wees)

Beginpunt

Oudtshoorn

Afstand

Afstand: Van Oudtshoorn tot in Die Hel is 103 km. Die volle afstand van Oudtshoorn tot op Prins Albert is 170 km.

Tydsduur

Wees liewer ’n skilpad en ruim die hele dag daarvoor in, sodat jy alles deeglik kan bekyk en geniet.

Ridders van die grondpad

Подняться наверх