Читать книгу Stroomop - Adeline Radloff - Страница 20

Nixie

Оглавление

Die een oomblik is jou lewe ’n gemors omdat jy jou ouers teleurgestel het en jou kursus gedop het en jou loopbaan vernietig het en die leuen waarmee jy al so lank leef net ál groter en groter word.

En dan, die volgende oomblik, stop ’n polisiekar een oggend voor jou ouerhuis, en kom jy agter dat al daardie goed eintlik niks was nie. Simpelgeit en alledaagse dramas en stupid ou probleempies. Klein jakkalsies.

Dis eers as jy jou pa se gebroke lyf in die hospitaal se noodeenheid sien lê, dat jy weet wat regtig in die lewe saak maak. Maar dan is dit te laat, want die masjien is reeds besig om te flatline en die dokter se hande op jou pa se bors is bloedrooi en papnat.

Dis as jy buite wag, daardie sprankie hoop soos ’n brandende pyl in jou hart, dat jy vir die eerste keer regtig leer wat swaarkry beteken.

Dink jy dan.

Dink jy voordat die dokter uitkom, ’n middeljarige wit vrou, en jou vertel dat sy ongelukkig verskriklike tragiese nuus aan jou moet oordra. Hulle het hulle bes gedoen.

Alles wat hulle moontlik kon.

Dis weird, maar as jy eers daardie woorde hoor, wens jy met jou hele hart dat jy kon teruggaan in die tyd. Nie al die pad nie, jy weet reeds dat die wêreld nie soveel genade vir jou het nie – maar net vyf minute.

Twee minute.

Jy wens dat jy nog daar kan staan soos ’n paar minute gelede, toe die pyl van hoop nog in jou hart gebrand het, en jy in jou naïwiteit gedink het dít maak seer.

Toe die trane oor jou wange begin loop, sit jou ma haar arms om jou, so ewe asof dit jou sou kon troos. Niks kan jou troos nie.

Jou pa is dood.

Die ongeloof. Die verskrikking.

Die besef dat niks ooit weer dieselfde gaan wees nie.

Jy hardloop uit die hospitaal uit, histeries, verdwaas.

Alles is gebreek.

Alles.

Jou hele lewe is ’n gemors en niks sal dit ooit kan beter maak nie.

Stroomop

Подняться наверх