Читать книгу Vatmaar - AHM Scholtz - Страница 13
Oom Chai vertel waar die sendingkerk vandaan kom
ОглавлениеOom Chai het baie van sy werk by die dorpsraad se landmeter gehou want dit was nie so gevaarlik soos die ambag van hoefsmid wat hy as seun geleer het nie. Die loon was laer, maar hy was elke maand daarvan seker. Hy moes agter die werk se bicycle kyk.
Op ’n gelukkige dag, soos hy self vertel het, het Mister Keely, die landmeter, hom aangesê om die instrumente met die spesiale bicycle met die groot mandjie voor na ’n sekere oop erf in die nuwe aanleg te vat.
Terwyl hy daar vir Mister Keely wag, staan daar ook ’n jong man in ’n swart manel op iemand en wag. Hy kon sommer aan die man sien hy is ’n Nederduits Gereformeerde domanie, sê Oom Chai. Hy het nie van die man notisie gevat nie want hy het geleer as jy vir die dorpsraad werk, moet jy op jou plek bly en jou by jou eie sake hou.
Na ’n ruk kom die welgeklede jong man na Oom Chai toe waar hy op ’n klip sit.
Ek het opgestaan, my keps afgehaal en gesê: Môre, Mineer, het Oom Chai gesê.
Hy het my sy hand gegee en gesê: Dominee Louis Pienaar.
Ek het gesê: Charlie, Chai vir kort.
Hy het gelag. Toe het hy na die instrumente gewys en gesê: Landmeter?
Ja, Domanie, het ek gesê.
Die eerste ding wat hierdie kerkvaders vir iemand vra wat hulle vir die eerste keer ontmoet, is: Aan watter kerk behoort jy? Oom Chai het daarvoor gewag. Hy het gesê: Die Sendingkerk.
Die domanie was so verbaas dat hy Oom Chai weer handgee en sê: Ons is broers, dis ons susterkerk.
Toe vra hy waar Oom Chai se sendingkerk is want alle kerke wat hy hier in Du Toitspan ken, gebruik Engels as hulle taal, of die mense dit kan verstaan of nie.
Dit is van 1857 af dat ons Nederduits Gereformeerde Kerk met aparte dienste vir swartes en bruines begin het, sê die domanie.
Oom Chai knik sy kop.
Toe kry die domanie ’n tweede verrassing. Oom Chai sê: In die Vrystaat, Domanie. Maar ek bly nou in Vatmaar. Domanie, sê Oom Chai, ons in Vatmaar het ’n sendingkerk nodig. Ek werk saam met mense wat almal aan die Engelse kerke behoort.
En die domanie sê: Alles sal regkom, Chai.
Oom Chai dink toe: Miskien het God hierdie domanie gestuur sodat ek vir hom ’n sendingkerk vir Vatmaar kan vra.
Domanie, sê Oom Chai, ons in Vatmaar het rêrigwaar ’n sendingkerk nodig want daar is bybies en jong kinders wat nie gedoop is nie.
Toe daag Mister Keely met ’n opgerolde plan op sy bicycle op. Good morning, Father, sê hy.
Goeiedag aan jou, Broer, antwoord die domanie. Hulle het oor die erf begin praat en Mister Keely het gesê die kerk is gelukkig om die laaste hoekerf te kry. Die domanie het na die plan gekyk en gesê die kerk sal die twee aangrensende erwe ook neem aangesien die hoekerf vir ’n huis bedoel is. Die pastorie moet langs die kerk wees.
I suppose it will be all right. We don’t want to have a town council sitting for every small thing, sê Mister Keely.
Goed, sê die domanie. Dan sal ek hulle nommers afskryf en vir hulle by die dorpsklerk se kantoor gaan betaal.
Mister Keely het geglimlag en gesê: As you wish, Father.
Dan bedank ek u, het die domanie gesê. Hy het vinnig na die instrumentkas met die naam N. Keely daarop gekyk, en bygelas: Mister Keely. En toe sy hand gevat.
Charlie, skree Mister Keely skierlik, take these things back to the office!
Ek het naby hom gestaan en ek het gewonder vir wat hy altyd op my skree as daar ander witmense by is, het Oom Chai gesê.
Die domanie het gesê: Wag, Charlie – en hy het sy sakboekie uitgehaal en sy naam en adres vir my neergeskryf. Kom sien my. Ek sal kyk wat ek kan doen, sê hy toe.
Oom Chai was ’n bruinman met ’n ligbruin gesig en hande. Maar as hy sy hemp uitgetrek het om hom te was, was sy bolyf die kleur van ’n goedgewasde kakiehemp. Hy was die enigste bruinman met ’n weglêsnor wat ek ooit geken het. Hy het aanmekaar aan die snorpunte gedraai, veral as hy gedink het. Sy hare was gitswart en reguit, die soort wat ons in Vatmaar nat hare genoem het. Sy neus was nie plat nie en sy hare het by sy ore opgehou waar hy sy baard begin skeer het.
Die mense het gesê: Hy is te lui om sy oë oop te maak.
Hy was ’n groot man. Om oor ander te wees, was iets wat altyd na hom toe aangekom het sonder dat hy daarvoor gesoek het. Hy het vroue gerespekteer en die mans het gesê hulle weet hoekom – ’n mal perd het hom tussen die bene geskop. Ander het bygelas dat dit ’n perd was wat hy te sleg was om te beslaan. Die skop het hom ’n snaakse manier van stap besorg.
Die nag na hy die domanie ontmoet het, kon Oom Chai nie slaap nie want hy het lê en dink wat om te sê en hoe hy die man moes benader. Toe sê hy in die vroeë oggendure vir homself: Ek sal hom Saterdagmiddag gaan sien want ons val twaalfuur uit. Saterdag sal ek met my beste klere gaan werk.
Toe Mister Keely die Saterdag vir Oom Chai in die pak klere sien wat hy vir Oupa Lewies se troue laat maak het en wat hy net vir spesiale okkasies bewaar het, sê hy: Charlie, you may have the day off, seeing that you are all dressed up. I don’t know why, but people will think that I am the boy. Off you go, my boy.
Oom Chai het by homself gedink verrassings kom vir hom altyd in pare so hy sal maar reguit na die domanie toe gaan. Hy het na die papiertjie gekyk om seker te maak van die adres.
Toe hy daar aankom, sien hy daar is ’n voorhek, ’n agterhek en ’n syhek, want dit was op ’n straathoek. Deur die syhek sien hy die huis se voorstoep en ’n oop deur. Die hek was van plat ysterstroke en vasgemaak met ’n stukkie draad.
Terwyl hy nog rondkyk, kom vra ’n lang swart vrou hom of hy die domanie kom sien het. Sy kon dit aan sy netjiese kleredrag sien en sy het hom van kop tot tone bekyk.
Ja, het Oom Chai gesê. Toe was dit weer sy beurt om haar van kop tot tone te bekyk. Sy het ’n Voortrekkerkappie opgehad waarvan die voorkant weggesny was. Haar rok het haar tot by haar enkels toegemaak, net die tone van haar kaal voete het uitgesteek. Sy het ’n groot haakspeld onder haar ken gedra en haar hande was die enigste ander liggaamsdele wat te sien was. Dit was somer en baie warm.
Stap maar voor my uit, Baas, het sy gesê.
Toe Oom Chai deur die voorhek loop, kom die domanie by die voordeur uit. Terwyl hy Oom Chai ook van kop tot tone bekyk, gee hy hom sy hand en sê: Kom binne, Charlie.
Die domanie was van gemiddelde lengte, nie maer nie, ook nie vet nie. Hy het ’n kop vol dun swart hare gehad en geelbruin oë. ’n Swaar, dik, breë moestas het onder sy neus gehang. Hy was blas, soos die mees toegewyde Afrikaners, mense wat trots daarop is om Afrika as hulle tuiste te hê.
Al teleurstelling is dat hulle ons vaderland net vir hulleself wil hê, het Oom Chai gesê.
Terwyl hulle in die studeerkamer sit, het dieselfde bediende twee koppies koffie op ’n skinkbord gebring.
Dankie, Aija, het die domanie gesê.
Toe sê hy dat hy oor die saak nagedink het: Ek meen ons kan die arme mense van Vatmaar help. Ek het dit net gisteraand op die agenda van die kerkraad gehad en almal het saamgestem dat julle mense van Vatmaar ons ou saal kan kry. Ons gebruik hom nie meer nie, want die vlermuise dink dis hulle s’n.
Oom Chai het opgestaan en die domanie se hand in albei sy hande gevat en gesê: Domanie, die Here het onse gebede in Vatmaar gehoor.
Oom Chai het by homself gedink dat dié woorde die deurslag gegee het. Soos George Lewis sou gesê het: As God vir ons is, wie kan teen ons wees?
Toe die domanie hom weer aanspreek as Charlie, sê Oom Chai: Sê liewer Chai, Domanie, dit klink meer na my.
Goed, sê die domanie, die kerkraad het ’n lys met voorwaardes opgestel.
Na hy ’n bietjie rondgesoek het, kry hy die stuk papier en begin voorlees:
Een, die gebou bly die kerk se eiendom.
Twee, die mense van Vatmaar moet die gebou afbreek en self die materiaal na Vatmaar karwei.
Drie, die mense van Vatmaar mag nie onder die invloed van drank wees as hulle aan die gebou werk nie.
Vier, een van ons kerk se ouderlinge sal gevra word om vir jou, Chai, te ontmoet en deur jou die mense van Vatmaar.
Vyf, jy wat Chai is sal die ouderling van die kerk wees en toesien dat alles op ’n Christelike manier gedoen word.
Ses, as daar nie ’n ouderling beskikbaar is nie, moet jy sorg vir die diens, Chai.
Sewe, die mense van Vatmaar kan reken op die barmhartigheid van die moederkerk.
Dit is al, het die domanie gesê.
Op soek na gepaste woorde, sê Oom Chai: Moederkerk. Wat ’n mooi naam . . .
Die domanie het alles op ’n ander stuk papier oorgeskryf, dit in ’n koevert gesit en gesê: Chai, kry Vatmaar se mense se toestemming, dan sal die kerkraad ’n vrywillige ouderling vra om die sendinggemeente van Vatmaar van diens te wees.
Toe staan hy op en sê: Chai, ek is jou dankbaar dat jy my die geleentheid gegee het om die arme Vatmaar te help.
Oom Chai het sy hand gevat en gesê: Ek kan my ore nie glo nie.
Albei het geglimlag. Toe Oom Chai op sy bicycle klim, val hy amper af, swart pak en al.
Nou om dit vir Vatmaar se mense te verduidelik, het hy op pad terug by homself gemompel en gevoel of die koevert nog in sy sak is.
Môre-oggend sal ek die huise een vir een naloop en hulle aansê om na my huis toe te kom as die tienuur-fluitjie blaas, het hy by homself gedink toe hy later langs die paaitjie op sy bicycle sit en rus, sy een voet op ’n hoë klip. Elke huis moet een teenwoordiger stuur – die pa of die ma of enige kind ouer as veertien.
Terwyl hy so staansit op sy bicycle wonder hy wie hy kan vra om die brief vir die mense voor te lees. Ou George Lewis kan nie Afrikaans lees nie. Sy dogter kan, maar sy is op skool in Kimberley. Wie kan ek vra? sê hy vir homself. Toe kom dit skierlik by hom op: Neef Cloete se seun Paul. Hy het net daar omgedraai en terug na die ouer deel van die Pan toe gery.
Oom Chai het Paul teëgekom net waar hy indraai na sy ouers se huis. Dag, Paul, het Oom Chai gesê.
Middag, Oom, het die jong man geantwoord.
Jy is net die man wat ek soek. Is jou pa-goed by die huis?
Ma slaap want sy voel nie lekker nie. Ek sal haar nie graag wil wakker maak nie, Oom. En daar kom my pa nou net met die paaitjie aan – en hy wys met die hand.
Dan wag ons net hier vir hom sodat ons drie besigheid kan gesels, sê Oom Chai.
Dag, Stefaans! Hoe gaan dit? sê Oom Chai en klim van sy bicycle af en gee vir Stefaans Cloete sy hand.
Goed, Chai, en jy?
Kan nie beter nie! sê Oom Chai. Laat ek sommer met die deur binneval, Neef. Ek het vir Paul, en natuurlik vir jou ook, kom vra of hy môre vir my ’n brief aan die Vatmaar-mense kan voorlees.
Enige tyd, sê Stefaans Cloete. Ek dink nie Paul sal omgee nie.
Paul laat ’n laggie hoor, wat Oom Chai as instemming vertolk. En toe, terwyl hy hom deurkyk, want Paul was skraal, sê hy: Ek sal jou op my bicycle lift. Jy hoef niks saam te vat nie, jou klere is skoon en goed genoeg vir ’n Sondag op Vatmaar. Stefaans, sê Oom Chai, dan gaan ons maar! Groete aan Mollie, Paul sê sy’s nie lekker nie.
Dankie, Chai.
Kom, spring op! sê Oom Chai en toe Paul op die stuur sit, roep hy: Dankie en totsiens, Neef!
En daar trek die twee.
Sondag net na die tienuur-fluitjie daag elke huisgesin op Vatmaar by Oom Chai se huis op – mans, vroue en kinders. Die voorkamer was te klein en hulle moes almal onder die groot peperboom gaan staan.
Oom Chai haal die stywebandboek uit sy sak en gee dit vir Paul. Toe sê hy: Vatmaar se mense, dit is nou Paul Cloete van die Pan, ’n geleerde seun wat aangebied het om ons lees- en skryfwerk te doen. Eers sal ons die name vat van die woners wat hier is. Ons begin met die grysbaarde, dan die vrouens, die werksmense en laaste die kinders.
Toe die name almal in die swart stywebandboek opgeskryf is, sê Oom Chai: Laat die kinders voor staan sodat hulle vir hulle skaam ouers kan sê wat aan die gang is.
Hy verduidelik toe wat gebeur het en hoe hy aan die brief gekom het. Hy steek die koevert in die lug op: Hier is die voorwaardes.
Toe gee hy dit vir Paul, wat dit oopskeur en voorlees.
Paul moes dit oor en oor lees omdat party mense nie kon verstaan nie en van die ander die goeie nuus meer as een keer wou hoor. ’n Paar het gesê: Nou sal onse kinders gedoop kan word en hulle se name kry.
Toe Oom Chai vra: Wie is daarteen? het almal stilgebly.
Oom Flip, wat toe nog nuut was in Vatmaar, sê skierlik uit die bloute: Mense, ek, my trollie en Ou Swaai gaan die Here se huis Vatmaar toe bring.
Die vroumense het hulle hande geklap en iemand het gesê: Die Here sal jou seën, Flippus.
Oom Chai het daarop drie werkspanne van bruikbare manne ingedeel en aangewys. Julle is nie vrywilligers nie, het hy gesê. Ons gaan almal saamwerk en as enige huisgesin iets nodig het, laat hom na my toe kom. God sal voorsien.
Toe gebeur daar ’n ding wat nog nooit vantevore in Vatmaar gebeur het nie, Oom Chai sê: Maak toe julle oë.
Hy het eers rondgekyk of iemand se oë nie nog oop is nie en toe begin: Onse Vader wat in die Hemel is . . .
Baie min mense het die Onse Vader geken, maar almal het saam Amen gesê. Oupa Lewies het sy Our Father saggies by homself opgesê.
Na die vergadering het Oupa Lewies en Oom Chai saam weggestap. Well done, het George Lewis gesê en Oom Chai op die skouer geklop. I was thinking, where do you intend erecting the kerksaal?
Ek het nog nie daaraan gedink nie, George. Waar dink jy kan ons die saal opsit?
Die twee het verder geloop sonder om ’n woord te sê. Toe sê Oupa Lewies: First, if you agree with me, we’ll go and see Mister Walker.
Ja, het Oom Chai gesê. Luister, jy moet hom sê dis jy wat die kerksaal vir Vatmaar in die hande gekry het. En na ’n rukkie: Jy weet, George, Vatmaar het nie ’n erf wat uitgesit is vir ’n kerkgebou nie. Nou vra ek jou om mooi met daardie company-commander van jou te gaan praat. Jy praat beter Engels as ek en ek is seker hy sal dit as sy plig beskou om ’n mede-soldaat uit die oorlog te help – veral een wat saam met hom vir die Queen geveg het.
Oupa Lewies het nie ja of nee gesê nie. Ter afskeid net: Tomorrow after the tea break we’ll ask for permission to see Mister Walker.
Reg, George, het Oom Chai gesê en geglimlag.
Mister Walker was nie Maandag daar nie, maar toe hulle die Dinsdag by sy kantoor instap, is hy baie bly om Oupa Lewies te sien. Long time no see, sê hy toe hy hom handgee.
Oupa Lewies gaan op aandag staan en Mister Walker sê: I told you before, I don’t want any of that any more. Now you two sit down, for there are chairs which are meant to be sat on.
Toe Oom Chai na Oupa Lewies kyk, knipoog George vir hom, iets wat Oom Chai nie kon doen nie, toe knyp hy maar albei oë toe.
Sir, begin Oupa Lewies en vertel vir Mister Walker hoe Charlie die kerksaal in die hande gekry het en watter voorwaardes daaraan verbonde was: And now a place to erect the hall.
Very good, sê Mister Walker. I’ll put it on the agenda of the next council meeting. En hy skryf dit in ’n boek op met ’n bladsy vir elke dag.
Die Vrydagmiddag kry Oupa Lewies ’n brief van Mister Walker se kantoor, afgelewer deur sy office-boy, ’n ou man met ’n vuil baard. Oupa Lewies het gedink hy sal dit nie oopmaak nie, hy en Chai sal dit saam oopmaak sodat hulle die goeie nuus saam kan kry.
Die middag teen uitvaltyd wag Oupa Lewies vir Oom Chai waar hulle hulle bicycles bêre. Want hulle het altyd saam terug Vatmaar toe gery.
Here it is, sê hy vir Oom Chai en wys vir hom die brief.
Oom Chai glimlag: Ek het geweet hulle sal vir die kerk ’n stuk heilige grond gee.
Oupa Lewies lees die brief vinnig deur en gee hom toe vir Oom Chai. Nee, sê hy vir Oupa Lewies, lees jy dit voor. Ek wil die goeie nuus uit jou mond hoor.
Toe lees hy: The Town Council of Du Toitspan had made no provision for a church stand. Vatmaar is a settlement adjoining Du Toitspan town, where all the churches are situated. Signed: David Levin, Town Clerk.
Oupa Lewies het dit weer gelees en toe wou hy die brief stukkend skeur. Maar Oom Chai sê: Nee, George, gee dit vir my. Hy het die brief in sy sak gesteek, die twee het op hulle bicycles geklim en huis toe gery sonder om ’n woord verder te sê.
Dit was die Vrydag. Saterdagmiddag loop Oom Chai weer elke huisgesin in Vatmaar na. Hy vra hulle weer om ’n teenwoordiger te stuur of, as hulle wil, om as familie na die vergadering onder die peperboom te kom as die tienuur-fluitjie blaas.
Party mense het gemompel: Wat is dit nou tog weer? en ander: Ek weet nie, weet jy?
Sondag net na tien is Oupa Lewies en Oom Chai na die boom toe, Oom Chai met die brief in sy hand sodat almal dit kon sien. Hulle het die mense gegroet met die woorde: Ons is bly om weer almal saam te wees.
Toe vertel Oom Chai breedvoerig wat in Mister Walker se kantoor gebeur het, en hoe hulle die brief gekry het. Hy het die brief hoog in die lug gehou en gesê: Nou sal onse eerbare George Lewis die brief vir ons voorlees.
Almal was stil, iets ongewoons vir die mense van Vatmaar wat daarvan gehou het om te wys hulle lewe nog.
Oupa Lewies het klaar gelees en almal was vir ’n rukkie stil. Toe sê Oom Flip: Mag ek iets vra?
Ja! sê Oom Chai.
Ek het nie verstaan wat onse wit broer gelees het nie. Kan jy wat Chai is dit nie asseblief in onse taal verduidelik nie?
Oom Chai het die brief toe oorgesit in die taal van Vatmaar, Afrikaans.
Nou verstaan ons, het almal soos een man gesê.
Daar was ’n lang stilte. Toe sê ’n mooi ligtekopvrou: Dis beter so. Ons kan nie verwag om die kerksaal en sy staanplek verniet te kry nie. Ons is nie daaraan gewoond om dinge vir niks te kry nie. Ons het nog altyd gewerk vir wat ons wil hê.
Wonnie, sê Oom Chai, nou het jy gepraat. En aan die ander: Laat ons luister na hierdie moeder van Vatmaar. Kom staan hier by ons.
Tant Wonnie het haar van haar twee dogtertjies losgemaak en by die twee mans gaan staan. Toe sê sy met ’n glimlag vir die mense: Ons gaan ons eie kerkerf koop. Sy het na die heel voorste erf gewys en gesê: Daar oorkant, daai erf met die klippe op wat niemand wil hê nie.
Sy bly eers weer stil en dink na. Toe sê sy: Na die vergadering sal ’n seun en dogter ’n leë twaksakkie by Oupa Lewies kry. (Oupa Lewies het staan en pyprook.) Sy het die twee aangewys: Loop by elke huisgesin langs en hulle sal iets in die sakkie sit. Mense, gee met ’n goeie hart, het sy gesê, dit maak nie saak hoe min dit is nie. En onthou, my kinders – en sy het na die seun en meisie gekyk – as daar ’n gesin is wat niks het om in die twaksakkie te sit nie, sê dan vir die tante of die oom om net aan die sakkie te raak sodat ons hulle seëning kan hê.
Oom Chai en Oupa Lewies het haar soos uit een mond bedank. Sy het weer geglimlag en almal het gedink sy is ’n pragtige vrou. Toe het sy weer tussen die mense by haar twee dogtertjies gaan staan.
Maak toe julle oë en sê Onse Vader wat in die hemel is, het Oom Chai met ’n harde stem gebied.
Oupa Lewies het sy Our Father in sy gedagtes opgesê.
Toe is die vergadering verby. Oom Chai en Oupa Lewies is na hulle huise toe, teen dié tyd nie meer ’n een-kamer nie, maar ’n behoorlike vier-vertrek. Die ou een-kamertjies het hulle as agterkamers aan mense verhuur.
Die seun en meisie het by Oupa Lewies se huis vir die leë twaksakkie staan en wag. Na hy seker gemaak het dat daar niks meer twak in die sakkie is nie, sê hy: Let me put my blessing in the bag – en hy haal ’n halfkroon uit sy beursie en sit dit in die sakkie.
Toe hulle daarna by Oom Chai kom, sien hy die halfkroon en sê: Laat ek dit ook maar doen.
Ta Vuurmaak het ook ’n halfkroon ingesit en gesê: Laat ek maar my pad Hemel toe oopbetaal.
Dit was nie lank nie of die seun en meisie bring die sakkie vir Oupa Lewies terug. Omdat dit sy sakkie was, het hulle gedink hy moet die kollekte kry.
You just sit there and keep the bag, sê hy en wys ’n stoel vir die meisie aan. And you, boy, go and call Oom Chai.
Oom Chai het gekom en gesê: George, dis daai Wonnie se idee. Laat die seun haar ook gaan roep.
Tant Wonnie het gekom en hulle drie het die geld getel terwyl die seun en dogter bystaan. Dit was een pond, twee sjielings en een pennie.
Daar het ons dit! sê Oom Chai. Môre gaan ek en jy, George, daai erf met die klippe vir die mense koop. Die twee sjielings en een pennie hou ons as suurdeeg in die sak. Bewaar jy die twaksak, George.
Ouma Lewies het drie koppies tee gebring en vir die seun en dogter elkeen ’n vetkoek gegee met die woorde: Dankie, my kinders.
Die volgende Saterdagmiddag het Oom Chai weer die domanie gaan sien, dié keer in sy werksklere. Oupa Lewies is reguit huis toe, want het hy gesê hy kon nog nooit met ’n Dutch minister oor die weg kom nie.
Die domanie was bly om te hoor Vatmaar se mense het ingestem met die moederkerk se voorwaardes. Toe vertel Oom Chai hom dat die dorpsraad nie ’n stuk grond vir die kerk wou uitsit nie en wys vir hom die brief.
Die domanie kyk daarna en vra: Weet jy hoekom wil hulle nie grond uitmeet vir die kerksaal nie?
Nee, Domanie, antwoord Oom Chai.
Dit is omdat dit ’n Afrikaanse kerk is. Hulle sal ook nooit tot beter insigte kom nie.
Hy het baie teleurgesteld gelyk. Toe haal Oom Chai die koopbrief uit, wys dit vir die domanie en vertel hom hoe die grond gekoop is. Dit het sy gesig laat ophelder en die twee het handgegee.
Dankie, Aija, sê die domanie vir die swart vrou wat die koffie ingebring het, dié keer in ’n ewe lang maar ander kleur rok. Ek het ook goeie nuus vir jou, sê hy vir Oom Chai. Daar is ’n meneer, Oom Hans du Plooy. (Hy het Mineer gesê omdat hy van Vatmaar se mense verwag het om óf Mineer óf Baas te sê.) Hy ken die geboorteplek van die bruinman, hy kom van Stellenbosch af. Hy ken jou mense en hy het die kerkraad gevra of hy die moederkerk se ouderling vir die sendingkerk kan wees. Omdat daar geen betaling aan die ouderlingskap verbonde is nie, het almal ingestem tot sy barmhartigheid.
Die volgende Saterdag het dit gereën. Vatmaar se mense het nooit gewerk as dit reën nie, want, het hulle gesê: Wie gaan die dokter betaal? Oom Chai is nogtans na die domanie toe om te vra of hy Mineer Hans du Plooy kan ontmoet.
Ek sal jou na hom toe neem, het die domanie beloof: En hierna sal hy my verteenwoordiger wees, verstaan jy? – asof Oom Chai ’n oorlas is.
Ja, Domanie, het Oom Chai gesê.
Oubaas Hans du Plooy en sy vrou het in die elite-deel van die Pan gewoon. Die domanie het sy ouderling aan Oom Chai, wat nooit vir ’n witmens bang was nie, voorgestel as die man wat die kerkraad aangewys het om die mense van die nedersetting tot hulp te wees. Op die stoep was daar ’n tafel en stoele en die domanie het gesê: Ons sit sommer hier.
Miesies du Plooy het twee koppies tee op ’n skinkbord gebring en ’n bediende het ’n beker tee met die hand aangedra. Mevrou du Plooy het die domanie met die hand gegroet en vir Oom Chai, wat bly staan het, met ’n kopknik. (Oom Chai het sy werksklere aangehad.)
Hy is die man waarvan ek jou vertel het, Gertie, sê Mineer du Plooy vir sy vrou. Sy het na Oom Chai gekyk en haar gesig so getrek dat dit soos ’n glimlag moes lyk. Oom Chai het dadelik geweet waar hy met haar staan.
Charlie, sê die domanie, jy en Oom Hans sal saamwerk en by die volgende kerkraadsvergadering sal ons jou naam aanteken as ouderling van die Sendingkerk Vatmaar.
Dankie, Domanie, het Oom Chai gesê.
Die domanie het toe opgestaan en vertrek.
Hierdie Hans du Plooy en sy vrou het uit Stellenbosch gekom waar hy met huise gespekuleer het, het die mense gesê. Deur die jare het hy huise goedkoop gekoop, hulle laat regmaak en daarna teen ’n wins verkoop. Party het hy gehou en teen ’n aansienlike bedrag verhuur. Sy enigste dogter het in Stellenbosch agtergebly. Hy kon in die sestig wees, ’n skraal man met hol wange en ’n hoes – eintlik drie hoese: Hoe, hê, hê! Hy het bicycle gery om fluks te bly en altyd gesê: Die kar is in die waenhuis. Hy het Du Toitspan toe gekom op doktersbevele want hy het aan asma gely en moes in ’n droë klimaat woon. Hy het gesnuif en het die blikkie vir enigeen wat naby hom staan, aangebied. En hy het dit geniet om te sien hoe die mense hoes en nies terwyl die trane uit hulle oë loop. Hy was ’n goeie man, net die teenoorgestelde van sy vrou, en omdat hulle nie ’n beter woord geken het nie, het Vatmaar se mense van hom gesê: Hy is ’n darling. Hy het Vatmaar die “Onse Vader” en “Nader my God by U” geleer.
Toe het Oom Chai gesê: Dit is nou genoeg, ons het net een gesang en een gebed nodig.
Vatmaar se mense het as span aan hulle sendingkerk gewerk. Die afbrekers is Saterdae na werk reguit na die kerksaal in die Pan toe. Oom Flip en Ou Swaai het die boumateriaal aangery na die kliperf toe. Hy het gewoontlik drie trips op ’n Saterdagmiddag gemaak – twee om die materiaal aan te karwei, en een om die manne wat moeg was en gewerk het tot dit amper donker was, huis toe te vat.
Skierlik het ons kinders uitgesien na Saterdaemiddae, al moes ons saam met die hele Vatmaar hand bysit. Ons het ons verluister aan die grootmense se geskinder oor wat nou weer dié week by hulle werkplekke in die Pan gebeur het. Partykeer het die een vir die ander geknipoog om te wys ons mag dit nie hoor nie. Ons het gemaak of ons nie luister nie en ook nie belang stel in wat hulle vertel nie, maar ons was die ene ore, reg om alles oor te vertel as ons kinders later op ons eie huis toe loop. Ons was baie trots om te kon sê: Het julle gehoor?
Al Vatmaar se mense het boumateriaal help aflaai en saal opsit. Mineer du Plooy het ons gewys hoe om die hout en yster met nommers te merk voordat ons dit uitmekaarhaal. Só was dit baie makliker om dit later weer aanmekaar te sit. Ons het nie vakmanne uit die boubedryf gehad nie, net hulle arbeiders, maar dié het geweet wat om te doen. En met Mineer du Plooy se ondervinding met die regmaak van huise kon niemand dit beter doen nie. Die vloer was van Vatmaar-leiklip. Die gebou het ’n staandak gehad en daar was vier vensters aan elke kant.
Toe die saal klaar was, was daar geverfde nommers oral oor, en ons kinders, en party grootmense ook, het rondgeloop en: Een-een, twee-twee, drie-drie, en so aan op die mure loop en lees. Mineer du Plooy het gesê: Nee, julle werk op my senuwees! – en vir Oom Flip gevra om ’n paar blikke rooi verf vir die dak, groen vir die buitemure en wit vir die deure en vensters te gaan haal. Daar was geen plafon of binne-afwerking nie, en Mineer du Plooy het gesê daar is geen vuil nommermerke aan die binnekant nie, die Vatmaar-gemeente kan dit maar self verf. Ons het toe self verf vir binne gekoop en die mure tot op deurhoogte wit geskilder.
Toe die verwery klaar was, het ons van Vatmaar onse kerksaal met trots aanskou en in onse harte was dit ’n blom wat so pas oopgegaan het. Toe begin ons regmaak vir die inwyding.
Mineer du Plooy het tien stoele geskenk vir die grootkoppe van die gemeente en die tafel en tafeldoek vir die Bybel, en ’n glas en kruik vir water. Maar die gemeente het self ’n duur kom gekoop vir die doopwater wat die domanie sou seën.
Daardie Saterdag het almal die kerkgrond, soos die kliperf nou genoem is, help skoonmaak en die klippe uit die pad uit gehaal en weggevat. Uiteindelik het Oom Chai gesê: Mense, môre net na die aguur-fluitjie moet julle almal hier wees, die grootmense met hulle stoele en bankies.