Читать книгу Ridders van die grondpad - Деон Мейер - Страница 23

Оглавление



Cederberge

’n Vreemde ding het een keer in die Cederberge op die pad oor Eselbank Matjiesrivier toe gebeur.

Ná ’n harde week op die sandpaaie van die Weskus en in die bakoondberge in die suide van Namibië was ek en Jan du Toit op pad huis toe op twee identiese R1150 GS-motorfietse. Dit was die ekspedisie se laaste skof op die laaste dag. Dis miskien waarom ’n eienaardige gees ons ’n kilometer anderkant Wuppertal beetgepak het – ’n euforie, ’n waansin, ’n uitbundigheid.

Ons het dit nie afgespreek of beplan nie. Ons het eenvoudig saam die versnellers begin oopdraai teen die styl tweespoorpaadjie, bergop. En toe rý ons. Langs mekaar, teen ’n dolle vaart oor en deur die klippe, gruis, sand en driffies. Om die een skelm, blinde draai ná die ander. Ons was roekeloos, onverantwoordelik, baldadig – die adrenalien het in ’n dik, meesleurende stroom gevloei. Ons fokus was op die tweespoorbaan en op niks anders nie.

Ons dratasse wat teen mekaar gestamp het, die agterwiele se gespartel vir vastrapplek en die motorfietse se vering, wat skaars met die hobbels kon tred hou, is later net vaag onthou; ons snelheid het volkome konsentrasie geverg. Van die landskap het ons nie veel gesien nie.

Dit is een van die redes waarom ek en Anita twee jaar later weer die roete gaan ry het. Jaag het sy meriete, maar ’n mens is meer aan die Cederberge verskuldig. En aan jouself. Die ander rede was omdat ek die nuwe R 1200 GS op dieselfde pad wou gaan toets. Hoe sou ’n moderner, ligter, kragtiger motorfiets met ryer én passasier op dié stuk paradyspad vaar?

Die eerste naweek in November ry ons oor Ceres en die Gydopas tot by Op-die-Berg en draai regs af, Blinkbergpas toe. Sonder haas, want ons wil kyk. Maar eers die Skurweberge hier links: ’n Ongenaakbare landskap van gemene, skerp rotse … rof en onbeskof, soos Tolla sou gesê het. Die Koue Bokkeveld.

Later raak die hoeke sagter, die valleie langer, die pad is ’n verbleikte geel lint wat vervloë ingenieurs hier laat lê het, die nagedagtenis van ’n vergete fees. Die veld is ’n ander, vreemde Karoo; groener, blinker, jonger. Ons hou stil by die Sederberg Oasis vir ’n koeldrank. Daar is bergfietsryers wat ook kom lafenis soek. Hulle kyk met lang oë na ons ryding. Die trap tot hier moes swaar gewees het.

Daarna durf ons die Eselbank-pad weer aan. By Matjieskloof, waar die groot, breë grondpad na Clanwilliam links uitswaai, hou ’n mens reguit aan. Dis 4x4-wêreld dié; dit gaan stamperig bergop in die spoor van dik, los gruis, krake en slote. Die uitsigte is van die beste.

Elke draai bring nuwe vistas – die Tra-Trarivier se skeurvallei links, die Wolfbergskeure, Korridorpiek en Tafelberg links. Daar’s nedersettings daar bo, klein landerye, spekvet vee, blink waterstroompies om deur te plas.

Maar dit is die slingerende, steil pas af na Wuppertal wat my laat skaam kry vir die vorige keer se gejaag. Jou asem word weggeslaan soos jy daal en draai en daal en draai tot by die heilige koeltes van die sendingstasie, waar ons onder ’n reuseboom gaan stilhou om alles te herkou.

Ek staan en dink hoeveel makliker die nuwe motorfiets die pad se uitdagings hanteer. My vrou plaas haar stempel van goedkeuring op die passasiersitplek. Ons praat oor waar dié pad op ons Grootvyf-lys inpas en dan val ons weer in die pad, Boesmanskloof toe.

Maar wanneer ek ’n laaste keer terugkyk na die dun strepie van die Eselbank-pad, wonder ek net ’n oomblik hoe dit sou wees om – baldadig en uitbundig – met die nuwe ysterperd daarop te gaan rý.

Roetegradering

3.5

Beginpunt

Ceres

Afstand

Dit is 147 km van Ceres tot op Wuppertal of 218 km van Ceres tot op Clanwilliam. Die moeiliker deel, tussen Matjiesrivier en Wuppertal, is net 34 km.

Tydsduur

Van die Kaap tot in Clanwilliam behoort tussen ses en sewe uur te duur as jy nie haastig is nie.

Ridders van die grondpad

Подняться наверх