Читать книгу Vatmaar - AHM Scholtz - Страница 18
Sus Bet vertel van die delwerye
ОглавлениеSus Bet het vertel dat sy in Daniëlskuil grootgeraak het en dat Kaptein Waterboer haar oom is. Van die broers van haar pa was hy die jongste.
Flippus, ek sal jou nie vertel van onse Griekwa-manier van lewe nie, want jy het my nie van jou Basoetoe-manier van lewe vertel nie, het sy gesê. Jy het gesê jy het van jou kraal af weggeloop toe jy nog ’n seuntjie was. Laat ek jou nou van my vertel, Flippus.
Ek was in my vrou-word-jare toe my pa se broer . . . Maar laat ek eers sê: My pa was al dood en sy oudste broer was hoof van onse huis. Hy het gesorg vir my ma en vir ons kinders.
Dié oom van ons was baie goed vir my. Hy het my altyd ’n lekker dingetjie en ’n klap op my boude gegee. Omdat dit ons meisiekinders se werk was om brandhout bymekaar te maak, moes ons diep in die veld droë hout gaan optel. Ek was alleen want Kiewiet, my ousie, het voor my uitgeloop. Skierlik roep my oom na my. Hy het onder ’n boom gesit. Ek het nader gegaan en gevra: Oom Baaitjie, wat kan ek vir Oom doen? Ek het rêrig baie van hom gehou want hy was baie lief vir my, net soos ’n pa.
Dit was toe dat hy my soos ’n dier gegryp het. Hy het my op die grond neergegooi.
Sy het groot geskrik want hy was bo-op haar.
Flippus, het sy gesê, God het vir die diere horings gegee om hulleself mee te verdedig, maar ’n vrou het net haar bek. Ek het so hard soos ek kon geskree: Kiewiet! Kiewiet!
Hy het my mond probeer toedruk met sy hand. Kiewiet! het ek geskree, Kiewiet, hy maak my dood!
Ek kom! het Kiewiet teruggeskree.
Toe Kiewiet aangehardloop kom, het daai ou man vir wie ek so lief was soos vir ’n pa, omgedraai en weggehardloop. Kiewiet het hom nie sien sit nie en ook nie sien weghardloop nie.
Ek het gebewe van die banggeit en ek was vol stof. Toe Kiewiet vra wat gebeur het, sê ek haar want sy was ’n vrou met ’n man. Maar sy sê sy glo my nie. Toe ek die brandhout by die stroois neergesit het, het ek gaan water haal by die put en my gewas. Ek het gedink as Kiewiet my nie glo nie, sal niemand my glo nie. Toe bly ek stil.
Maar Kiewiet kon nie haar bek hou nie want dit was eersteklas nuus. Nie een van die familie het geglo wat ek vir Kiewiet vertel het nie. My ma het gesê: Bet, my kind, hoe kan jy sulke liegstories vertel? Jou pa se broer is ’n gerespekteerde man en uit die kapteingeslag.
Flippus, daai oom van my kon my nooit weer in die gesig kyk nie en hy het opgehou om vir my ’n lekker dingetjie te gee om te eet. Mense het my daai-mal-meid begin noem en my ma het gesê sy moes my klein doodgelê het.
So, toe hierdie mense – en sy wys na die pandok van die Steenkamps – deur Daniëlskuil kom nadat hulle by een van hulle se familie gaan kuier het en met my ma praat, het my ma gesê: Vat haar en maak haar mens.
Die witmense het gesê hulle is van Barkly-Wes se delwerye, maar hulle is op pad na die Bakerville-delwerye naby Lichtenburg. Hulle was op soek na ’n huismeid. Hulle het my ma tien sjielings gegee – die enigste geld wat hulle ooit vir my werk gebetaal het.
Dit was drie jaar terug, Flippus. Sus Bet het voor haar uitgekyk maar nie gesien nie. Haar gedagtes was leeg. Die leegheid het te veel vir haar geword en sy het weer begin huil. Toe hou sy op en sê vir haarself: Ek moet sterk wees, ek is alleen.
Jy is nie, sê Oom Flip, dit is ons twee en die Here.
Sien jy dié rok, Flippus? Dit is my derde rok, sê sy en trek aan die sismateriaal. Die eerste een het my oom se dogter vir my gegooi voorlat ek saam met hierdie witmense daar weg is – en sy het weer na die Steenkamps se pandok gewys. Sy het gesê: Vat, jou heks, en maak jou gat toe.
Toe ek weg is, het niemand eers vir my gesê loop mooi nie, Flippus. My hele familie het net daar gestaan en die witmense gegroet asof hulle hulle ken. Na my het hulle gekyk asof ek een van ’n werpsel kleinhondjies was wat vir ’n nuwe baas gegee word. Ek het nie eers my eie bondeltjie gehad nie, Flippus, net die rok met die haat van my mense daarop.
Sy het haar trane afgevee. Oom Flip het sy hand op haar bobeen gesit. Ek werk verniet en jy werk verniet, ons kos is wat afval van die baas se tafel, het hy met blink oë gesê.
Flippus, het Sus Bet gesê en haar vinger in haar mond gedruk en dit uitgetrek sodat dit ’n suiggeluid maak, soos haar mense maak as hulle sweer: Ons twee gaan dit regmaak.
Sy het sonder ’n verdere woord opgestaan en weggeloop.
Die volgende Sondag het lank gevat om te kom, want altwee hulle harte, die harte van die nederigste knegte maar tog in staat tot innige liefde, was onder daardie boom.
Maar Sondagmiddag het tog gekom en die een was so gretig soos die ander om onder die boom te kom so gou hulle werk klaar was. Dié keer het Sus Bet vir Oom Flip onder die boom gekry. Dag, Bet, het hy gesê en opgestaan en na die klip gewys: Sit.
Haar enigste rok is gewas, het hy gesien, en dit was die eerste keer wat hy haar met ’n kopdoek gesien het. Jy lyk mooi in die doek, het hy gesê.
Siesie Lena het dit vir my gegee.
Wie is Siesie Lena? wou Oom Flip weet.
Sy is een van onse mense, maar van Postmasburg af. Sy werk vir Mister Goodall, ’n Engelsman, die kleim naaste aan die pad. Sy het my kom sien toe ek siek was en sy het medisyne gaan haal wat my gehelp het. Sy het vir my gesê: Hierdie plek waar hulle na dinge soek wat hulle nie eers weet waar dit is nie, is godverlore. Hier is nie ’n kruiebossie te vind nie. Siesie Lena het die bottel medisyne in die doek toegedraai gebring en toe sy loop, het sy gesê ek moet die medisyne en die doek hou. So nou kan ek my kop soos ’n vrou toemaak.
Flippus, Siesie Lena is die enigste vriend wat ek in my lewe het – en Sus Bet het na die grond gekyk. Voorlat jy hier na Bakerville toe gekom het, het ek altyd na haar toe gegaan. Dis Siesie Lena wat my geleer het wat ’n Griekwa-vrou moet weet. Sy het my vertel wat om te doen as ’n kind gebore word en wanneer die lewe ’n liggaam verlaat het. Sy het my geleer hoe om khadie te maak en waar om na die wortel te soek. Dit is sy wat vir my gesê het: Dit is die geheim, daai wortel, en ook: As jy kan khadie maak, sal jy nooit sonder tiekies wees nie.
Siesie Lena het my alles van kruiebossies vertel, hoe hulle lyk en waarvoor ’n mens hulle kan verbruik. Sy het gesê ek sal weet as ek hulle sien omdat alle Griekwa-vrouens daai gawe het. Dit en baie ander goed het sy my geleer. Siesie Lena, Flippus, is my moeder wat deur God gestuur is.
Ek wil haar ook Siesie Lena noem, het Oom Flip saggies en in jaloesie gesê, want hy wou ook een van hulle wees.
Sus Bet vertel toe dat Siesie Lena oor die sambokmerke wou weet. Ek het hulle probeer wegsteek, maar sy is ’n grootvrou en sy het gesê: En dié houe, my kind? Toe het ek haar maar vertel.
En wat het Siesie Lena toe gesê?
Sy het gesê: Dit is beter so, my kind. Dis goed jy het nie ingegee vir daai Steenkamp nie, die vuilgat. Elke hond kry sy dag.
Siesie Lena se seunskind werk ook vir Mister Goodall. Sy naam is Janman en hy is omtrent jou jare, Flippus. Sy vrou en kinders is in Postmasburg. Ek het vir Siesie Lena van jou vertel en sy het gesê jy het haar water en nog kleingeld ook gegee sonder dat sy jou gebetaal het, het Bet gelag.
Sy sal nooit weer vir water betaal nie, het Oom Flip gesê. Nie as ek alleen op die kar is nie.
Flippus, Siesie Lena het gevra ek moet haar oor jou vertel.
Wat wou Siesie Lena oor my weet?
Niks. Sy het my net gevra om weer te vertel wat jy gesê het van jou werk met die diamantgruis. Toe het sy gesê: Ons gaan hom gebruik om hier uit te kom – en haar vinger op haar mond gesit om te wys dat dit ’n geheim is. Toe het Siesie in my oor gefluister: Hou jou bek, ek moet eers met Janman praat. Toe’t sy omgedraai en gesê: Naand, my kind.