Читать книгу Vatmaar - AHM Scholtz - Страница 12

Ou Chetty se winkel

Оглавление

Die baas van die winkel, Ou Chetty, het gesê hy kom uit Natal maar hy is in Indië gebore. Hy het ons vertel waar Indië is, maar ons het hom nie geglo nie, want hy was dan een van ons en hy het dan in Vatmaar gewoon. Hy was ’n skraal man met ’n strooisel wit hare in sy kortgeknipte donker baard. Hy was lig-swart, nie bruin nie, met ’n dun halfmaanneus en geen voortande nie.

Ons het Ou Chetty die Koelie genoem, en sy twee kamers, een om in te bly en die ander om in handel te dryf, was die Koeliewinkel. Hy het alles aangehou wat die mense van Vatmaar nodig gehad het maar teen ’n hoër prys as in die Pan.

Die winkel was voor en die woonkamer agter, met ’n dubbele deur tussenin. ’n Skuifraamvenster met ogiesdraad voor het gekeer dat stout seuns goed deur die venster buitentoe aangee. Die winkel was agtien by agtien voet en die agterkamer agtien by sestien voet. Daar was ook ’n venster in die agterste kamer. Die platdak het van agter af vorentoe afgeloop tot oor die voorste muur, sodat daar ’n veranda voor die winkel was. Die veranda het op vier houtpilare en ’n dwarsbalk gerus. Ou Chetty het die sinkplate by Oom Chai en Oupa Lewies gekoop. Hulle het gesê dit was rommel uit die oorlog. Aan die middelste twee veranda-pilare was daar ’n plank met die woorde General Dealer op vasgekap.

Die winkel was toe wanneer Ou Chetty op sy karwei-bicycle met die groot mandjie voor of saam met Oom Flip na die Pan toe is om voorraad te gaan koop. Oom Flip het ’n trollie gehad en ’n eenoog-perd met die naam Ou Swaai. Dit was sy tweede perd. Sy eerste perd, het hy vertel, het skierlik eendag gevrek. Dit was nog voor Devi, Ou Chetty se dogter, met die kleingeld in die winkel kon werk.

Haar ma, Free-da, het haar stat in die tyd van die groot droogte verlaat. Sy was wees en het by mense gebly wat haar op die landerye laat werk het. Sy het vrou geword en hierdie mense het hulle klaargemaak om haar vir ’n goeie bogadie uit te trou.

Kos was skaars en sy het ’n pak slae gekry vir iets wat sy nie gedoen het nie – die blou riemmerke was nog te sien toe sy die nag by Ou Chetty se winkel ingestap het.

Sy het later vertel hoe sy op ’n donker nag ’n kalabas vol water gemaak en die paaitjie gevat het wat die ou mense gesê het oor die ysterperd se spoor loop tot in ’n groot stat.

Sy het geloop totdat die son ’n tweede keer ondergegaan het. Toe het sy by die twee spore gekom wat die ysterperd laat agterbly het. Sy was moeg en honger en dors toe sy deur die draad klim. Sy het seker gemaak dat sy nie op die spore trap nie.

Toe was daar geen paaitjies meer nie, maar sy het aangehou loop. Sy het Moediem, God, gevra om haar hand te vat. Uiteindelik het sy gestaan voor ’n soort huis wat sy nie gedink het bestaan nie en voor ’n man van gesig en hart wat sy nie geweet het op aarde is nie. Hy het die deur oopgemaak en na haar gekyk. Haar rok was ’n meelsak met gate vir haar kop en arms. Dit was koud want dit was winter.

Die man het na my gekyk en met sy hande gesê: Kom. Ek het die huis ingegaan want ek was meer dood as lewendag, het sy vertel. Hy het my ’n beker warm koffie gegee, die eerste koffie wat ek in my lewe gedrink het. Ek het op die vloer gaan sit met my rug teen die muur en gou aan die slaap geraak.

Ou Chetty se vrou, Free-da, was kort en het na Ouma Lewies gelyk. Die mense van Vatmaar het gesê sy het haar man lief met die liefde waaroor daar in die Bybel geskryf staan.

Devi was hulle geliefde enigste dogter. Sy was kort soos haar ma, sag van die baie vertroeteling, maar sy was soos haar pa gebou. Haar gesig het op haar ma én haar pa getrek, maar sy het klein Morolong-ore gehad.

Devi was die enigste slim kind in onse skool op Vatmaar. Teacher Elsa het gereeld toegelaat dat sy ’n dag uit die skool uit bly om saam met Oom Flip en die pensioentrekkers na die Pan toe te gaan om hulle pensioengeld te gaan haal. Sy het dan sommer die geld wat hulle haar pa geskuld het en wat in ’n skryfboek opgeskryf was, afgetrek. Die boek is saam met die geld in ’n sakkie gehou. Die oumense het nooit met haar gestry nie want hulle kon niks uit die winkel kry voor sy nie uit die skool uit kom nie. Dan het sy hulle skuld in die boek opgeskryf, dit vir hulle gewys en gesê: Teken. Wat hulle met ’n kruisie gedoen het.

Haar ma se eintlike naam was Matemba maar Ou Chetty het haar Free-da genoem. Ons het haar vol deernis Ma Koelie genoem. Sy is dood in die Groot Griep en Ou Chetty was daarna nooit weer dieselfde nie.

As iemand in die nood was, het hy altyd gehelp en hy het baie goeie dinge gedoen vir Vatmaar se mense. As hulle hom bedank, het hy sy vinger gelig en gesê: Nie my bedank nie, bedank Free-da se Moediem. Sy liefde vir Ma Koelie het nooit oud geword nie en Vatmaar het dit geweet.

Dit was Ou Chetty wat vir Vatmaar sy eerste sokkerbal gegee het.

Vatmaar

Подняться наверх