Читать книгу Ridders van die grondpad - Деон Мейер - Страница 9

Оглавление

Ons graderingsleutel

Ons het elkeen van die roetes in hierdie boek self gery. Sommige daarvan redelik onlangs, ander ’n hele tyd gelede. Die foto’s by elke roetebeskrywing is feitlik in alle gevalle van die betrokke roete.

Dit is hoegenaamd nie die enigste moeite-werd-grondpaaie in Suider-Afrika nie. Op ’n onlangse toer na die Oos-Kaap het ons net weer besef hoeveel ongelooflike paaie daar is om te ontdek. Dit is ook nie die enigstes wat ons gaan verken het nie, maar dit is beslis ons gunstelinge.

Die probleem met ongeteerde roetes is natuurlik dat hul gebruikers en die elemente letterlik oornag ’n mak grond-, veld- of plaaspad in ’n monster kan verander. Selfs net normale gebruik – of instandhouding wat soms agterweë bly – kan ’n paar maande ’n dramatiese verandering aan die moeilikheidsgraad meebring. Die ander moontlikheid is dat ’n sweet-en-sukkel-roete dalk opgeknap is sedert ons dit gaan ry het en jy ’n snelweg kan aantref terwyl ons ’n wilde ervaring beloof.

Met die GS Challenge van ’n paar jaar gelede het ek en Jan du Toit (ja, jy gaan nog baie van hom in hierdie boek hoor) die groot voorreg gehad om roetes vir deelnemers te ontwikkel. Een van die groot lesse wat ons geleer het, was dat selfs ons beste pogings om roetes se moeilikheidsgraad aan te dui, nooit heeltemal geslaagd was nie. Ryers se vaardighede – en ons persepsies daarvan – verskil. Selfs wanneer ons ’n roete as ’n “1” aandui – dus maklik en in ’n puik toestand – is daar altyd skelm, versteekte draaie en hoogtes, plaaslike verkeer of plaas- en wilde diere wat jou onverhoeds kan vang.

Nog ’n dilemma is dat van die roetes serwituutpaaie insluit, wat dikwels deur boere beheer word. Seisoenale veeverskuiwings, nuwe plaaseienaars, uitbreking van veesiektes en probleme met veediefstal of misbruik van dié deurgange veroorsaak dat boere soms hekke sluit. Ons kan dus nie die toestand of toegang van al die roetes waarborg nie.

Die graderingsleutel wat ons by elke roete bied, is daarom bloot ’n riglyn. Ons hoop dat jou gesonde verstand vir die res sal sorg.

Roetegradering

1 Goeie, maklike grondpad met ’n voorspelbare, egalige oppervlak en min sprake van ’n (sanderige) middelmannetjie.

2 Grondpad met kolle waar ’n mens plek-plek versigtig moet wees. Dit bevat dalk ’n erdvarkgat of twee, ’n middelmannetjie, versteende modderspore of slaggate.

3 ’n Plaaspad wat tegnies begin raak. Dit het hier en daar ’n sloot, drif, kwaai slaggat, modderpoel, sandkol of diep spore.

4 ’n Spoortjie wat baie vaardigheid verg. Steil, klipperige op- en afdraandes, groot stukke los sand, moeiliker waterkruisings, groot klippe, los klippe, onverwagte slote of dongas …

5 ’n Adrenalienroete vir die uiters behendiges. Verwag onmoontlike hellings en daarmee saam versteekte en erg gevaarlike rotse, klippe, sand, water en modder. Jy kan ernstig beseer word as jy nie presies weet wat jy doen nie. Moet die roete nooit alleen aandurf nie, ry dit verkieslik in groepe van drie of meer baie ervare ryers.


GPS, kaarte en programmatuur

Elektroniese navigasie het die afgelope tien jaar deur die een revolusie ná die ander gegaan – tot voordeel van padgebruikers. Selfone met GPS en kaartprogrammatuur wen verstommend vinnig veld, terwyl GPS-vervaardigers by die dag vermenigvuldig. Die nadeel is natuurlik die Babelse verwarring van standaarde, platforms en programmatuur wat die elektroniese beskikbaarstelling van ons roetes bemoeilik.

Ons gebruik Garmin-produkte en hul Mapsource-program. Al ons roetes is met Garmap se SA Topo-kaarte opgestel en getoets (spesifiek Garmap SA TOPO 2011 – na ons mening hul akkuraatste werk tot nou toe) en ons beveel graag dié programmatuur aan vir enigiemand wat ernstig oor avontuurtoer-motorfietse is. Dit is op die 1:50 000- topografiese kaarte van Suider-Afrika gegrond en doen outomatiese roetering, selfs vir obskure plaaspaadjies.

Vir dié wat ’n ander handelsmerk of platform gebruik, stel ons die roetes as Google Earth-verwysings beskikbaar. Die kaarte in die boek is ook op hierdie verwysings geteken. Jy kan dit alles aflaai by www.deonmeyer.com/bike/bike.html.

Laastens: Alle kilometer-aanduidings is volgens die afstand van die beginpunt, wat ons telkens sal aandui.

Ridders van die grondpad

Подняться наверх