Читать книгу Stroomop - Adeline Radloff - Страница 15

Diona

Оглавление

Toe Diona in die vroeë oggendure by die huis kom, pyn alles. Die artritis in haar vingers is ’n nuwe ding, maar die seer in haar skouers en die kloppende hoofpyn agter haar oë is goed waarmee sy al jare sukkel. Om van die gevoel in haar hart nie te praat nie.

Sy het só uitgesien na die rukkie weg. Só gehoop dat dinge hierdie keer glad sal verloop. Dat sy vir haarself en haar gesin ook ’n tydjie sal kan afknyp.

Sy vryf oor haar moeë oë, probeer haarself daaraan troos dat haar harde werk darem vrugte afgewerp het. As hierdie dringende aansoek nie geslaag het nie, was ’n onskuldige man nou in die tronk en sy vyfjarige dogter in pleegsorg.

En wat van jou eie man, Diona? Wat van jou eie dogter?

Sy sug, probeer die stem van haar gewete stilmaak met al die ou argumente. Haar werk is belangrik, nie net omdat sy haar gesin só onderhou nie, maar ook omdat sy elke dag veg vir wat reg is. As sy ’n man was, sou die samelewing haar sonder enige voorbehoud gerespekteer het vir wat sy doen. Niemand sou eens gedroom het …

Maar dan stap sy die sitkamer binne en elke rasionele argument verdwyn eensklaps.

Ag, David.

Daar is ’n tent opgeslaan in die middel van die vertrek, en danksy die lig binne-in kan sy die skadu’s van haar man en dogter se slapende figure uitmaak. Sy probeer die styfheid agter in haar keel wegsluk, versigtig om hulle nie wakker te maak nie, maar toe sy kniel om haar kop by die tentflap in te steek, sien sy dat David reeds wakker is.

“I am so sorry.” Haar fluisterstem is dik van onderdrukte emosie.

Hy trek haar saggies nader, sonder ’n woord van verwyt.

Soos altyd.

Diona skop haar skoene uit, laat rus haar kop op sy bors, vind haar veilige plek teen die holtes van sy lyf.

Dan reik sy met ’n verlangende hand na haar dogter uit en hou Nixie se slapende skouer liggies vas terwyl David die kampeerliggie afskakel en sy haarself uiteindelik – uiteindelik! – toelaat om te ontspan.

Sy word vroegoggend wakker toe David stilletjies by die tent uitklim.

“I’m going to make Pixie Pancakes,” fluister hy toe hy sien dat haar oë oop is.

Sy glimlag, fluister saggies terug: “Ons het nie melk nie.”

“I’ll go get.”

Toe hy by die tentflap uit verdwyn, staar sy vir ’n rukkie na haar dogter se rug voordat sy weer haar oë toemaak.

Alles gaan oukei wees.

Haar man weet hoe Nixie se kop werk; hy sal die nuutste krisis ook reg hanteer. En daar sal nog kampeer-trips wees. Daarvan sal sy seker maak. Een van die dae lag hulle almal weer saam om ’n vuur.

Dankie tog vir David.

Sy weet regtig nie wat sy sonder hom sou doen nie.

Stroomop

Подняться наверх