Читать книгу Stroomop - Adeline Radloff - Страница 21
Lana
ОглавлениеDie ry swartgeraamde mediese grade en toekennings is die enigste persoonlike items in Lana se moderne oopplan-woonstel. Alles anders is duidelik van ’n hoë gehalte – funksioneel, prakties, duursaam – maar ook effens klinies en sonder karakter.
Dis die woonstel van ’n vrou wat nie tyd het vir tierlantyntjies nie. Iemand wat nog altyd op haar loopbaan in plaas van haar leefstyl gefokus was – wat goed weet waarheen sy op pad is en wat sy van die lewe wil hê.
Iemand, dink Lana met ’n wrang trek op haar gesig, wat haarself nou bitter graag wil wysmaak dat die kaartehuis waaraan sy so lank gebou het, nie op die punt is om inmekaar te stort nie.
Sy haal haar kos uit die mikrogolfoond, staar lank na die wit hoenderborsie. Dan hou sy haar mes soos ’n skalpel vas en fokus stip op haar hand terwyl sy die vleis oopsny.
Haar hand is doodstil, haar bewegings absoluut presies.
Fantasties, dink sy. Ek kan my eie hoender sny.
Maar die sarkasme is bloot ’n refleks, ’n verdedigingsmeganisme, en daaronder lê só ’n enorme verligting dat sy eintlik skrik.
Dis eers in die vroeë oggendure dat die slaap haar oorval. Sy het ure lank daarteen geveg, haar intellek ingespan en voluit gefokus op die nuutste mediese boeke en joernale, vasbeslote om ’n antwoord te vind vir ’n probleem wat sy steeds nie werklik wil erken bestaan nie. Maar selfs die sterkste wil kan die liggaam se behoeftes net só lank ignoreer, en toe die moegheid haar inhaal, word sy diep, diep meegesleur, tot by …
’n Grys begraafplaas.
Die verwese figuur van ’n klein dogtertjie, haar skraal lyfie vol hulpelose verlange na iemand wat sy nooit eens regtig geken het nie. Langs haar staan ’n man. Die warm gevoel van sy groot hand in hare. Die bekende reuk van sy naskeermiddel.
Voor die man en die dogtertjie staan ’n koue granietsteen: Alana Marais – Geliefde ma en vrou 1957-1985.
’n Baken van ondenkbare pyn.
Onder die steen lê ’n vrou.
’n Mamma wat so verskriklik lief vir jou was en glad nie van jou wou weggaan nie, maar Liewe Jesus het haar …
Lana snak na haar asem toe sy wakker skrik, haar liggaam uitgeslaan in koue sweet en haar hart so seer dat sy skaars kan asemhaal. Nee! Nee. Dis …
Dis verby en daar is niks wat enigiemand daaraan kan doen nie.
Sy sit regop. Bal haar vuiste.
Sy is sterker as haar pyn. Sterker as haar nagmerries. Sterker as haar vrese.
Dis alles baie lank gelede en daar is niks wat enigiemand nou daaraan kan doen nie.
Daar heers ’n gespanne atmosfeer tussen Lana en dokter Beukes terwyl hulle vir die operasie gereedmaak. Niks word hardop gesê nie, maar albei weet dat vandag se chirurgie ’n toets is. Lana kners liggies op haar tande, dwing haarself om die ander vrou se blik te ontmoet.
Sy het nog nooit in haar lewe ’n toets gedop nie.
Teen die tyd dat hulle die teater binnegaan, is die atmosfeer vól spanning. Maar spanning is bloot nog ’n deel van hierdie beroep, en niemand is beter in haar werk as dokter Lana Marais nie.
Sy bring haar emosies met een diep asemteug onder beheer, haar brein gefokus. “Skalpel.”
’n Verpleegster oorhandig die instrument, die koel gewig bekend en gerusstellend in Lana se hand. Sy bring dit sekuur en sonder aarseling tot teen die pasiënt se vel.
En dan – ’n huiwering.
Sy kan die ligte bewing van haar hand nie ontken nie.
Vir ’n oomblik maak sy met dokter Beukes oogkontak, en toe begin die monitors om die bed een vir een te biep.
“Dokter Marais?”
Sy voel hoe die bewerigheid vererger.
“Dokter Marais!”
Buite in die gang sukkel sy so om asem te kry dat sy teen die muur moet leun terwyl haar bene onder haar wegsink.
“Dokter Marais? Is alles oukei?”
Sy kyk op in die bekommerde oë van dokter Ezra, die psigiater. Van alle mense.
Spring dan op en vlug sonder ’n woord.