Читать книгу Ridders van die grondpad - Деон Мейер - Страница 21

Оглавление



Sutherland en Merweville

Motorfietsryers het ook ’n binneste.

Dis danksy rolprente soos The Wild Bunch en aweregse groeperings soos die Hell’s Angels dat persepsies tot die teendeel bestaan, maar die waarheid is dat mense op motorfietse inderdaad gevoelens het – en boonop dikwels krampagtig aan ’n brose waardigheid vasklou.

Vat nou maar valhelmhare-sindroom. Dit verwys na die verskynsel waar dié hooftooisel jou haredos só platdruk dat jy kompleet soos die dorpsidioot lyk wanneer jy dit afhaal. Of wanneer jy aan die spoeg gaan soos ’n gebruiker van pruimtwak wanneer ’n insek by jou mond invlieg teen 140 km per uur. Daar’s ook die miere in die valhelm-dans (snaaks, maar nie vir die helmdraer nie), die beskermende klere wat jou in die winter laat lyk soos die afskuwelike sneeuman en, les bes, die by-in-die-mou-voorval, waaroor my storie eintlik gaan.

Dink jou dit in: Dis ’n Sondag in Desember en warm in die Kaap, dus nog ’n hele paar grade warmer in die Ceres- en Groot-Karoo. Ek moet Beaufort-Wes toe via Sutherland en Merweville om roetes te gaan verken vir die destydse GS Challenge. Ek is gestewel en gespoor en my haredos is lankal klassieke dorpsidioot, ook danksy die sweet wat stelselmatig in my valhelm opbou.

Die plan is om so min moontlik teerpad te ry tot by my bestemming. Ek vat die grondpaaie deur die Swartland Wellington toe. Daarna volg die immer indrukwekkende Bainskloofpas en die fraaie Michellspas na Ceres vir brandstof en ’n vinnige blikkie koeldrank (wat later baie goed te pas sou kom).

’n Mens moet kop hou om Sutherland van Ceres af met grondpaaie te bereik: Jy vat eers die R46 vir (toevallig) 46 km en hou dan links sodat jy op die R355 kom. Skaars 6 km verder op die grondpad – wat heel skouspelagtig deur die Doringrivier se valleitjie kronkel – draai jy regs op ’n nommerlose pad wat ná nog sewe kilo’s vurk. Hier hou jy links, want jy gaan nou Pienaarsrivier se berge toe (ek sweer dis die bergreeks se naam).

As jy moed en rigting hou, is dit net oor die 100 km voordat jy die R354 tussen Matjiesfontein en Sutherland raakry – en dis toe presies op daardie punt dat die by in my linkermou invlieg en besluit my naskeermiddel staan hom nie aan nie. En as ’n by ongelukkig is, steek hy.

Wat maak jy as jy links draai op die teer en ’n kool vuur is skielik doenig hier op jou voorarm, onder ’n motorfietsbaadjie wat minstens vyf minute gaan neem om los te gespe/rits/trek/druk? As jy ’n pampoen is (soos ek), dan vryf jy dringend en hard op die oorsprong van die brandpyn – en druk elke laaste druppeltjie gif uit die by se aansienlike voorraad, deur die angel tot in jou eie bloedstroom.

Fout Nommer 1. Dan brand dit eers.

Fout Nommer 2 lê toe net 38,7 km verder. Ek het gereken ek sal die hoogoond-hitte van bysteek-koors en my skielike groot dors op Sutherland kan les. Op ’n Sondagmiddag omsteeks 12:00. Wanneer daar nie ’n enkele sakeonderneming oop is nie. (Kon darem brandstof kry nadat hulle die tannie van die motorhawe gaan opklop het.)

Toe ry ek en my persoonlike hittegolfie maar aan Merweville toe … 10 km suid op die R354 draai jy links verby Sutherland se lughawe en na 32 km draai jy weer links op wat na ’n plaaspad lyk. Dan sal jy die windpomp en die sementdam sien en weet jy het net twee keuses – duik met klere, stewels, valhelm en al in of koel in jou adamsgewaad af.

Lank nadat ek poedelnakend onder die helder, heerlike water verdwyn het, het ek eers begin wonder of die boer sou omgee. Toe het ek versagtende omstandighede begin uitdink, waarvan die belangrikste was dat dit immers noodhulp was. Teen bysteek.

Die res van dié pragtige pad Merweville toe was loutere plesier. Canyons en berge, ’n pas met jakkalsdraaie en ’n uitsig oor die Groot Karoo wat jy nêrens anders kry nie. Net vir die rekord: Merweville se winkel was ook toe. Ek moes my dors op Beaufort-Wes gaan les. Teen daardie tyd het ek darem al my waardigheid terug gehad.

Roetegradering

1

Beginpunt

Sutherland

Afstand

Van Sutherland na Merweville is 107 km. (Merweville is 441 km van Kaapstad af.)

Tydsduur

As die bye nie lol nie en jy ry op ’n Sondag in Desember (geen kafees en winkels om tyd by te mors nie), kan jy maar twee uur opsy sit.

Ridders van die grondpad

Подняться наверх