Читать книгу Ridders van die grondpad - Деон Мейер - Страница 15

Оглавление



Cloetespas-verrassing

My padkaart verklap nie of dit ’n mooi roete is nie.

Dit lyk plat. Eendimensioneel. Die lyne wat soos aartjies die lewensnoodsaaklike organe van stede en dorpe met mekaar verbind, vloei klaarblyklik sonder raad of rede herwaarts en derwaarts.

Maar as ’n mens die sesde keer in drie weke van Kaapstad na George (of weer terug) per motorfiets moet reis, begin jy desperaat raak vir ’n nuwe ervaring. Selfs roete 62 begin sy bekoring verloor – dis deesdae die ene toerbusse vol Duitse en Nederlandse besoekers. En die besige N2 is ook maar net tot by Hermanus se afdraai skouspelagtig. Daarna droog die skoonheid op, asof Moeder Natuur se stoom anderkant Houwhoek opgeraak het.

Buitendien: As jy ’n avontuurtoer-motorfiets ry, wil jy grond onder die wiele hê – obskure paadjies en geheime spoortjies wat jou laat voel jy’s die eerste wat ’n nuwe vista sien. Dis daarom dat ek die padkaart nader getrek en begin wonder het oor die strepie wat by Lemoenshoek – nagenoeg 15 km anderkant Barrydale – suidwaarts afdraai Brandrivier toe.

Dit was ’n dun swart bloedvat: dus nie teer nie. Wat sou dit inhou? Daar’s berge, dié weet ek. Dis Klein-Karoo aan die een kant en kusvlakte anderkant. Maar wat lê tussenin? Met die sesde rit George toe sou ek uiteindelik uitvind.

Die eerste stuk van Lemoenshoek op die R62 (net voor jy links draai op die R323) is mooi, sonder om heeltemal te betower. Met die Langeberg ver aan die regterkant neem dit jou deur volstruis-, skaap- en bokplase met name soos Klein-Doornrivier, Hoëveld en Phesantefontein. By Springfontein gooi die pad ’n wye draai en klim die heuwels uit. Met die terugkyk sien jy die dorre aarde in Afrika-pastelle van oker, geel, vaalwit en bruin tot aan die Rooiberg se voet.

Dit is eers wanneer jy die stukkie R323-teerpad gery en ná net 2,7 km weer links op die grondpad draai, dat jy besef hier’s ’n ding aan die kom. Die eerste is die laagwaterbrug oor die Gourits voordat dit die Langeberg se watervrag opgetel het (hier is dit nog onnoemenswaardig, maar darem in die somer blinkpens van die water). Jy duik skielik op die rivier af met ’n tweespoor-sementpaadjie wat die erosie moet keer.

Jy vertoef op die brug. Oorkant die rivierloop staan ’n swart krans ru en wild, asof dit nou die dag maar gemaak is. Jy laaf die motorfiets-rypak se hitte met ’n koel watertjie en ry die oorkantse bult met ’n swierige draai uit en kom al hoe nader aan die Langeberg. Jou stofpad word die R327 en jy sien Van Wyksdorp se afdraai, maar jy hou reguit aan, slinger-slinger oor die deinings. Soms kronkel die roete oor stokou kliphuis-plaaswerwe. Volstruise vlieg op teen die draad en hardloop verbete saam. Agter hulle staan die pieke dramaties en hoog.

En net wanneer dit lyk asof jy jou in die rante gaan vasry, duik die pad af in ’n nou pas en ’n spruitjie kabbel hier iewers, net agter die bome. “Cloetespas,” sien jy op die bord teen die pad. Dit swaai en swiep, soms skerper as wat jy verwag, eers af en dan hoër en hoër, tot ’n vallei onder oopmaak en jy Langfontein se klein boerderyparadys ver onder sien.

Skielik is die plantegroei geiler en die kleure dieper. Dis groen hier en pragtig – die soort landskap wat vra dat jy ’n stukkie grond en ’n kaggelvuurhuisie moet kom soek. En al weet jy dis die begin van die kusvlakte, lê die heuwels ingeryg in die suide en jy vermoed daar’s nog baie skouspel vorentoe.

Deur Langfontein se driffie en die steilte anderkant uit, soek jy na die padpredikant Mosselbaai se kant toe en skiet amper by die afdraai aan jou linkerkant verby. (Dié draai is by S33 59.503 E21 47.022, as jy die GPS wil gebruik.) Dis nog noord van Herbertsdale en nou is die oppervlak plek-plek pure tweespoorplaaspad met klipgruis en modder van die onlangse reën. Net 14 km verder draai jy weer links op nog ’n versteekte pad (by S34 01.335 E21 53.869). Jy is aan die see se kant van die Langeberg en die rûens dein, maar onverwags ry jy oor ’n knop en sien die uitsig van die dag: die Outeniekwavlakte, en jy kan sweerlik tot by George die skoonheid aanskou.

Te gou is jy by Ruitersbos en die geteerde R328 see se kant toe, maar jy beraam al klaar planne om die groep van ses avontuurtoer-ryers in Desember hierlangs te bring sodat hul asems ook weggeslaan kan word. Een ding is seker: Die pad van Kaap af George toe gaan nie gou weer vervelig wees nie.

Roetegradering

1

Beginpunt

Barrydale

Afstand

Tot in Mosselbaai is dit 183 km.

Tydsduur

Tydsduur: Twee uur en dertig minute, maar jy sal definitief ’n paar foto’s wil neem; laat dus drie en ’n half uur toe.

Ridders van die grondpad

Подняться наверх