Читать книгу Stroomop - Adeline Radloff - Страница 10

Vivian

Оглавление

Die vrou op die skerm is sexy. Nie beeldskoon nie, maar sexy. ’n Vol, gul mond. Kurwes op al die regte plekke. ’n Avontuurlustige blik in vonkelende oë. ’n Dik bos rooi krulle wat blink soos hare in ’n Pantene-advertensie.

Vivian klik deur die foto’s op Phillip se Facebook-muur, ’n hol kol op haar maag. In een reeks foto’s is hy en die rooikop besig om valskerm te spring. In ’n ander reeks is hulle besig om by die een of ander eilandparadys te diepseeduik. Daar is foto’s waar hulle in ’n woestyn om ’n groot oop vuur kuier, foto’s waar hulle op ’n rivieroewer kampeer, foto’s waar hulle vanaf ’n oop voertuig na ’n trop leeus kyk.

Dan word die laaste lig in die andersins leë kantoorgebou afgeskakel, en in plaas van Phillip se Facebook-rooikop, sien Vivian nou haar eie gesig in die rekenaarskerm gereflekteer. Die kontras is so skreiend dat sy wil naar word.

Is sy regtig so muisvaal soos sy nou op die skerm lyk? wonder sy verslae. Is haar hare regtig daardie vervelige skakering van donkerblond? Haar lippe so dun en uitgedroog? Haar vel so grys? Haar oë so dof agter die lense van haar bril?

Miskien is dit net die lig. Sy was dalk nog nooit die mooiste meisie in die wêreld nie, maar ’n plain Jane is sy darem ook nie.

Of is dit maar net wat sy haarself wil wysmaak? Met die sexy rooikop se gesig langs haar eie is sy glad nie meer so seker nie. Wie behalwe ’n plain Jane werk in elk geval as ’n risiko-analitiese datanavorser by ’n mediese versekeraar?

Toe sy opkyk van haar rekenaar, is dit asof sy haar omgewing met nuwe, meer kritiese oë beskou. Haar kollegas se werksareas is versier met kleurvolle foto’s, potplante en persoonlike items, aandenkings van vervullende, opwindende lewens buite die kantoor. Net haar eie werkshokkie is onpersoonlik – so vervelig soos syself. En geen wonder nie. Waarvan sou sy ’n foto uitstal? Die lekkende kraan in haar woonstel? Aande alleen voor die TV? Naweke waarin sy niks meer stimulerends doen as om haar gordyne te was nie?

Sy maak haar rekenaar met ’n sug toe. Dis seker tyd om huis toe te gaan.

Dis hoe mens jou aande omkry as jy amper dertig is. En single. En vaal en vervelig. En heeltemal alleen.

Jy skakel die TV aan vir geselskap. Die radio ook. Jy wonder of dit tyd is om ’n kat te kry. Wonder of jy kanker gaan kry omdat jy altyd mikrogolfmaaltye uit plastiekbakkies eet. Skink vir jou ’n glas wyn. Wonder hoeveel data-analitiese studies al gedoen is oor die verband tussen kanker en verhitte plastiek. Was jou vurk sommer onder die kraan.

Of miskien is dit net hoe ék my aande omkry, dink Vivian terwyl sy terneergedruk na haar beeld in die badkamerkassie se spieël staar. Sy haal haar bril af, vryf haar hare so effens deurmekaar, plak ’n sexy glimlag op haar gesig. Great. Nou lyk sy nog net so kleurloos en vervelig soos altyd, net baie meer wasig. Sy sit weer haar bril op. Kyk fronsend na die boksie haarkleurmiddel wat sy gekoop het. Red Vixen.

Toe haar selfoon vibreer, kan sy glad nie dink wie dit kan wees nie.

Phillip: Ek is in die area, kan ek my stuff kom kry?

Die boodskap vang haar so onkant dat sy amper die foon neergooi, haar hande dadelik skoon bewerig. Maande lank hoor sy niks van hom nie, en nou dít? Sy probeer die wilde geklop van haar hart ignoreer terwyl sy deur die geel gesiggies op haar foon soek, vasbeslote om presies die regte emoji te vind.

Vivian:

Nee. Dit verklap te veel. Delete.

Vivian:

Nee. Dit lyk asof sy heeltemal te bly is om van hom te hoor. Delete.

Vivian:

Nee. Te verbitterd. Delete.

Vivian:

Nee. Te onseker. Delete.

Vivian:

Nee. Te sarkasties. Delete.

Sy’s besig om verder te soek toe haar vinger gly en sy die verkeerde een stuur.

Vivian:

“Nee.” Sy staar verslae na die skerm.

Hy neem skaars ’n sekonde om te antwoord.

Phillip: Ouch.

Sy kyk na haar foon, wonder of sy dit net so moet los. Hy verdien daardie middelvinger dubbel en dwars. Maar dan dink sy aan die saai aand wat voorlê, die saai naweek, die saai lewe. Wat het sy om te verloor?

Vivian: Jammer, ek het bedoel

Sy stuur die WhatsApp. Sluk haar hele glas wyn af saam met die skielike, desperate opgewondenheid in haar binneste.

Teen die tyd dat sy die klop aan haar deur hoor, het sy haar hare deurmekaar gewoel en daardie ekstra knopie losgeknoop. Vir ’n hele paar sekondes sukkel sy met die drie verskillende meganismes waarmee sy haar woonstel beveilig – mens kan nooit te versigtig wees nie – en dan trek sy die deur oop, haar hart in haar keel.

Phillip groet nie, kyk haar net op en af op daardie lui manier van hom. Maar twee kan dié speletjie speel. Sy draai sonder ’n woord om, loop om vir haar nog wyn te skink. “Op die tafel.” Haar stem is koel, asof sy teenwoordigheid haar glad nie affekteer nie.

Hy kom die woonstel stadig binne, kyk rond asof hy nog nooit hier was nie. Dis vreemd, maar ten spyte van die wilde manier waarop haar hart bokspring, lyk hy tog vir haar minder aantreklik as wat sy hom onthou. Die laaste paar maande het sy hom so in haar gedagtes opgehemel dat hy regtig … gewóón lyk soos hy hier staan. Net nog ’n man, in plaas van die prins van haar verlangende laatnagdrome.

“Dis alles daar.”

Hy krap halfhartig in die boks, en sy merk vir die eerste keer dat hy ook ’n bietjie gespanne is.

Sy vat ’n slukkie wyn. “Ontspan. Die groot depressie is verby.”

In die ongemaklike stilte wat volg, is die geluid van die druppende kraan in die badkamer duidelik hoorbaar.

“Ek moes dit al lankal gefix het.”

“Dis nie te laat nie.”

Hulle oë ontmoet vir ’n lang oomblik. Dan knik hy en loop badkamer toe.

’n Halfuur later is Phillip steeds besig om nutsman te speel, sonder ’n sweem van sukses.

Hy was nog nooit besonder goed met sy hande nie, dink Vivian en probeer ’n stoute giggel onderdruk. Flippit. Die wyn begin na haar kop toe gaan. Sy moet ophou voordat sy iets simpels aanvang.

Sy sit die glas langs haar op die badkamervloer neer. Probeer, soos gewoonlik, beheer van die situasie herwin deur haar te wend tot die logiese voorspelbaarheid van syfers en feite. Vir ’n rukkie luister sy na die kraan en probeer die druppels tel. Drup. Drup, drup, drup.

“Sestig druppels per minuut, agt-en-twintig liter per dag. Dis tienduisend-tweehonderd-en-twintig liter water wat per jaar gemors word … volgens statistiek.”

Phillip gooi tou op, sit die skroewedraaier neer. “Ek dink nie ek is die regte ou vir die job nie.”

Sy glimlag speels terwyl sy die glas wyn uithou wat sy vir hom geskink het. “En ek het soveel planne gehad vir Phillip’s Plumbing.”

Hy glimlag terug, sy oë donker, en neem ’n groot sluk. Dan trek hy haar nader en begin haar soen, sy tong soos ’n lomp oester in haar mond.

Dis romanties, probeer Vivian haarself oortuig toe hy haar optel en bed toe dra. Baie romanties. Meisies droom hiervan. Ék droom hiervan.

Maar selfs met sy stoppelbaard grof teen haar wang en sy vingers koud teen haar skouer, kan sy nie help om op te merk dat die kraan nou ’n bietjie vinniger drup nie.

Stroomop

Подняться наверх