Читать книгу Stroomop - Adeline Radloff - Страница 18

Adrie

Оглавление

Teen die tyd dat Adrie by Ongevalle instorm, is sy so paniekerig dat sy sukkel om asem te haal. Sy het Sebastiaan in haar arms, toegedraai in ’n bebloede handdoek, terwyl Ben huilend agternakom, sy hand oor sy neus gedruk. Leon is laaste in die ry, sy ogies groot en verskrik.

“Help! Asseblief!”

’n Dokter gee haar een kyk en kom dan onmiddellik aangedraf, ’n verpleegster ’n paar treë agter hom.

“Hy’t deur ons skuifdeur gehardloop.” Adrie se stem is so hoog dat dit glad nie vir haar soos haar eie klink nie.

Die dokter neem Sebastiaan versigtig uit haar arms en sy tel dadelik ’n huilende Ben op. “Hy’t op pad hiernatoe ’n Lego in sy neus gedruk,” sê sy vir die verpleegster wat haar staan en aankyk asof sy die vrotste ma in die wêreld is. Die vrou knik, neem hom uit haar arms, en volg dan die dokter na een van die noodspreekkamers, met Adrie agterna.

In die gang bots hulle amper teen ’n groepie mediese personeel met ’n pasiënt op ’n trollie. In die verbygaan hoor Adrie ’n paar woorde – “… car accident … collapsed lung … suspected head injuries … severe internal hemorrhaging …” – maar sy neem nie regtig in wat hulle sê nie. As jou een kind oortrek is van die bloed en jou ander kind ’n Lego-blokkie by sy neus op het …

Die gedagte is soos ’n skoot yswater in haar gesig. Haar ánder kind.

“Leon?”

Hy was dan nou net nog hier!

“Leon!”

Sy kyk wild om haar rond, maar daar is geen teken van haar kleintjie nie. Waar kan hy wees? Wat kon gebeur het? Hy was reg agter hulle, ’n paar sekondes gelede …

Sy probeer ’n verpleegster se aandag trek. “Het julle dalk ’n klein seuntjie gesien?” Maar niemand kyk eens na haar nie, hulle aandag is ten volle by die pasiënt op die trollie voordat hulle by die noodeenheid in verdwyn.

“Leon!”

Dit voel vir Adrie asof die tyd stilstaan: Alles voel stadiger en swaarder, asof sy deur ’n dik stroop in plaas van lug moet beweeg. Soveel kinders word by hospitale gesteel. Sy weet dit tog. Sy’t dit gewéét. Watter tipe ma los ’n klein seuntjie selfs vir ’n oomblik alleen? En Leon is haar baba. Skaars drie jaar oud.

Wat het sy gedink? “Leon!” Wat het sy gedínk?

Dis net, Sebastiaan was so vol bloed en Ben het so hard gehuil en sy was so bang en so moeg en …

Hy was reg agter hulle. Hy was hiér.

“Leon!”

Adrie hardloop die gange op en af, half duiselig en uitasem, met haar hart wat soos ’n wilde dier in haar bors skop. Hy kan nie weg wees nie. Nie Leon nie. Asseblief tog nie. Haar ou kleintjie. En hy’s juis so bang vir vreemdes, ag liewe Here, asseblief tog …

“Leon!”

Hy sit in die wagkamer langs ’n ouer vrou en teken. Die vrou lyk rustig en glimlag simpatiek toe Adrie hygend nader gestorm kom.

“Jammer … dis my seun … dankie.”

Adrie voel hoe die vertrek om haar begin tol. Sy probeer haarself regruk, maar die amperse geweld van die verligting klief deur haar skanse, en dis asof al die gevoelens wat sy so lank reeds onderdruk tegelyk oor haar spoel.

Dis te veel. Dis alles net te veel.

Sy kan nie meer nie.

“Sit.” Die vrou, sien sy, het ’n naambordjie wat Dr Ezra lees.

Adrie steier na ’n stoel, val daarin.

En dan, genadiglik, word alles om haar swart.

Stroomop

Подняться наверх