Читать книгу Vatmaar - AHM Scholtz - Страница 9

Oom Chai vertel hoe hulle ná Vereeniging werk gekry het

Оглавление

Ek wou nie teruggaan na ons huis in die Vrystaat nie, het Chai gesê, omdat ek gehoor het Steven, my ouer broer, veg saam met Generaal Joubert en dat die burgers almal ’n goeie woord vir hom het. En dan was daar nog jy, Vuurmaak, met ons goed hier naby die vlei. En hierdie Engelsman wat gesê het ek is sy vriend, ek kon ook nie van hom ontslae raak nie.

Toe ons by die plek kom wat hulle noem die Military Headquarters, is die Cape-boys afbetaal en al ons name en adresse is opgeskryf sodat hulle ons oorlogsmedaljes kon aanstuur. Ons het almal ons adresse opgegee as C/o Du Toitspan Post Office. Ek het jou naam ook opgegee, want ek het gedink miskien het jy ook “next of kin”, soos hulle ’n mens se familie noem. Vir jou betaling, Vuurmaak, het ek ook geteken. Ek het gesê jy is dood en dat ek jou familie ken.

Laat ons Ta se oorlogsmedalje sien, het ons kinders vir Ta Vuurmaak een Sondag na pensioendag gevra. Een wou weet: Hoeveel Boere het Ta doodgeskiet?

Die ou man het net gelag, sonder om sy mond oop te maak. Chai het vir my my geld gebring. Die medalje het ek geruil vir ’n bottel sjerrie, het hy gesê.

Die Corporal, het Oom Chai verder vir Ta Vuurmaak vertel, het gesorg dat ek drie maande langer betaal word as wat ek gewerk het omdat ek sy enigste vriend was. Die Corporal het ook uit die army bedank omdat hy gesê het dat hy nou gewoond is aan die son en hy nie meer sou aanpas in die plek waar hy vandaan kom nie. Die army-captain het gesê: Corporal, you have fought for the Queen, and South Africa is now part of the British Empire.

Die Corporal het nie soos ons geld gekry nie maar wat hy genoem het ’n Barclay-tjekboek.

Now, het hy vir my gesê, not a day longer. En weg is ons met die trein na sy Ruth toe.

Terwyl ons van die stasie af loop met ons hold-alls met al ons besittings in, het hierdie Ruth vir George sien aankom – hy het op die trein gevra dat ek hom George Lewis moet noem, nie meer Corporal nie.

Hy het van my af begin weghardloop en ek het iemand na hom toe sien hardloop. Hy het hierdie hollende ding gevang, dit in die lug gegooi en weer gevang. Toe staan hy stil en hou dit vas soos ’n ma ’n pasgebore baba vashou. Ek het nader gegaan, maar hy het my nie gesien nie, toe loop ek maar verby.

Ek het onder ’n boom gaan sit en gesien hoe dra hy hierdie Ruth van hom na waar ’n klomp mense staan en hande klap en oeloeloe-sing. En ek het ’n ou man hoor sê: Hy is een van ons.

Hy het haar neergesit. Van waar ek gesit het, het sy nes enige ander swart meisie gelyk wat by witmense in die huis werk. Toe ek nader gaan, het ek gesien sy is kaalvoet, met net ’n dun, skoongewaste wit rok aan. Dit was ’n koue dag maar sy het nie die koue gevoel nie. George, soos Corporal Lewis gevra het ek moet hom noem, het my aan al die mense voorgestel as sy vriend Charlie.

Toe kon ek vir Ruth sien soos sy is. Haar swaaistap was lewendagger as dié van ’n gewone vrou. Sy het meer een-vir-jou-en-een-vir-my gegee. Haar borste was vol en het twee punte onder haar rok gestaan. Haar nek was lank en dun. Haar gesig was van Afrika – perfekte tande en skoon wit oogballe. En sy het ook iets van haar eie gehad, iets bokant mooi.

Hulle het vir ons ’n skoon hut gegee met ’n kom en beker water en twee grasmatte. En hulle het gesê: Dit is julle s’n solank julle by ons oorbly.

Die mense was arm want hulle het baie in die oorlog verloor. Brit en Boer het hulle vee gevat. Die meeste van hulle het nikswerd kwitansie-papiere gehad vir beeste of skape wat in die naam van die Queen van hulle gesteel is. En die Boere het gevat net wat hulle wou en gesê: Julle kaffirs kan bly wees dat ons julle nie eers geskiet het nie.

Ons is toe na die ngosi, die hoofman. George het ’n bottel brandewyn saamgebring vir die mans in Ruth se familie, maar hy moes dit met die hoofman deel. Dit was ook maar goed, want so het ons sy guns gewen. Hy het vir ons alles vertel wat ons wou weet oor die trougebruike van sy mense. Hy was een van die min wat kon Engels praat. Hy het gesê hy sou die volgende oggend iemand na ons toe stuur wat die troue sal reël en ’n plek sal aanwys waar George sy hut kon bou en ’n veekraal en ’n ploegland kon begin. Natuurlik ná hy die bogadie betaal het.

Na ’n paar keer se “e Ra, e Ra” (ja, Mineer, ja, Mineer) is ons weer weg by die hoofman. Maar George wou eers vir sy Ruth gaan nagsê.

Die volgende dag het ’n ouma en ’n jong man ons kom sien. Die ngosi het hulle gestuur om die troue aanmekaar te sit. Die man het gekom om te tolk. Die ouma wou nie hê dat Ruth enigiets met die reëlings te doen het nie.

George het eers ’n lys gemaak van alles wat nodig was. Daarna het hy die goeters vir die bogadie in sy sakboekie opgeskryf. Ruth se mense wou tot ’n ekstra driebeenpot, brandewyn en twak hê. Toe het die jong man vir George die prys van elke ding gegee.

Ek weet nie meer presies hoeveel nie, maar dit was na aan die honderd pond. Hy moes dit die volgende oggend by die bank in Vryburg gaan trek. Na hy die aand by Ruth was, het hy kom sê sy gaan een van haar rra mogolo, grootooms, vra om saam met ons en die twee trou-aanmekaarsitters na die ngosi te gaan om die geld te oorhandig.

Die volgende oggend het ons in Vryburg sit en wag vir die Barclays Bank se deure om oop te gaan. Die deure was net oop toe skreeu iemand: Hey, Corporal Lewis, I want to see you!

George het op aandag gespring en gesê: At your service, Sir. Hy loop toe na die man met sy duur klere. Ek het George hoor sê: I will be glad, Sir.

Die man het ’n sakboekie uitgehaal, iets opgeskryf, die velletjie uitgeskeur en vir George gegee.

Hy het my nie gesê waaroor dit gaan nie, maar ek kon sien hy was diep ingedagte. Hy het die geld by die bank getrek. Daardie middag is ons vyf na die ngosi toe om dit te oorhandig. Ons het weer ’n bottel brandewyn uit Vryburg vir die hoofman saamgevat, en dit was nie lank nie of ons almal voel tevrede. En hulle het nooit ophou sê hoe ’n gelukkige meisie Ruth is nie.

Ruth se mense het gesê dit sal ten minste nog een volmaan vat voordat die twee kan trou. George het gesê dit maak nie saak nie, solank hy net naby Ruth, sy natsi, liefling, is.

Eers na Ruth die volgende dag vir ons ons middagete gebring het, het George van die papiertjie onthou. Dit was van sy company-commander, Captain John Walker, het hy gesê. Hy was nou die director van ’n diamant-company en hy wou graag hê mense soos George moet vir hom werk. Mense van “home” af, soos hulle Engeland genoem het. Die captain was ook ’n dorpsraadslid in ’n plek met die naam Du Toitspan. As George werk wou hê, moes hy hom so gou moontlik kom sien.

George het die papier in die lug gehou en gesê: Here is the address of his office.

Nou laat ons skoonmaak en jou army-captain gaan sien, het ek gesê. Ons moet werk hê want ons moet leef.

Die middag het ons aangeklop by die kantoor waarop net J. Walker gestaan het. Hulle het mekaar hand gegee en altwee het geglimlag. George het my voorgestel as een van die Queen se getroue Cape-boys, waarop die captain gesê het: War brothers.

George het op aandag gespring en gesê: Yes, Sir.

Toe sê die captain: We will have no more of that, Mister Lewis. Remember, we’re civilians now. I am Du Toitspan’s personnel councillor.

Hy moes kyk dat die werksvolk goeie behandeling kry en dat hulle hulle werk behoorlik doen. Dit was Vrydag en hy het gesê ons moet hom Dinsdag weer kom sien: By then I’ll know where to push you two in.

George het weer op aandag gespring en gesê: Thank you, Sir.

Ek het ook my hakke teenmekaar geklap en gesê: Thank you, Sir.

Die captain het gelag. Ons is haastig na die naaste kroeg om ’n thank-you-God te loop drink.

Dinsdagoggend het ons gesit en wag dat Du Toitspan se dorpsraadskantore oopgaan. Toe die captain ons sien, sê hy: Good day, you two, come in.

Daar het twee stoele voor sy lessenaar gestaan en hy het ons genooi om te sit. Ek het eerste gaan sit want George het gemeen dit is nie goeie maniere om in die geselskap van sy regiment-officer te sit nie. Die captain moes herhaal: Sit, George. I’ll start with your friend. Name? het hy gesê.

Charles Terreblanche, het ek geantwoord, en hy het dit in ’n groot boek opgeskryf.

Your work will be with the town surveyor. He has been complaining that his boy was off work a few days every month. Always after payday. Drunk, drunk, you know.

My beginloon sou sewe pond twee sjielings ’n maand wees, ses werksdae ’n week, met Saterdag halfdag. Met ’n verhoging elke jaar en veertien dae verlof vir elke jaar se diens.

Ek het weer my hakke teenmekaar geklap en gesê: Thank you, my Captain of the Queen.

You fool, het hy gesê, do you not know that the Queen is no more, and that we now have a king?

Ek sê toe maar: Dankie, Sir.

Hy het twee briewe geskryf, hulle in koeverte gesit en gesê: You start on Thursday, the first of the month. Take this letter to the paymaster. You’ll find him at the bottom of the passage, the door with the board Paymaster. And take this letter to Mister Keely – the surveyor next to the fire buckets.

Mister Keely het vir my gesê: Hope you can work when you are drunk, for you are all the same. Be here on Thursday at eight o’clock sharp! – en hy het na die vloer gewys.

Ons sou ons pay vir die eerste maand kry net voor die tyd wat genoem word die Paasnaweek. Die Goeie Vrydag, Saterdag, die Paassondag en die Paasmaandag – vier volle dae om George en Ruth se troue te vier.

George het ’n hele maand vooraf gehad om dinge reg te kry, maar die tyd was te min. Ek het op ’n keer vir hom gesê: George, vir wat vat jy haar nie net en woon met haar saam soos man en vrou nie?

Hy kan, het hy gesê. But I don’t want to. If I love Ruth as I think I do, I must also respect her and her family.

Ek het hom toe maar vertel dat ons die volgende dag ons mate by die kleremaker, Moosa Keppie, moes laat neem en sommer ook moes kyk of die swart materiaal vir ons pakke al gekom het.

Alles het uitgewerk en ’n paar dae voor die troue was die pakke reg.

Ruth se ouers was baie arm. Toe het ek stilletjies met een van haar tantes afgespreek dat ek vir haar geld sal gee om vir Ruth trouklere te koop. Sy het die volgende dag by Bergers, die winkel in Vryburg wat roksgoed verkoop, gaan uitvind en vir my gesê hoeveel dit kos toe sy my weer sien. Ek het haar die geld gegee en gevra om nie vir George te sê nie. Sy kon maar vir Ruth vertel.

Selfs noudat Ouma Lewies en Oupa Lewies besig is om saam oud te word, weet hy nog nie waar sy vrou se trouklere vandaan gekom het nie, het Oom Chai jare later vertel.

Vatmaar

Подняться наверх