Читать книгу Stroomop - Adeline Radloff - Страница 14
Vivian
ОглавлениеIn daardie sekonde tussen slaap en wakker is Vivian onmiddellik bewus daarvan dat haar lyf anders voel as gewoonlik. Losser en meer soepel. Gebruik. Geliefd.
Sy strek haar uit soos ’n kat terwyl die herinneringe oor haar spoel. Dit was anders tussen hulle gisteraand. Meer spontaan en vol passie, maar ook meer teer. Sy kon aanvoel dat Phillip haar gemis het. Dat dinge tussen hulle van nou af anders gaan wees.
Met ’n glimlag draai sy om, steek haar hand na hom toe uit. Net om aan die koue laken te vat.
Nee.
Dit kan nie wees nie.
Hy kan dit nie aan haar doen nie. Nie wéér nie.
Sy staan op, ’n siek vrees op die plek waar haar hart moet wees. Miskien is hy in die badkamer. Miskien het hy net gou gaan koffie maak … Maar selfs terwyl sy haarself so desperaat probeer troos, weet sy dat sy besig is om vir haarself te lieg.
Sy weet goed hoe ’n leë woonstel voel.
In die sitkamer vind sy ’n nota op die plek waar sy boks gestaan het.
Dit was ’n fout.
Net dit.
Nee.
Sy gryp na haar foon, bel hom met bewende hande.
Call declined.
Nee. Hy kan dit nie aan haar doen nie. Nie wéér nie.
Sy bel weer.
Call declined.
Bel weer.
Toe haar foon begin lui, is haar hele lyf vuurwarm en bewerig, asof sy koors het. “Phillip –”
“Phillip is nie meer jou handyman nie!” Die vrouestem wat haar in die rede val, is skerp en afgemete. “Hy dink jy is pateties. Sort jou eie gemors –”
Vivian druk die foon dood, haar lyf nou lam. In al die tyd wat hulle saam was, het Phillip haar nie een maal toegelaat om sy foon te gebruik nie.
In die badkamer drup die kraan onophoudelik.
Later trek sy die boksie Red Vixen nader en tap vir haar ’n bad water.
Hoe rooier hoe mooier, het die oumense mos gesê.
Sy klim in die water, kyk hoe die bad stadig ál voller word.
Al voller en al rooier.
Al rooier en al mooier.
Hoe rooier hoe mooier.
Hoe rooier
hoe
rooier
hoe
rooier