Читать книгу Stroomop - Adeline Radloff - Страница 17

Lana

Оглавление

Toe Lana vir dokter Beukes en dokter Ezra in die hospitaal raakloop, het sy steeds die blomme in haar hand, haar vingers om die stingels geklem. Sy staal haarself, maak seker dat haar gesig niks verklap nie. Sy ken dokter Ezra nie baie goed nie, maar weet dat die gryskopvrou met die warm glimlag een van die beste psigiaters in die stad is.

Sy moet nou versigtig trap.

“Het ek nie gesê agt-en-veertig uur nie?” Dokter Beukes klink besorgd eerder as kwaad.

Dokter Ezra kyk vlugtig na die blomme in Lana se hand. “Hoe gaan dit met jou, dokter Marais?”

“Werk te veel en slaap te min,” antwoord dokter Beukes namens haar.

“Die lewe van ’n dokter,” skerm Lana dadelik.

Die ander vrou se kyk is so deurdringend dat Lana byna bang is dat sy regdeur haar kan sien. “Wel, jy weet my deur is altyd oop.” Dan vestig sy weer haar blik op dokter Beukes en knik in die rigting van die hospitaalkamer langs hulle. “Ek hou jou op hoogte.”

Terwyl dokter Ezra by die gang af verdwyn, loer Lana by die halftoe kamerdeur in. In die bed lê ’n vrou en slaap. Daar is dik wit verbande om albei haar gewrigte.

Dokter Beukes merk Lana se belangstelling. “Daar was nog nie ’n siel hier vir haar nie,” sê sy gedemp. Dan lig sy haar skouers gelate voordat sy wegstap. “Agt-en-veertig uur, dokter Marais,” sê sy oor haar skouer. “Agt-en-veertig uur.”

Lana knik. Glip dan by die halftoe deur in.

Die pasiënt lyk jonk en verwese. Daar is iets aan haar wasbleek vel, haar delikate gelaatstrekke, haar donkerrooi hare en haar weerlose mond wat Lana aan die bekende Victoriaanse skildery van Ophelia se dood herinner: ’n jong meisie op haar rug, haar fyn geborduurde rok oortrek met blomme, word in die dieptes afgetrek deur haar nat, swaar klere. Op die skildery lê die meisie natuurlik in ’n pragtige groen dam, omring met lelies en rose, terwyl hierdie arme vrou in ’n kliniese hospitaalbed lê. Daar is ook ander verskille: Die meisie op die skildery se hande is wit en ongeskonde; hierdie vrou se vernielde polse is verbind. Op die skildery is die meisie pragtig aangetrek, terwyl die pasiënt in ’n hospitaaljurk hier moet lê. En tog is daar iets aan die passiewe weerloosheid van die pasiënt voor haar wat Lana laat voel dat dié Ophelia ook haar eie blomme nodig het.

Daar is soveel verskillende maniere om te verdrink.

Sy rangskik die blomme in ’n beker water wat langs die bed staan. Dan loop sy saggies uit, versigtig om nie die pasiënt wakker te maak nie.

Stroomop

Подняться наверх