Читать книгу Vatmaar - AHM Scholtz - Страница 8

Oom Chai vertel vir Ta Vuurmaak van Oupa Lewies se liefde

Оглавление

Nie lank daarna nie het daar mense gekom en ysterpenne in die grond begin slaan en dit op ’n stuk papier gemerk. En ek het vir Chai tussen hulle gewaar. Ek het gaan kyk wat aangaan. Toe die Corporal en Chai tussen die penne begin rondloop en praat, het ek probeer verstaan wat hulle sê, maar ek kon nie. Só het ek gesien hoe Vatmaar op papier gesit word.

Ons kinders wou al loop, maar Ta Vuurmaak het gesê hy kan net sowel die res van die waarheid vertel. Teen dié tyd was die bottel sjerrie byna leeg.

Chai het ’n bietjie te baie te drinke gehad, het Ta Vuurmaak gesê. Hy het een Krismismiddag ’n kan khadie gebring. Hy het gesê hy het gedink hy sal my maar besoek, want ons het ’n lang pad saamgekom.

Ek was baie verstom toe ek hoor wat uit dié Chai se bek kom. Hy het gesê die Corporal het nie met die ander Rooinekke gepraat nie. Hy het gemeen hy is beter as hulle. So hy het snags met hom wat Chai is, gesels. As hulle alleen was.

En toe vertel Ta Vuurmaak vir ons wat Oom Chai vir hom vertel het.

Die Corporal het vertel dat hy ’n meisie in Vryburg ontmoet het. Ruth was haar naam. Ek wou hom nie vra of sy wit of nie wit was nie. Toe vra ek maar wat is haar van. Hy het gesê hy dink nie sy het ’n van nie. Toe weet ek sy moet swart wees.

Hoe oud is die meisie? vra ek.

Hy het gesê so sewentien.

Weet haar ouers van jou, Corporal? het ek gevra.

Yes, they all like me but the old aunty said: If you really want her you must give bogadie (lobola) as you soldiers just make children by our women and then forget them. And another thing is, you white-face people’s children are not our own as you make them Coloureds, and help them turn against us.

Charlie, het die Corporal vir my gesê, it is now four months since we were in Vryburg and I cannot get her out of my mind.

Ek het regtig jammer gevoel vir hierdie Corporal Lewis want hy het uit sy hart uit gepraat.

Onthou jy die eerste huis wat afgebrand is, Ta Vuurmaak?

Ja, ek onthou, Chai.

Wel, ek het gedink ek kan nie staan en kyk hoe die Boere oor niks moet ly en hoe vrouens en kinders uit hulle huise gevat word en hoe alles wat hulle het aan die brand gesteek word op orders van die Queen nie. Ek het besef ons Cape-boys moet die vuilwerk doen terwyl die Queen se manne staan en kyk hoe ons dit doen. As ons sou weier, weet ek nie wat hulle aan ons sou gedoen het nie. Miskien sou hulle ons geboei en tronk toe gestuur het omdat ons nie wou, soos hulle sê, orders obey nie. Want ons was nie die Queen se Cape-boys nie, ons was die Queen se manne.

Onthou jy die nag toe ons naby die tweede plaashuis oorgestaan het? Ons het die nag agter daai blou klipkoppie geslaap. Corporal Lewis het daar vir my gesê: Let’s take a walk.

Dit was donker. Ons het tot bo-op die koppie geklim en op twee klippe gaan sit. Ons het lank so doodstil gesit. Omdat ek niks gehad het om te sê nie, het ek stilgebly. Ek kon sy hart hoor klop want die nag was baie stil.

My Ruth, by God, I really love you. God, please do not let anybody raise a finger on her. I love you, Ruth, Ruth, Ruth, het die Corporal skierlik gesê. Sy oë was toe en hy het hulle oopgemaak. Dit het my gelyk hy het vergeet ek was by.

Ons het weer doodstil gesit. Toe sit hy sy hand op my knie en sê: Charlie, you are the only friend I have.

Ons het weer ’n hele tydjie doodstil gesit. Toe dink ek as ek die man se swak plek agterkom, kan ek hom gebruik. Ek het aan die volgende plaashuis gedink wat ons Cape-boys môre aan die brand moes steek terwyl hy en sy manne sit en kyk. Ek het vir hom gesê: Corporal, wat sou jy gedoen het as ons Cape-boys op die perde gesit het en jy en jou manne moes jou Ruth se huis afbrand?

Hy het nie geantwoord nie, net stil gesit. Toe het hy met ’n stuurs army-stem gesê: You, Charlie, must never think like that.

Ek het gesê ek is jammer, maar ek is baie bly om sy vriend te wees en vriende vergeef mekaar.

Ek het opgestaan om te gaan pis, met die idee dat hy ook sal opstaan en dat ons sou gaan slaap. Maar hy het bly sit, met sy elmboë op sy knieë en sy gesig in sy hande en net bly sê: Ruth, my Ruth.

Hy het my Charlie begin noem toe hy my as sy vriend aangeneem het. Charlie, sê hy toe, I don’t see her blackness, you know.

O, het ek gedink, dan was ek reg dat sy ’n swart meisie is.

When we are together alone, she sits on my knee, with her hand in my hand. And we are one – I am not me and she is not she. Our heart beat is one beat, and we take breath inbetween beats together. There is no time for thinking, for time stands still. It is love, true love, Charlie. Our souls are united with God. How could I ever forget it? I say, thank you, God.

Hy het opgestaan en gaan pis.

Ek het weer op die klip gaan sit en dink aan ’n manier om nie die plaashuis hier anderkant af te brand nie, ’n huis wat ook liefde huisves. Die Boere sê tog ook: Ons dank U, God. En die plek het so onskuldig en huislik gelyk.

Die Corporal het teruggekom en weer op sy klip gaan sit. Thank God, het hy gesê, that I have not taken advantage of her. Which I could have and sometimes wish I had.

Corporal, het ek gesê, noudat ek dink ek weet wat in jou hart omgaan, sal ek vir jou vertel wat ek in gedagte het.

Vuurmaak, het Oom Chai gesê, jy weet wat het by die ander vier plaashuise gebeur en hoe jy hier met jou gesteelde treinwatertenk beland het. So ek sal dit nie herhaal nie. Maar ek sal jou vertel wat ná Vereeniging gebeur het.

Vatmaar

Подняться наверх