Читать книгу Ridders van die grondpad - Деон Мейер - Страница 18

Оглавление



’n Slingerpad na Oudtshoorn

Dit is maar 20 km oor die ou Montagupas van George af tot by die N9, maar dié roete bied bes moontlik die meeste mooi per vierkante meter in die land.

Net voor die internasionale mediabekendstelling van BMW se R 1200 GS in 2004 moes ek die Duitse produksiespan gaan help om al die motorfietse in te loop. Ek het dié pas daagliks vir twee weke lank gery en nooit moeg geword daarvan nie.

Die pas is vernoem na John Montagu, die koloniale sekretaris aan die Kaap in die 1840’s, en is deur gevangenes gebou. Toe dit in 1847 voltooi is, het dit beteken dat ’n trek van drie dae oor die Cradock-pas nou net een dag geneem het. Vandag kan jy dit in ’n halfuur op jou ysterperd ry as jy baie haastig en waaghalsig is.

Terloops, die padingenieur vir die Montagu-pas was die Australiër Henry Fancourt White, wie se naam vandag nog voortleef in die beroemde Fancourt-gholflandgoed by George – én in Blanco, die klein dorpie net buite George. Hou ook stil by die ou tolhuis waar reisigers meer as ’n eeu gelede twee pennies per wiel en ’n pennie per trekdier moes opdok.

Van George se middedorp neem jy die N9 na Oudtshoorn. Net 3,5 km verder dui ’n padbord aan waar jy regs op die grondpad moet draai. Aanvanklik is die pad breed en in ’n goeie toestand, maar wanneer jy die flank van die berg behoorlik tref, is dit baie nou met heelwat blinde draaie en erosiewalle. Ry dus versigtig – dan kan jy die verstommende uitsigte ook waardeer.

Wanneer jy weer by die N9 aansluit, kan jy gerus regs draai en net 170 m verder die Perdepoort-grondpad links na Oudtshoorn vat. Dit is ’n maklike, vinnige roete wat ’n ander soort mooi ten toon stel.

Roetegradering

2

Beginpunt

George

Afstand

Van George tot jy weer by die N9 aansluit, is 20,5 km. As jy via Perdepoort Oudtshoorn toe ry, voeg ’n ekstra 43,1 km by vir ’n totaal van 63,6 km.

Tydsduur

90 minute vir die Montagupas (dan is daar genoeg tyd vir foto’s neem) en twee en ’n half uur tot op Oudtshoorn via Perdepoort.

Ridders van die grondpad

Подняться наверх