Читать книгу Stroomop - Adeline Radloff - Страница 19
Lana
ОглавлениеDaar is altyd ’n laaste druppel wat die emmer laat oorloop. ’n Laaste strooihalm wat die kameel se rug breek. ’n Laaste oomblik wat selfs die sterkste wil laat knak. Vir Lana kom daardie oomblik op ’n gewone oggend, na ’n gewone noodgeval – ’n doodgewone, eintlik alledaagse tragedie vir iemand met ’n werk soos hare.
Die feite was eenvoudig. Motorongeluk. Die pasiënt het nie sy veiligheidsgordel gedra nie – die gewone storie: ’n paar blokke van sy huis, net vinnig gaan melk koop – en is deur die windskerm geslinger. Long platgeval. Ernstige interne bloeding. Eksterne kopwonde. Breinbesering.
Dit was net nog ’n geval, totdat sy vrou en sy dogter in ’n stadium deur die teaterdeure gebars het. En toe …
Selfs maande daarna sou Lana nie regtig verstaan wat toe gebeur het nie. Maar iets is daardie dag in haar losgeskud. Iets wat so diep in haar psige begrawe was dat sy dit nie op haar gewone gedissiplineerde manier kon verwerk nie.
’n Sterk wil en ’n skerp intellek kan jou ook net só ver bring. Sekere wonde lê so diep dat die rasionele brein dit glad nie kan bykom nie.
Dit was nadat die pasiënt reeds dood verklaar is dat haar hande vir die eerste keer begin bewe het. Dit was asof al haar diepste emosies, al die vrese en onsekerhede wat sy elke dag so ver wegsluit, skielik ’n agterdeur gevind het om by te ontsnap en die lewe te vernietig wat sy so sorgvuldig gebou het.
Hoe kan jou eie liggaam jou so verraai?
Die onregverdigheid daarvan. Die magteloosheid.
Na die tyd het sy nie die moed gehad om met die man se familie te gaan praat nie. Dokter Beukes, wie se arendsoë niks gemis het nie, het aangebied om dit namens haar te doen en sy moes van ’n afstand kyk hoe die nuus ’n ma en dogter se lewe in ’n duisend skerwe laat spat.
Dit was net nog ’n dag.
Net nog ’n geval.
Daar was absoluut geen rede waarom dit só moes eindig nie.