Читать книгу Vatmaar - AHM Scholtz - Страница 6

Vatmaar

Оглавление

Onse blyplek was ’n nedersettinkie met die naam Vatmaar, so vier myl van Du Toitspan af, ’n dorp met waterkrane in die huise en ligte wat jy kon aansteek deur op ’n knoppie te druk. Daar was hoë pale in Du Toitspan met dun drade oor dwarsbalkies gespan wat onse slimmer maats telefoondrade genoem het. Nie een van ons in Vatmaar het al ooit vantevore ’n telefoon gesien nie. Onse gemiddelde ouderdom was so twaalf jaar.

In Vatmaar moes ons saans kerse opsteek wat jy teen pennie stuk by ons Koeliewinkel kon koop en teen twee vir ’n pennie in Du Toitspan. Onse water het uit putte gekom. Die water het baie vlak gelê as jy ’n put moes grawe, en die vlei het nooit sover die oupas en die oumas kon onthou, opgedroog nie.

Ons kon in Vatmaar onse eie slaggoed aanhou en tuinmaak.

’n Erf van twee morg het vyftien sjielings gekos – die weekloon van die meeste werksvolk. Dit was net vir die hoekpenne wat die dorpsraad se opmeter kom aanwys het, want net die hoekpenne was joune, nie die erf nie. Daar was nêrens draadheinings nie, net die hoekpenne.

Die erwe het honderd jaarts ver langs die straat af geloop. Daar was sestig sulke erwe – dertig aan elke kant van die pad wat Ta Vuurmaak oopgeskraap het toe hy voor onse geboorte nog sy treinwatertenk met sy vier osse vlei toe gesleep het.

Die mense van Vatmaar moes vyf sjielings jaargeld aan Du Toitspan se dorpsraad betaal. Daarvoor het hulle ook weiregte in die dorpsgrond van Du Toitspan gekry. So, vir die besitreg van ’n erf moes ’n nuwe intrekker een pond neersit – vyftien sjielings vir die hoekpenne en vyf sjielings vir die jaargeld.

Maar hy moes eers by die dorpsraadskantoor voor ’n plan van Vatmaar gaan staan en op die vraag Waar? moes hy sê: Naby so en so. Amper geen bewoners kon destyds lees en skryf nie, so die nuwe intrekker het net die nommer van die erf op die kwitansie-papier gekry, en sy naam is op die Vatmaar Settlement Plan ingeskryf. Hy moes dan sorg dat hy die volgende Saterdagoggend nege-uur in Vatmaar vir die Cape-boy wag wat vir hom die erf sou kom uitwys.

Saterdag met dagbreek het die nuwe intrekker, en miskien ook sy familie en vriende, klaar sit en wag vir die Cape-boy wat kom kyk het dat hy die regte erf vat. Wanneer die man by die halfway-house (’n groot kameeldoringboom op die kortpaaitjie Du Toitspan toe) verbykom, het hulle hande geklap en geskree: Daar kom hy! Daar kom hy! En dan het hulle gestry oor wie hom eerste gesien het.

Dit was altyd ’n ou man op ’n bicycle, glad nie ’n “boy” nie, met ’n stuk opgerolde papier in die hand en ’n breë glimlag op sy gesig. Tussen die handvatsels van sy bicycle was daar ’n bordjie met die woorde: Du Toitspan Town Council.

Sy eerste woorde was gewoontlik: Waar is so en so?

Waarop die nuwe intrekker sy hoed afgehaal het en gesê het: Hier is hy, Oom.

Sodra die hoekpenne aangewys is, het die aankykers klippe aangedra om om die penne te pak. Die intrekker se vrou, en partykeer die man self ook, het dan die grond gesoen en gesê: Dankie, Here.

Dan het die tyd aangebreek vir die geluk – ’n paraffienblik vol khadie of kaffirbier, en ’n sopie sjerrie vir die grootmense. Elke drinker het ’n bietjie van die drank gespaar en dit op die grond uitgegooi met die woorde: Dit is die pis.

’n Jong Griekwa en sy vrou uit Daniëlskuil uit het ook ’n erf gekoop, en na die hoekbakens aangewys is, het sy vrou vir hom gesê: Petrus, doen wat onse voormense gedoen het. Hy het toe met dieselfde vol blaas rondom die erf geloop en op al vier bakens gepee.

Wilde leeus baken ook hulle se plek so met hulle se pis af, het iemand gesê.

Partykeer, maar amper nooit, is daar gebid.

Na die geluk het Oom Chai gewoontlik die graaf gevat en vir die intrekker gesê: Nou vir water. Wanneer hulle oor die plek ooreengekom het, het Oom Chai gesê: Dankie, Here, vir die eer om die eerste graaf grond uit te spit. Dan het al Vatmaar se mans, oud en jonk, help grawe, en voor sononder het Vatmaar een put by gehad.

Rommel rondgooi was daar nie. Elkeen van ons het ’n vuilgoedgat op ’n hoek van sy erf gehad en alle rommel is daarin gegooi, met die as van die dag se vuur bo-op.

Daar was toe nog nie ’n kerk of poeliesstasie om vrees in onse gemoedere te blaas nie. Geen sokkerspan en danssaal om onse aandag af te trek nie. Geen dokter en prokureur om op staat te maak nie. Daar was net veldpaaie, met gate wat vanself toegaan as dit reën. En oral was daar kortpaaitjies.

Vatmaar was arm, en tog het ons nie armoede geken nie. Ek kan nie onthou dat ek ooit ’n swanger ongetroude meisie gesien het nie. Daar was meer kinders as grootmense. Oupas het altyd gesê: Ek kan nog altyd daai klein werkie doen.

Sterfgevalle was ver uitmekaar maar elke nou en dan is daar ’n baba gebore. Niemand is dood aan kanker nie want dit was ’n rykmansiekte, maar teen witseerkeel het kinders nooit ’n kans gehad nie. En daar was twee soorte tering: die vette en die mare.

Onse kinders het oorgenoeg gebaklei, maar as onse ouers stry gekry het, het hulle vir mekaar gesê: Pas op, die bure hoor jou.

Vatmaar se kinders het nooit van die Agste Gebod geweet nie, die een van Jy mag nie steel nie. Ons kon dit nooit weerstaan om ’n draai met anderman se bicycle te ry nie. En ons het dit geniet om rond te draf met ’n ou bicycle-wiel sonder speke of tjoep met ’n stokkie in die groef.

Vir tandpyn was ons die bangste, want die slagoffer moes Du Toitspan toe loop met ’n lap oor sy mond om die wind uit te hou. Jy moes een sjieling by die hospitaal se Out Patients gaan betaal en dan saam met die ander pasiënte buite vir jou beurt wag, want die dokter wou nie hê die pasiënte wat wag moet die gegil hoor nie. Jy het partykeer die pyn daar buite probeer weg wag en dan lus gekry om weg te hardloop. Maar die kwitansie-papier vir die sjieling wat jy klaar betaal het, het jou in die ry gehou. Die tand is sommer so lewendag getrek. Net dié wat dit kon bekostig, het ekstra betaal vir klorieform.

Vir nog ’n ding was ons bang – dat die dokter jou tand sou afbreek. Party het gesê: Ek moes liewer naeltjies en snuif gebruik het. En wanneer die dokter dan met hom klaar was, wou dié wat nog buite gewag het, weet: Hoe trek hy?

Ons was die meeste van die tyd in die hande van ’n perdedokter wat elke keer gesê het: Dankie, Here, hy is uit!

Vir die wit elite van Du Toitspan was al Vatmaar se mense dieselfde, maar ons het onse eie ek-is-beter-as-jy-soorte gehad. Dit was gewoontlik die Engels-praters.

Gladde hare, blou oë en ’n ligte vel het ook jaloesie veroorsaak.

Die mense het verskillende woorde gehad om hulle landgenote te beskryf. Hierdie name was destyds heeltemal betaamlik en aanvaarbaar, selfs dié woorde wat vandag aanstootlik klink en nie meer gebruik word nie.

Die witmense wat teen die Engelse geveg het, is Boere genoem (voordat hulle Afrikaners geword het) en die Engelse was Rooinekke. “British subject” was gehate woorde by die Boere. Alle volwassenes wat nie van oorsee af gekom het en nie wit was nie, is “boys” en “girls” genoem. Die Engelse het bruinmense “Cape-boys” en partykeer “Coloureds” genoem – vir die Boere was hulle basters of hotnots. Die woord kleurling is toe nog nie gebruik nie. ’n Swartman uit Afrika was ’n kaffir, en ’n Indiër was ’n koelie. Soms is die woorde aspris gebruik om ’n persoon se gevoelens seer te maak, maar die meeste van die tyd het nie een van die twee – nie die een wat die woord gebruik het en ook nie die een wat so genoem is – van beter geweet nie.

Dit was die gewoonte om ’n Engelsman Mister en sy vrou Madam te noem en ’n Boer Baas en sy vrou Miesies wanneer mense onder mekaar gepraat het. Deftige bruinmense was Mineer en Mevrou. Ons het die grootmense Oupa en Ouma en Oom en Tante genoem, en hulle het mekaar Sus en Siesie en Neef genoem.

As ek Vatmaar se storie vertel, gebruik ek al hierdie woorde soos hulle destyds gebruik is – in alle liefde en met respek, sonder om iemand te wil seermaak.

Party mense het gesê Vatmaar het sy naam van Ta Vuurmaak gekry. Hy het in ’n groot treinwatertenk gebly. Dit was bo-op toegepak met takke en gras om te keer dat die sink in die somer te warm raak en in die winter te koud.

Die tenk was naby die vlei, nie in die nedersetting nie. So Ta Vuurmaak het nie jaargeld betaal nie. Hy het Kimberley-stene gemaak van die vlei se klei en dryfsand wat hy bymekaargemaak het met sy kruiwa. So ’n steen was twaalf duim by nege duim by vier duim, en hy het hulle teen twee pennies stuk verkoop. Al Vatmaar se huise was van Ta Vuurmaak se Kimberleys gebou.

Oom Flip het die stene met sy trollie gekarwei, en hy is in Kimberleys betaal, of dit nou ’n vrag van twintig of vyftig stene was. Arbeid was nie ingereken nie – jy moes self die stene op- en aflaai.

Ta Vuurmaak was die oudste oupa in Vatmaar en hy het altyd gesê die ander oupas is jonk genoeg om sy kinders te wees. Vatmaar het hom Ta – pa – Vuurmaak genoem.

Hy was nie groot nie maar hy het groot gelyk. Hy het altyd ’n langbroek met afgesnyde pype gedra. Sy bene was krom en die mense het gesê: Hy kan nie ’n vark vang nie. Sy lyf was vol lang, lelike kwesmerke, elkeen met sy eie storie. Hy het velriemskoene gedra wat hy by Tant Wonnie gekoop het. Teen die tyd van die Runderpes (1896), het hy gesê, het hy al sy tweede vrou na haar ma-goed teruggestuur oor sy nie vir hom kinders kon gee nie. Wat hy nie kon verstaan nie, het hy altyd gesê en gelag, is dat altwee die vroumense ander mans gevat het en vir húlle kinders gegee het.

Ta Vuurmaak het altyd ’n keps gedra. Wanneer hy dit afgehaal het, het jy die mooiste bleskop gesien wat jy jou kan voorstel. Met sy tandelose mond kon hy die taaiste vleis eet. Sy oë was altyd halftoe. Dit was net twee skrefies en jy kon nooit die kleur sien nie. Sy gesig, nek, hande en knieë was ’n bondel inmekaargedrukte plooie wat ’n mens laat dink het hy is ver oor die honderd. Sy stem was fyn maar krakerig.

Hy vergeet nooit wat hy gesien het nie, het die mense gesê.

Vatmaar

Подняться наверх