Читать книгу Vatmaar - AHM Scholtz - Страница 10
Oupa Lewies en Ouma Ruth se troue
ОглавлениеLance-Corporal George Lewis het dinge gevat soos dit kom. Hy was nou Ra George Lewis, maar hy het ’n regte Engelsman gebly met net een ding op ’n keer op sy army-brein. Hy was altyd glad geskeer met kortgeknipte geel hare, geel wimpers oor sy blou oë, ’n reguit neus met dun lippe en ’n vierkantige, uitstaande ken. Hy het pyp gerook en soos ’n soldaat geloop.
Hy was ’n gelukkige man toe hy die naweek voor die troue van die tweeperdekarretjie afklim met die ekstra groot driebeenpot en twee twintig-gelling-dromme vir die pap. Die brandewyn het hy na ons ntlo, hut, gevat en dit toegesluit met ’n kram en oorslag wat hy saamgebring het.
Die groot probleem was hoe hy die Donderdag voor die Paasnaweek al by die magistraatskantoor kon kom, want Vrydag was vakansie. Hy het al klaar gereël gehad om dan met ’n spesiale lisensie te trou. Toe kry ek ’n plan. George, het ek gesê, waarvan hou ’n Engelsman die meeste?
Wine, women and song, het hy geantwoord.
En whisky, het ek bygelas. Jy koop twee bottels whisky. Die een gee jy vir jou Mister Richman en die ander vir my Mister Keely, albei op Woensdag. En vertel hulle die waarheid. Hulle kan net ja of nee sê.
Oh, no! het George gesê.
Ons doen wat daai Engelsman oor God gesê het, het ek gesê: Vra en jy sal ontvang.
Ons twee base was platsak en maar te bly om ons die dag af te gee.
George het twee kapkarre op Vryburg se square gehuur en die drywers aangesê om by die groot boom in die stat te wag – Donderdagoggend aguur. Hy het gesê hy sal hulle betaal wanneer ons hulle weer sien.
Die Donderdagoggend is ek en George en Ruth en ’n oupa wat gesê het hy is haar oudste oom, by die magistraatskantoor in om die vyf pond vir die spesiale troulisensie te betaal. Die klerk het die papiere ingevul. Die magistraat het gekom en vir George en Ruth gevra of hulle mekaar as man en vrou neem. Albei het gesê: I do – soos George die vorige aand vir Ruth voorgesê het. Ek en George het die papiere geteken en Ruth en haar oom het elkeen ’n kruisie gemaak.
Hierna moes ek saam met Ruth se oom in die agterste kapkar ry en Ruth en George in die voorste. Toe ons van die pad af afdraai in die stat in, het die mense aan weerskante van die paaitjie na die trouhut toe gestaan en skree en handeklap en oeloeloe-sing.
Die ngosi en die oupas het onder ’n afdakkie van sinkplaat op stoele gesit. Daar was ook twee stoele vir my en George. Ek moes die kas brandewyn gaan haal en vir die grootkoppe skink.
The quicker we get them drunk the better for us, het George vir my gefluister.
Ek het met die hoofman begin en sy koppie tot by die rand volgegooi want hy het nie gesê ek moet ophou nie. Hy het dadelik begin drink. Van ’n heildronk was daar geen sprake nie. Ek het al die koppies tot op die rand volgemaak, en party mans het bekers gehad wat ek ook propvol gegooi het. Toe is die vleis aangedra. Groot stukke, bo-op ’n bord vol pap. Daar was nie genoeg borde nie en die jong meisies moes na hulle hutte toe hardloop vir meer hol goed.
Na die grootvreet het van die jong vrouens blikbekers en dopemmertjies bojalwa, bier, gebring. Die hoofman moes eerste drink. Hy het sy koppie toe vir George aangegee, wat dit na ’n paar mondevol weer vir my gegee het. So is dit in die ry af. Die meisie het staan en wag dat die emmer leeg word sodat sy dit weer kon gaan volmaak. Maar daar het deurentyd ’n ander meisie agter haar reggestaan met nog ’n vol dopemmer of beker.
Na ’n rukkie het die manne een na die ander begin opstaan en agter ’n yslike groot klip weggeraak. Dit is die pisklip genoem – net vir groot manne. Toe het hulle gedoen wat alle dronk mans doen, maak nie saak waar hulle is nie, hulle het almal tegelyk begin praat.
George het vir my met sy oë beduie om nog ’n rondte brandewyn uit te deel. Ek het net soos die eerste keer gemaak, totdat daar geen brandewyn oor was nie. Die ngosi kon nie meer woorde by sy mond uitkry nie en hy is saam met ’n paar van sy mense na hulle hut toe. Party gaste het sommer geslaap waar hulle sit.
Ons afspraak met die hoofman en oupas was dat George sy nuwe vrou voor sononder met die kapkar na die kamer wat hy in Du Toitspan gehuur het, kon neem. Ek het by die Cloetes oorgebly wat ek van voor die Boere-oorlog geken het. Al Ruth se besittings was in ’n meelsak. Dit was nie maklik om gegroet te kry nie, want die gaste was baie plesierig en het aanmekaar “Dumela, dumela” gesê.
Na die troue het George en Ruth gereeld haar mense besoek, maar na ’n paar maande net as ’n familielid van haar doodgaan. Haar mense het gesê sy behoort nie meer aan hulle nie. Sy het meer George geword as Ruth.
Na hulle sesde huweliksmaand het hulle in Vatmaar kom bly.