Читать книгу Vatmaar - AHM Scholtz - Страница 17
Sus Bet
ОглавлениеSus Bet was in Vatmaar bekend as ’n Griekwa-vrou. In die sonlig was haar vel ligbruin, en in die skade het dit dofgeel geword. Sy was heelwat langer as haar man, Oom Flip, met ’n regop rug en twee goed gegeede stêre. Sy het hoë wangbene en ’n skerp ken gehad en haar oë was nooit heeltemal oop nie, maar twee reguit skrefies. Haar rokke was regaf gesny en met die hand gemaak. Op Sondae het jy haar aan haar rok geken, ’n Sondagrok met groot geel blomme op ’n blou agtergrond. Sy was een van die gelukkige vrouens wat ook nog ’n weekse rok en ’n huisrok gehad het, want die meeste vrouens het net twee rokke gehad. Sy het altyd ’n kopdoek gedra en op Sondae was dit ’n gele, ’n krismisboks van Oom Flip.
Sus Bet was baie jonger as haar man. Hy het haar Bok genoem en sy vir hom: my Ouman. As hulle met iemand anders oor mekaar gepraat het, was dit: my Bet, en: my Flip. Haar enigste kind, Klein-Neels, was haar ewebeeld en sy het altyd gesê: Hy is meer ma as pa.
Sus Bet en Oom Flip was van die voorste mense van Vatmaar, hy met sy transportbesigheid en sy met haar khadie – ’n drank wat lekker dronkmaak – van heuning en ’n veldwortel wat net sy geweet het waar om te grou en wat sy altyd vingeralleen gaan haal het. Sy het die drank teen ’n sikspens ’n canfruit-blik verkoop. Die blik is die “skaal” genoem. As die khadie sterk was, het die grootmense gesê: Vandag is dit lekker. En dan weer: Vandag is dit swak. Sus Bet het weer gewoontlik gesê: Vat of laat staan, en dit was altyd uitverkoop voor sononder.
Hulle was baie trots op Klein-Neels. Waarom? Omdat hy ’n geboortedag gehad het. Oom Flip en Sus Bet het nie een hulle eie geboortedag geken nie. Toe vier hulle maar al hulle se verjaarsdae op Klein-Neels s’n. ’n Ding wat hulle so deeglik gedoen het dat die hele Vatmaar hulle altyd gevra het: Nou wanneer is die groot dag dan weer?
In die kerk het die twee altyd seker gemaak dat hulle elkeen ’n tiekie vir die bord het. Na kerk het Sus Bet haar skoene uitgetrek sodra hulle by die paaitjie kom en hulle dan in haar hand huis toe gedra.
Bok! het Oom Flip eenkeer gesê toe hulle na ’n diens in die paaitjie loop. Het jy gehoor wat die prediker gesê het oor gee en jy sal ontvang?
Toe hulle naby hulle huis kom, het Klein-Neels skierlik uitgeroep: Ma, kyk daar!
Waar? het sy pa gevra en ’n klip opgetel want hy het gedink dis ’n slang.
By die bossies, Pa – en Klein-Neels het met sy vinger gewys.
My kind! het sy ma gesê en hom ’n druk gegee en toe heeltemal van die grond af opgetel. Dit is onse twee tiekies wat ons in die kollektebord gesit het en wat onse Here dubbeld teruggegee het!
Ek tel twaalf hoenderkuikens, het Oom Flip gesê.
Oom Flip kon nie altyd tel nie. Toe hy by die delwerye begin water verkoop, was dit die eerste keer dat hy met geld gewerk het. Partykeer het hy te veel kleingeld gegee en partykeer weer te min. Maar hy het gou geleer want Mineer Swartz het sy dogter Mollie aangesê om saam met hom te ry en met die geld te werk totdat hy kon geld tel. Oom Flip was goed bekend onder die delwers en hulle het van hom gehou want hy het gereeld hier en daar ’n blik water verniet weggegee.
Mollie Swartz was jonk en soos alle jong meisies ook mooi, al was sy ook hoe vuil daar in die delwerskamp. Sy het gou ’n kêrel gehad, Filemon, die seun van Mineer Steenkamp by wie se kleim die waterkar die meeste van die tyd gestaan het.
En soos Oom Flip altyd gesê het: God werk in twees. Baas Steenkamp het ’n meid gehad wat gereeld na hom toe gekom het met haar emmer en vir hom gesê het: Ta, hierdie mense gee my nie water om myself te was nie. Hulle sê dit is te duur om weg te gee. Hulle sê ek moet wag tot dit reën en dan kan ek my vuilgat was.
En so, wanneer Mies Mollie en Baas Filemon om die pandok verdwyn het (want die skaduwee was aan die agterkant en dit was baie warm) het hy haar emmer volgemaak. Soms het Oom Flip Mies Mollie by die Steenkamps se pandok agtergelos en dan het hierdie meisie vir Mies Mollie gevra of sy saam met hom kan ry as hy die blikke gaan volmaak, want haar werk was klaar.
Mies Mollie het dan gesê: As jou baas tevrede is.
Baas Steenkamp het altyd gesê: Gaan maar.
Die witmense het die meisie Bet genoem en hy het haar ook gou-gou so genoem. Maar hy het dit skaamagtig en van die hart af gesê. (Bok het eers later gekom.)
Dit was nie lank voor hy sommer enige geld wat daarin was uit die geldsak gehaal en vir Bet gegee het nie, want vir hom was alle geld dieselfde. Sy het dan vir hulle bruinsuiker gekoop en soms ’n blikkie kondensmelk waarin hulle twee gaatjies gemaak het, en elkeen dan die helfte uitgesuig het.
Dit was Bet wat gesê het: Ons moet so steel dat hulle nie agterkom nie. En die witmense hét ook nooit agtergekom nie. Soms het Mies Mollie vir Oom Flip ’n tiekie gegee en gesê: Gaan koop vir jou iets.
Eendag het Mies Mollie weer by die Steenkamps se pandok agtergebly. Bet het op die kar geklim sonder om te vra of sy kon saamry. Sy het haar hand oor haar oor gehou. Toe hy vra wat makeer, wou sy nie praat nie. Toe Oom Flip haar hand wegtrek, sien hy haar oor is geswel.
Het die perdeby jou gesteek? vra hy.
Ja, sê sy.
Bana! Manne! het Oom Flip gesê, haar hand van haar oor af getrek en dit liggies vasgehou, want dit het gevoel soos iets anders wat hy eenmaal in sy hand gevoel het. Toe onthou hy – die Ounooi se sysakdoek wat hy op ’n keer van agter af moes inhardloop oor die wind dit weggewaai het.
Dit was die eerste keer dat hy so na aan Bet gekom het.
Die volgende keer toe sy weer op die waterkar klim toe hy die blikke moes gaan volmaak, was haar lippe geswel en sy kon skaars praat. Hy het haar gevra wat gebeur het.
Ek het geval, het sy net gesê, nie waar en hoe nie, en hy het haar nie verder uitgevra nie. Toe hy haar later by die Steenkamps se pandok aflaai, het sy omgeloop na sy kant van die kar toe. Sy het haar hand op syne gesit en hom in die gesig gekyk, haar oë blink van die trane. Toe draai sy om en loop weg.
Daardie regop rug het in sy kop bly steek totdat hy haar weer gesien het.
Vrydae was wasdag. Dan is die diamantgruis gewas. Oom Flip moes vooraf sorg dat die delwers wat hulle water by hom gekoop het, genoeg het tot Maandag toe, want Vrydae moes hy self die handvatsel van die pan draai en kyk dat die gruis op die sorteertafel kom, wat eintlik maar die kombuistafel was. Net die betroubaarste werksvolk is toegelaat om gruis te was. Die meeste delwers het dit self gedoen.
Oom Flip het oor die naweek ook nie water gery nie, maar die regop rug het voor sy oë gebly. Die Sondagmiddag besluit hy om verby die Steenkamps se pandok te loop. Net om haar te sien, sou vir hom genoeg wees. Hy het nog altyd na sy Ra en Mme en sy suster Roba verlang, maar vandat hy vir Bet gesien het, het daardie regop rug hulle plek gevat.
Die Here se werk is wonderlik, het Oom Flip gesê. Die Here weet wat is goed en lekker vir ’n mens, wanneer sy tyd ryp is. Daar sien ek haar toe onder die doringboom op ’n klip sit. Ek het haar aan die kleur van haar rok herken. Met die naderkom kon ek sien die rok is gewas, want dis al rok wat ek haar sien dra het vandat ek haar leer ken het.
Hy het rondom die bos geloop en gemaak of hy haar nie sien nie. Sy tel toe ’n klip op en gooi dit na hom om sy aandag te trek en seker te maak dat hy na haar kant toe kyk.
Hy het reguit na die bos toe geloop en haar sy beste glimlag gegee, want hy het gesien hoe Filemon Steenkamp glimlag as hy Mies Mollie sien.
Bet het van die klip af opgestaan en vir hom gesê: Sit jy, Flippus. Sy het regoor hom gaan sit en haar arms om haar knieë gevou.
Bana! het Oom Flip gesê. Weet julle wat? Hierdie meisie wou alles oor my lewe weet. Van hoe ek Filippus Swartz geword het, tot hoe ek die diamantgruis op die sorteertafel sit, en ek wat Filippus Swartz is, het nog nooit in my lewe so ’n klomp woorde in so ’n kort tyd gesê nie. Party dinge moes ek oorsê en sy het gelag en ek het daarvan gehou as sy sê: Hoe sê?
Dan het hy dit oorgesê, net om haar te hoor lag, nie hard nie, net vir sy ore. Hy het opgelet dat as sy dink, kantel sy haar kop skuins na agter. En sy het daarvan gehou toe hy sê dat hy nog nooit in sy lewe ’n vrou gehad het nie. Dit was nadat sy gevra het: Waar is Flippus se vrou?
Dit het donker geword en hy het gesê: Bet, ons moet gaan slaap want môre het ek baie werk om te doen. Dis Maandag. Jy weet die meeste delwers is sonder water.
Hierdie Oom Flip was die beste werksmens wat enige baas kon hoop om te hê. Hy was meer soos ’n geleerde perd as ’n man.
Bet het gesê: Ek is bang. Toe hy vra hoekom, sê sy: Die Oubaas het agtergebly. Hy weet wat hy wil doen. Die ander is almal saam Lichtenburg toe.
Hy vra toe weer: Wat maak jou bang?
Die Oubaas is dronk, sê sy. Ek sal gaan loer wat hy doen.
Naand, Bet, het Oom Flip gesê, want Bet was nou vir hom liefling, suiker, kondensmelk, heilig en alles wat lekker is. Vandat hy haar ontmoet het, was sy lewe nie meer dieselfde nie. Hy het gevoel hy behoort aan haar. God, sê hy terwyl hy bid-bid wegstap, is sy nie mooi nie? Want God, het Oom Flip by homself gedink, is die enigste een met wie hy oor haar kan praat en wat sal verstaan.
Die volgende oggend klim Mies Mollie by die Steenkamps se pandok van die kar af en Oom Flip wag om sy Bet, soos hy haar nou al in sy gedagtes genoem het, te sien. As ek net daardie regop rug kan sien, sê hy vir homself.
Ry! hoor hy Mies Mollie skreeu. Dis Maandag, die mense sit sonder water. Moenie staan en vrek nie!
Teen dié tyd kon hy al die regte kleingeld aftel.
Toe hy Mies Mollie later weer by die Steenkamps oplaai op pad terug na die Swartze se pandok, vra hy: Mies, waar is die meid? Ek het haar nie gesien nie.
Sy het gesê sy weet nie, maar die Ounooi het háár gevra om die plek te help skoonmaak. Asof sy trots is daarop, sê sy toe: Die meid is glo siek. My Filemon sê die sambok het goed gewerk, hy sê die Oubaas het haar gevra om vir hom koffie te maak, maar toe sê sy hy moet dit self doen. Filemon sê hulle het net op tyd teruggekom anders het die Oubaas haar doodgemaak.
Geen mes kon ooit dieper in my hart gesteek het as daardie woorde nie, het Oom Flip gesê, en dan het sy dit nog gesê asof Bet ’n perd is wat ingebreek moet word. Terwyl hy na haar kyk, het hy gedink: Ek ken julle witmense, ek ken julle beter as my eie mense.
Die hele week het Oom Flip nie sy Bet gesien nie. Sondag, het hy gedink, gaan hy reguit na die boom toe loop en op hulle klip gaan sit. Toe hy nader kom, sien hy sy is klaar daar en hy stap vinniger.
Môre, Bet, en wat het gebeur? vra hy in een asem.
Sy wou van die klip af opstaan maar hy sê: Vandag sit jy op die klip en vertel my jóú storie.
Hy kon sien sy is siek. Haar stem was brekerig soos dié van iemand wat haarself jammer kry en wonder hoekom sy so swaar moet kry. Haar lyf het gebewe en hy het sy baadjie oor haar skouers gehang. Hy kon sien sy het dié week nie haar rok gewas nie.
Sy het haar gesig met haar hande toegemaak en gehuil en gehuil en gehuil. Hoe meer sy gehuil het, hoe meer het Oom Flip gesê: Huil, huil, Bet. Laat dit uitkom. Dan sal jy baie beter voel.
Sy het later opgehou huil en Oom Flip het die soom van haar rok gevat en die trane van haar gesig en hande gevee. Daar was ’n lang stilte. Toe sê hy: Bet, nou ken ek jou as jy lag en wanneer jy huil. Bet, het hy in ’n hartseer stem vol gevoel gesê, ek sal jou nooit laat huil nie.
En toe soen hy haar, sy heel eerste soen, om sy woorde te verseël.
Na ’n rukkie sê Bet: Eendag wanneer God ons toelaat om alleen te wees, sal ek jou alles vertel, Flippus. Maar ek belowe jou dit sal wees voorlat ek jou sê jy kan my vat. Want, Flippus, jy het die reg om dan te sê jy wil my nie hê nie. En ek vra jou om my dan onder my gat te skop soos ’n hings wat nog nie ingebreek is nie – en sy het saggies oor sy ken gestreel.
Oom Flip wou nie sulke woorde hoor nie, maar hy kon hulle ook nie weer vergeet nie. Hy het sy kop stadig geskud en haar stil gemaak met die woorde: Ek sal dit nooit doen nie, Bet.