Читать книгу Vatmaar - AHM Scholtz - Страница 14
Die inwyding van onse sendingkerk
ОглавлениеNet na die aguur-fluitjie die volgende oggend geblaas het, het die mense met hulle se stoele en bankies begin aankom, almal in hulle beste klere. Die kinders was skoongeskrop. Daar was net ’n paar mans en seuns wie se klere nie gelap was nie. Gelap maar skoon, het hulle met trots gesê. Die ouer vrouens het hulle Sondagrokke aangehad. Die meeste het net twee rokke gehad – ’n Sondagrok en ’n huisrok.
Toe Oom Chai seker gemaak het almal is daar, maak hy die twee deure oop, ’n hele vier voet wyd. Die kinders moes almal voor kom sit en as ’n kind ’n stoel of bankie gehad het, moes hy dit aan ’n grootmens afgee. Agter die kinders het die grootmense op die stoele en bankies gesit, en die seuns en mans wat niks gehad het om op te sit nie, het agter hulle gestaan. Tevrede met die reëling, het Oom Chai gesê: Onthou julle plekke. Ons gaan nou uit om twee rye by die deur te vorm – die kinders eerste, dan die bankiemense en dan die ander. Dan kom ons weer in.
Op die voorpunt van die twee rye het Oom Flip en Oom Chai gestaan, wat sy snorpunte met twee vingers van elke hand aan die draai was.
’n Swaar spoorwegsif het op vier klippe gereed gelê. Die witgathout was reg om aangesteek te word wanneer Oom Chai die teken gee sodra die grootkoppe in die deur verskyn.
Daar was drie bokkietafels (wat vroeër aan die army behoort het) met handgemaakte tafeldoeke oor. Op een het die vleis gelê, netjies gesny en gesout. Die lewer was op ’n ander tafel in ’n bak saam met die beste stukke van die tollie wat Mineer Piet de Bruin van die plaas wat aan Vatmaar grens, geskenk het. Daar was tien glase van verskillende vorms en groottes op ’n skinkbord, en ’n beker tuisgemaakte gemmerbier, ook ’n leë skinkbord vir die roosterkoek. Die deeg vir die roosterkoek het op die derde tafel klaar gestaan. En daar het die drie grand ou ladies van Vatmaar, Ouma Lewies, Sus Bet en Tant Wonnie, gestaan met hulle se wit voorskote aan en beste kopdoeke op.
Mineer de Bruin en Miesies de Bruin het aangery gekom met hulle Ford en naby die kerk sit en wag vir die domanie en die ouderlinge van die Pan om aan te kom. Hulle het opgedaag – vier mans en vier vrouens, die mans het swart pakke gedra en die vroue hulle beste hoede. Toe hulle uit hulle twee karre klim, het Mineer de Bruin hulle met die hand gaan groet. Hulle het stilgestaan en ’n paar woorde gewissel. Toe het die domanie voor hulle uitgeloop na waar Oom Chai en Oom Flip op hulle gewag het, Oom Chai met sy familiebybel (wat hy gesê het ouer is as hyself en in die eerste Afrikaans geskryf – waarmee hy Hoog-Hollands bedoel het) in ’n syslopie.
Die gezoem van die mense het opgehou.
Die domanie het Oom Chai en Oom Flip gegroet en hulle hande gevat. Hy het ’n paar woorde gesê en toe verder geloop. Die ander gaste het agterna gekom en die twee grootmanne gegroet. Daarop het Oom Chai sy hand gelig as ’n teken dat die vuur aangesteek kan word.
Voor die toe kerkdeur het die domanie die sleutel van ’n jong dogter ontvang. Daar was twee jong dogters, albei kaalvoet en in wit rokke. Met sy arms omhoog het die domanie hardop gebid en onse kerk geseën en die deur oopgesluit. Die ander jong meisie, met ’n bos asters in ’n vaas, het eerste ingegaan omdat Oom Chai gesê het sy moet die eerste voet oor die drumpel sit, sy, die reinste en skoonste van Vatmaar. Die meisie het die vaas op die tafel gesit waar die domanie sy Bybel sou neersit. Sy het haar twee hande teenmekaargesit soos wanneer jy bid, haar knieë geknak en toe omgedraai en saam met haar maats op die vloer gaan sit.
George Lewis het langs ’n stoel onder Oom Chai se peperboom gestaan en die gedoente met ’n British army-verkyker dopgehou. Hy het die kerk help opsit en hy was baie trots om deel daarvan te wees, maar soos hy vir Oom Chai gesê het: You know as well as I do that I cannot get on with a Dutchman. They have no flag, and now they rally behind their taal.
Oom Chai het vergeet om vir homself ’n stoel te laat aandra, toe moet hy langs die sittende hoë kokkedore staan. Party mense was jammer vir die ou man, ander het gedink dit hoort so, en ander het gemeen dit is sy verdiende loon.
Die domanie het gesê: Ek is so dankbaar dat God my die geleentheid gegee het om die mooi en gesonde mense van Vatmaar te verwelkom in die skoot van die moederkerk aangesien Afrikaans hulle huistaal is.
Daar begin dit al weer, het Oom Chai gedink. Dis onse huistaal, maar hulle moedertaal!
Hierdie sendingkerk, het die domanie gesê, hierdie gebou, was die eerste N.G. kerk in Du Toitspan. Toe ons ’n groter kerk gebou het, het dit die kerksaal geword. So het ons eerste moederkerk nou julle eerste sendingkerk geword.
Vervolgens het hy ’n hoofstuk uit die Bybel gelees, die deel wat sê jy moet jou huis op ’n rots bou. Dit het Vatmaar se mense beter laat voel oor al die klippe op die erf.
Toe gee die domanie vir die gemeente die nommer van die gesang op. Die tien gaste het hulle gesangboeke oopgemaak (want hulle het elkeen so ’n boekie en ’n Bybel by hulle gedra) en gesing: Heilig is die huis van die Heer . . .
Hulle was al wat gesing het en die gemeente het daarvan gehou. Na die preek, waarin hy gesê het die kneg is nie groter as sy meester nie, het die domanie die water in die kom geseën.
Oom Chai het al die moeders met hulle se babas en jong kinders in ’n ry laat staan om gedoop te word. Hy het ’n nuwe swart stywebandboek uit die syslopie gehaal waarin hy sy Bybel gehou het en dit aan Mineer du Plooy gegee sodat die name, vanne en geboortedatums van die dopelinge (as hulle dit kon onthou) daarin opgeskryf kon word. Die Juffrou, Domanie Pienaar se vrou, het ’n pakkie kaarte – die doopkaarte – uit haar handsak gehaal waarop sy die besonderhede uit die hardebandboek oorgeskryf het voor sy dit aan die ouers van die gedoopte kinders gegee het. Nog ’n gesang is na die dopery gesing.
Die domanie is eerste by die kerk uit en die ander gaste is agter hom aan. Oom Chai het hulle na die tafel toe gelei wat bedoel was vir die eerbare gaste en aan elkeen ’n mes en vurk op ’n skinkbord gegee. Hy het toe die lewer van die vuur gehaal, dit op ’n bord gesit en gesê: Vatmaar se gaste, help julleself.
Hy het dieselfde met die vleis gedoen. Toe het Sus Bet die warm roosterkoek oopgesny en dit saam met ’n groot stuk botter op die tafel neergesit. Sy het bekers gemmerbier nader aan die gaste geskuif en gesê: Drink! Moenie skaam wees nie, dit is Vatmaar se special. Wag, sê sy toe, julle mense kan nie staan en eet nie. Sy het ’n paar seuns geroep en gesê: Gaan haal vir die domanie en onse kerkmense stoele.
Oom Chai het vir sy vriend George Lewis ’n beker gemmerbier, roosterkoek en vleis peperboom toe gedra. Toe almal sit en eet, sê hy vir die domanie: Ons het nie dankie gesê voor ons begin eet het nie!
Goed, Chai, sê die domanie, ons sal nie vergeet om Dankie Vader te sê na ons die kerk se inwyding klaar geniet het nie.
Die domanie sê toe met ’n harde stem: Maak toe julle oë.
Die hele Vatmaar het stilgestaan en die domanie het onse dank aan God oorgedra.
Een van die eerbare vrouens van die Pan het so baie van die roosterkoek gehou dat sy vir Sus Bet gesê het dit was die beste roosterkoek wat sy nog ooit geproe het.
O ja, het Sus Bet geantwoord, ’n ou Voortrekkerresep.
Toe is daar handgeskud en handgeskud en nogmaals handgeskud.
Na die gaste vertrek het, het Vatmaar se mense probeer om alles op te eet wat daar nog oor was. Daar was niemand wat daardie eerste Sondag van Oktober kos gekook het nie.
Die ouderling, Mineer du Plooy, het altyd die eerste drie Sondae van die maand gepreek, en Oom Chai die laaste een. Teen dié tyd het die mense die woorde van die Onse Vader geken, en ook, soos hulle dit genoem het, Oom Chai se lied, Nader my God by U.
Wanneer die wit ouderling die diens gehou het, was die kerk gewoontlik vol. Maar as Oom Chai gepreek het, ’n ding wat hy in die begin baie ernstig opgeneem het, was daar net ’n paar mense. Hy kon dit nie verstaan nie want hy het nie geweet dit was oor hulle dan Nader my God by U net so stadig soos hy moes sing nie.
Oupa Lewies het net kerk toe gekom as Oom Chai preek. Hy het saam met sy vrou gekom wat nooit ’n Sondagdiens gemis het nie. As Oom Chai die boek en hoofstuk in die Afrikaanse Bybel, wat hy spesiaal gekry het, opgegee het, het Oupa Lewies sy Engelse Bybel oopgemaak en saggies vir homself gelees. Selfs onder gebed het hy die woorde saggies vir homself geprewel. Hy het gesê hy geniet die kerktoeganery. Sy twee kinders, Elsa, die meisiekind, en Tommy, die seun, het hy na ’n Engelse kosskool in Kimberley gestuur waar hulle Rooms-Katolieke geword het.