Читать книгу Ridders van die grondpad - Деон Мейер - Страница 6

Оглавление


Inleiding – Deon Meyer

“Wat is dan so lekker aan motorfiets ry?”

Mense vra my hierdie vraag met dieselfde uitdrukking as kinders wat by hul ma wil weet waarom hulle Brusselse spruite moet eet. Omdat ek aanvanklik gemeen het dit is moontlik om dié intense, nimmereindigende genot in woorde te beskryf, begin ek dan gewoonlik met die storie van die olifant.

Ek en my vriend Dave Briggs is die dag eers laatmiddag deur die Chirundu-grenspos (Beitbrug), danksy die Zimbabwiese doeaneman se gekarring met ons bagasie. Dave op ’n K 75, ek op my ou R 1100 GS. Ons moes voor sononder by Kariba wees, want in die noorde van Zimbabwe ry ’n mens nie in die donker op ’n motorfiets nie. Daar is bokke en bosvarke, beeste en perde, en dan praat ek nie eens van die voetgangers nie.

Toe draai ons die krane maar effens oop. Net voor die afdraaipad na die Mana Pools Nasionale Park kom ons in die sagte, goue lig van die Afrika-skemer teen 150 km per uur om ’n wye kronkel in die pad en skielik is die reuse-olifantbul hier reg voor ons, besig om die pad met rustige tred oor te steek. Daar was eintlik net een uitweg, want dit was te laat om te rem: Ons sou voor sy slurp moes verby op die klein stukkie teer wat nog oop was tussen die ivoor en die kant van die pad. In daardie oomblik, vasgevang deur sinapse soos ’n serebrale Kodak-moment, was ons hier reg langs hom, voor hom, kon ons die plooie op die skurwe vel sien, die ongelooflike lang wimpers, die groot, sagte swart oog en, ek sweer, kon ons sy olifantreuk ruik.

“So, dis die adrenalien?” sal hulle my dan ná die olifantstorie vra, omdat hulle nodig het om dit te etiketteer, te verpak en in ’n verstaanbare vakkie in te druk.

Ja, dit gaan soms oor die adrenalien, sal ek geduldig antwoord. Om af te gly teen die onmoontlik steil afdraande van ’n obskure tweespoor-bergpaadjie met jou agterrem gesluit, voorrem wat jy kort-kort knyp, terwyl jy klippe en skeure probeer navigeer, is suiwer, onverdunde adrenalien. Maar dis nie waaroor dit eintlik gaan nie.

“Nou, wat is jou ding?”

Avontuurtoer-motorfietse.

En dan maak ’n mens al reg vir die verduideliking, want jy sien daar is ’n gestoei om begrip. Dit is motorfietse, sê ek dan, wat só gebou is dat hulle net so lekker op teer as op grondpaaie kan ry. Selfs deur die ruuste van ruwe Afrika, soos daardie voetpaadjie oor KwaZulu-Natal se Makhatini-vlakte waarheen Jan du Toit ons geneem het met doringtakke wat hier teen jou skouers klap, slote, draaitjies, stroompies … Dis rygoed met dratasse en plek vir ’n tent, slaapsak, gaslamp en proviand. Dit het ’n breë, ferm sitplek en ’n skerm om die ergste wind af te hou vir gemak op die lang teerpad. Op die grondpad staan jy vir beter beheer en dan is die ontwerp van voetpenne en handvatsels ook só dat jy dit ure lank kan doen.

“Amper soos vier-by-vier,” gaan daar ’n liggie aan. Net lekkerder, antwoord ek.

“O?”

Dan vertel ek weer van my en Jan se vroegoggendrit deur die Namib. Die koel woestynluggie kon ek teen my vel voel. Die vae reuk van vaalgras en kokerboom en klam sand is in my neus. Ons ry van Aussenkehr af, vat ’n droë lopie die klowe in tot bo op die berg, waar die plato met ’n sagte ronding hier voor jou oopmaak en jy die versneller kan draai totdat dit voel asof die wiele onder jou sweef. ’n Trop springbokke deel skielik in die baldadigheid toe hulle van skuins agter ons verskyn en saam met ons hardloop en bokspring, pronk en net so vinnig weer verdwyn. Ons hou stil en skakel eers die enjin af om woordeloos te glimlag vir dié magiese oomblik.

Of om saam met my vrou, Anita, deur die Baviaanskloof se riviere te plas en al ons sintuie is betrokke: ’n Mens hoor die sjoerrrr, sien die spattende druppels wat silwerig in die son blink, jy ruik die vrugbaarheid van water en grond, jy voel deur die handvatsels die klipperige bodem en dan die koue, nat bergwater wat tot waar die valhelm oopgemaak is, teen jou gesig spat.

Jy kom waar selfs ’n 4x4 nie kan nie – die sandvoetpaadjies tussen Melkbosstrand en die Weskuspad, die spookagtige bloekombos op Jan se plaas by Amersfoort, die swemgat by Gerhard Groenewald-hulle se Klipbokkop-bergoord anderkant Worcester.

Ek vertel met groeiende geesdrif van die dik, wit sand van Mosambiek, daardie onmoontlike tweespoor-roete na Ponta Mamoli, van hoe ’n mens saam met kameelperde deur die Pongola-wildtuin kan galop, anderkant Rhodes Lesotho se boepens met modderige bergpaadjies kan nateken. Ek wil so graag hê hulle moet verstaan, dat dit by hulle moet aansteek, dat hulle net een keer deel in die kameraderie van vier of vyf of ses motorfietse in ’n snelkonvooi of die sensasie voel van ’n glyende agterwiel wat jy met die krag van die versneller reguit trek deur ’n draai in die Knysnabos.

Maar nie almal snap dit nie. Ek sê dit nooit, maar ek dink dit is geneties. Ek verbeel my daar was ’n miljoen jaar gelede al primitiewe mense wat ’n wildpaadjie teen ’n berghang sien uitslinger het en iewers binne hulle ’n ononderdrukbare drang gevoel het om dit te gaan uitstap. Om te sien wat aan die ander kant is. Wat die behoefte gehad het om aan te hou stap, nóg berge en valleie deur, nóg vlaktes oor.

Dít, vermoed ek, is die hart van die saak: Daardie begeerte om afgeleë plekke te wil ontdek, om weg te kom van die gedruis en gedrang en jou oë met nuwe horisonne te voed. En die enigste rede waarom hulle dit in die Steentydperk te voet gedoen het, was omdat avontuurtoer-motorfietse toe nog nie bestaan het nie.

Ek het al daarmee vrede gemaak dat my antwoorde meestal nie oortuig nie. Daarom, wanneer ek deesdae gevra word: “Wat is dan so lekker aan motorfietsry?” glimlag ek hoflik en stuur die gesprek in ’n ander rigting soos die ekonomie of die stand van sake in Iran. En later, wanneer ek by die huis kom, sal ek en Anita die padkaart uithaal en ’n nuwe, vae lyn op die kaart gaan soek.

Ridders van die grondpad

Подняться наверх