Читать книгу Stroomop - Adeline Radloff - Страница 11
Nixie
ОглавлениеSy kry haar pa in die kombuis, omring deur kampeergereedskap en besig om sy ou army-waterbottel vol te maak. Ten spyte van haar slegte bui kan sy nie anders as om te glimlag nie. Hy gaan nooit iewers daarsonder nie; sy vermoed daai kakie bottel het al meer van die land gesien as die meeste Suid-Afrikaners.
Dan onthou sy van die pak papiere in haar hand en haar glimlag verdwyn.
“I’m barely freaking back and she’s already on my case.”
“Pun intented.” Haar pa se oë vonkel.
Maar vanoggend kan sy grappies haar nie paai nie. “I’m serious, Dad.” Sy waai beskuldigend met die hoop vorms na hom: aansoeke na elke goeie regskool in Suid-Afrika.
Haar pa haal sy skouers op, soos altyd onwillig om enige kritiek teenoor sy vrou te hoor of uit te spreek. “She just wants the best for you, Nix.”
“And according to her that means being a lawyer?”
“Well, what do you want to be?” Sy vraag is vol deernis, maar sy oë mis niks. Hy’s ’n sagte man, hierdie pa van haar, nie ’n dom een nie, en hy weet presies waar lê die seerplek.
Wat wíl sy wees? wonder Nixie moedeloos. Wat kán sy wees? Sy weet sy’s nie onnosel nie: Op skool het sy uitstekend presteer, veral in die meer wetenskaplike vakke. Maar haar ma se vermoë om die hele wêreld uit te sluit en geheel en al te konsentreer op wat sy doen, maak nie saak wat in haar persoonlike lewe aangaan nie, het sy nou maar eenmaal nie geërf nie.
Soos sy op die harde manier moes agterkom.
Vir ’n paar sekondes staar hulle na mekaar, nie een bereid om kop te gee nie. Dan sug Nixie. “Fine. Maar ek soek my eie tent.”
Hy glimlag warm. “You pack it, you pitch it.”
Toe haar pa terugdraai kraan toe, voel Nixie hoe haar gemoed lig. Hy weet nog altyd presies hoe om haar te hanteer. Anders as haar ma, push hy nie heeltyd nie en sy stille aanvaarding doen meer om haar aan te moedig as al die geboelie ter wêreld.
Hy is dalk reg oor hierdie trip ook. Soveel van haar gelukkige herinneringe draai om daardie onvergeetlike kampeervakansies uit haar kinderdae. Miskien, as hulle weer as gesin saam in die natuur is, kilometers ver van alles en almal, sal sy uiteindelik die woorde vind om aan haar ouers te verduidelik wat gebeur het.
Sy dra hierdie geheim al so lank.
Sy sit die aansoekvorms eenkant. Sy onthou nog goed waar alles is, so sy kan netsowel help pak.
Teen drieuur die middag is hulle lankal gepak en gereed om te vertrek. Teen vieruur is haar ma nog nie tuis nie. Teen vyfuur ook nie. Van waar sy by die kombuistafel sit en op haar iPhone musiek luister, kan Nixie sien hoe haar pa al hoe meer gespanne raak.
Toe sy foon uiteindelik lui, vang hy vinnig haar oog. Kyk dan weer weg.
Verby haar oorfone kan sy nie ’n woord van haar pa se gesprek hoor nie, maar sy hoef net na die uitdrukking op sy gesig te kyk om te weet wat hy sê. Toe hy die oproep beëindig, haal Nixie haar oorfone uit haar ore.
“It’s an important case, Nix.” Soos altyd begin hy dadelik om haar ma se gedrag te probeer verskoon. “Mom had a breakthrough. Evidence surfaced that could save her client’s family.”
“Always other families.” Sy wou ironies klink, maar haar stem kom bitter uit. Seergemaak.
Sy staan op. Loop dan vinnig uit sodat hy nie die ou hartseer op haar gesig sal kan lees nie.
Laatnag is daar ’n sagte klop aan Nixie se deur. Sy maak traag oop, seker dat haar pa daar sal staan met ’n troostende koppie tee, maar daar’s niemand nie – net ’n flitslig op die vloer. Sy kyk om haar rond, sien dat al die ligte in die huis afgeskakel is.
Ag nee. Hy sou tog sekerlik nie …
Sy skud haar kop, maar kry dit nie reg om haar glimlag te onderdruk nie. Dan skakel sy die flitslig aan en begin soek.
In die gang kry sy ’n pak marshmallows. ’n Paar treë verder is daar ’n pakkie Eet-Sum-Mors. Verder, ’n reuse-Aero. Koeldrank. Sy volg die spoor al die pad tot by die sitkamer en skud dan haar kop, half onwillig om te glo wat sy sien. Al die meubels is eenkant toe geskuif en in die middel van die vertrek is ’n tent opgeslaan, helder verlig van binne. In die vorm wat teen die seil afgeëts is, herken sy duidelik haar pa se silhoeët.
Sy kniel, steek haar kop by die tentflap in. “I’m not eight anymore, Dad.” Maar daar is geen angel in haar stem nie.
Hy ignoreer haar sarkastiese aanmerking, duidelik hoogs ingenome met homself. Dan begin hy die ou liedjie wat hy altyd voor slaaptyd vir haar gesing het met soveel oorgawe uitbulder, dat sy sukkel om nie te lag nie.
“You are my sunshine, my only sunshine …”
“Stop it, Dad.”
“You make me happy, when skies are grey …”
Sy kyk na haar pa. Na die tent. Die sitkamer. Die eetgoedjies en die koeldrank. Al die moeite wat hy gedoen het. En dan probeer sy nie meer haar glimlag keer nie.
Dis waar: Sy is nie meer agt jaar oud nie. Sy is ’n volwasse vrou met haar eie lewe, haar eie drome, haar eie geheime, haar eie mislukkings.
En tog, besef Nixie terwyl ’n gevoel van warmte deur haar spoel, is daar geen manier waarop sy nié vanaand weer soos ’n klein dogtertjie saam met haar pa kampeer-kampeer in die sitkamer gaan speel nie. Sy weet nou al hoe die aand gaan verloop. Hulle gaan smores op die klein gasstofie maak en gesels en lag tot hulle mae pyn. Sy gaan hom alles vertel wat gebeur het, en hy gaan alles verstaan. En dan gaan hy haar wys watter nuwe shadow puppets hy nou al weer uitgedink het, en voor sy dit weet, gaan sy diep in droomland wees, veilig en geborge in haar pa se liefde.
Dit gaan wees nes altyd.
Net hulle twee.