Читать книгу Ridders van die grondpad - Деон Мейер - Страница 8

Оглавление


Om ’n boek te doop

Die moeilikste deel aan hierdie boek se samestelling was om die regte titel daarvoor te kry. Nie net omdat dit ’n aweregse alles-in-een-roetegids, fotobeeld, ysterperd-filosofie en teoretiese handboek is nie. Die groot probleem was semanties: Wat noem ’n mens dié motorfietse wat soos ’n Switserse knipmes omtrent alles kan doen?

Sommige joernaliste verwys heeltemal tereg na die groot avontuurtoer-motorfietse as “dubbeldoel”- of “dubbelsport”-modelle, want hulle is ewe tuis op die grond as op die teer. Maar daar is baie van die kleiner veld-rygoed wat dié eienskap deel – dink maar aan die ou Yamaha XT 500. Gemaklike langpad-toerfietse is hulle egter nie.

Ons weet ook dit is nie net dubbeldoel-motorfietse wat vir “avontuur” sorg nie. Enige ysterperd-toer is ’n belewenis, of jy dit op ’n Vespa, ’n Honda Fireblade of ’n Kawasaki KLR 650 doen. Om al die redes is “ ’n Gids vir dubbeldoel-motorfietse” nie as subtitel oorweeg nie.

Toe oorweeg ons “grondpad-motorfietsgids” as titel, maar dan sal mense wat 450 cc- (of kleiner) veldfietse ry dalk vir ons briewe skryf om beswaar aan te teken oor ons vals reklame. Hoewel baie van die basiese beginsels dieselfde is, lê die fokus van ons poging elders.

Dié soektog na ’n naam het redelik uitgerek geraak – en ernstig begin inmeng met ons ryplanne. Die doel van hierdie boek is om ons passie vir die lekkerste vorm van motorfiets ry met jou te deel – die waarom, die waar, en die hoe van die avontuur. Ons kom toe uit by “avontuurtoer-motorfietse”, ’n bielie van ’n woord, maar een wat dit dalk die beste saamvat. Om dit kort en kragtig in die boek te hou, gebruik ons ook “avontuurtoer-fietse” en noem die aktiwiteit “avontuurtoerry”.

BMW en KTM noem sommige van hul groot modelle “Adventure”, maar dis bloot toevallig. Die boek is nie net op eienaars van daardie motorfietse gemik nie. Watter motorfietse het ons in gedagte? Veelsydige grond-en-teer-motorfietse van 650 cc en meer.

Ons praat van die groot honne, gebou vir die langpad, met goeie ryer-beskerming, die vermoë om heelwat bagasie te dra, minstens 250 km op ’n tenk kan doen teen – as jy wil – 120 km per uur of vinniger, en genoeg woema en ruimte vir ’n passasier, heeldag lank, sewe dae per week.

Ons deel graag van ons gunsteling-roetes en van die stories daaragter. Ons gaan ook baie gesels oor ry-tegniek. Dit sal jou leer dat dit maklik is om enige oppervlak te bemeester (as jy so ’n bietjie fokus en genoeg tyd in die saal deurbring) en boonop pret is ook. Ons sal die teorie agter die vaardighede verduidelik en jou dan wys hoe om dit in die praktyk toe te pas.

Die gids sal jou ook help om die grondpad-toerfiets te koop wat die beste by jou behoeftes, begroting en vermoëns pas – nuut of tweedehands – en watter bykomstighede jy nodig het. Ons sal jou ook raad gee oor hoe om dit te verstel vir makliker en veiliger ry.

’n Vraag wat ’n mens dikwels by die legendariese veldry-instrukteur Jan du Toit se veldry-akademie Country Trax hoor, is: “Het julle nie dokumentasie oor al dié interessante beginsels nie? Daar’s net te veel om te onthou.” Hierdie boek is dus ook ’n poging om daardie inligting op te teken.

Dan is daar natuurlik Adriaan Oosthuizen se verstommende foto’s om die skoonheid en atmosfeer van dié leefstyl te illustreer. Maar , wat hierdie boek nie is nie …

Dit is nie ’n korrespondensiekursus vir grondpad- of veldry nie. Dis hoekom die woord “gids” in die titel staan, want dit is wat dit is. Ons boek gaan jou nie oornag in Die Groot Grond-ghoeroe verander nie, maak nie saak hoeveel keer jy dit lees nie. Dit sal wel ’n reuse-verskil maak aan jou begrip van wat dit verg om ’n groot dubbeldoel-fiets op die grond te beheer. ’n Goeie kursus bied veel dieper teorie as ons boek (sommige beginsels kan eenvoudig nie doeltreffend op papier verduidelik word nie) en dan is daar die onskatbare waarde van die praktyk. Daarom wil ons jou sterk aanmoedig om ’n amptelike, geakkrediteerde veldrykursus te doen nadat jy dié boek gelees het. Daarna moet jy eenvoudig baie tyd in die saal deurbring, want daar is niks soos praktiese ervaring om jou vaardighede te slyp en dit tweede natuur te maak nie.

Of doen eers die kursus en lees dan die boek. Maar doen die kursus. Asseblief. Of nog beter: Doen die kursus twee of drie of vier keer. En lees dit dan weer. Hou aan met ry, leer en lees. Want, soos Jan du Toit altyd sê: “Herhaling is die moeder van vaardigheid.”


Ridders van die grondpad

Подняться наверх