Читать книгу Ridders van die grondpad - Деон Мейер - Страница 16

Оглавление



Seweweekspoort

Dit gebeur elke keer wanneer jy nuwelinge na die Seweweekspoort toe vat: Die manne vergaap hulle. Dit is die soort uitdrukking wat jy op ouens se gesigte sien wanneer ’n supermodel verbyloop – daardie oorblufte grootoog-verstomming, met gepaardgaande oopmond-hangkakebeen.

En die vergelyking eindig nie daar nie. Jy kan die poort vanuit enige hoek afneem, dit sal beeldskoon wees. En die mooi hou net aan – elke meter is ’n meesterstuk; onverdunde estetika.

Maar laat ek voor begin: Ek en my eertydse baas Lachlan Harris van BMW Motorrad het een Junie vir Leon Potgieter van Stellenbosch, Raymond Botha van George, Jan Nortjé van Kimberley en die rou Soutie uit Londen, Phil Horton, eers deur die Baviaanskloof gevat. Dié aand, toe die terugtog Kaap toe ter sprake kom, gooi ek Seweweeks in die hoed van moontlikhede, net om uit te vind nie een van hulle was al daar deur nie. Toe weet ek al wat kom.

Ons het van Ladismith vertrek en hier teen elfuur die oggend in die middel van die poort stilgehou. Toe hou ek hulle dop. Dit is ’n intimiderende toneel: Eers voel jy nietig, want die berge is hier by jou, dring hulle met oordadige magsvertoon aan jou op. As jy dit eers gewoond raak, begin jy die kleure raaksien, die rooi en roes, bruin en swart van die klip. Die plante se verskillende skakerings van groen. Die blou van die lug, om die een of ander fisika-rede dieper en donkerder as elders. En dan, die tekstuur van die magtige rotsformasies, gefrommel en befomfaai deur kragte wat die verstand so te bowe gaan dat jy bang word om eers daaraan te dink.

Die manne kyk eers half versigtig, so uit die hoeke van hul oë. Dan kom die oop monde soos hulle hul vergaap, nog later die opmerkings en uiteindelik die digitale kameras wat soos kleingeweervuur in ’n skermutseling skote neem.

Dís wat die Seweweekspoort doen. Dit bederf jou oë sodat jy maklik die stuk pad anderkant die poort miskyk. Dié het ’n eiesoortige bekoring – heelpad van Waterval (’n ongelooflike dun stroompie wat van hoog bo in die berg honderde meter ver aftuimel) tot by Rooinek, net duskant Laingsburg. Dit is oper en breër. Dit vra dat jy die motorfiets se oor so ’n bietjie oopdraai, uit pure baldadigheid ná die intimidasie van netnou. Die estetika lê wyer, dit vra meer konsentrasie en waarneming.

Die oplossing is om die Seweweekspoort twee, drie, vier keer te gaan ry. Totdat jy dit mak gekyk het. En dan die pad verby Rondefontein, Nietvoorby, Hartland, Suikerbosfontein, Tierkloof en Drielingskloof langsaam af te lê en te aanvaar dat hierdie ou wêreld veel meer vir die oog bied as die supermodel.

Roetegradering

2

Beginpunt

Ladismith

Afstand

113 km tot in Laingsburg.

Tydsduur

Gee jouself drie uur sodat jy die poort én die pad tot in Laingsburg ’n gelyke kans kan gee.

Ridders van die grondpad

Подняться наверх