Читать книгу Brandwaterkom - Alexander Strachan - Страница 11

HOOFSTUK 8

Оглавление

Ek het nie verwag om my naam, Bullet, te hoor nog voor ek die plaas se stof van my voete geskud het nie. In die donkerte agter my lê Dwaalpoort se werf. My hand is op die rat en ek sit oor na tweede, toe na derde. Die spotlights van die four-by-four volg die smal plaaspad deur die lang gras.

Plek-plek stadiger vir ’n bosbefokte koedoe wat agter die lig aan voor die bakkie wil inspring. Versigtig deur die drif. Ek wil nie nou al my vrag opdonner nie. Anderkant teen die opdraande uit. In die verte kan ek ’n mens se gedaante by die plaashek sien staan. ’n Langerige figuur in die bakkie se ligte.

Eers toe ek stilhou, herken ek Arthur Nkosi. “Môre, Bullet,” groet hy my. Hy tel die bondel langs hom op en klim by my in. Ons vat die pad na die jagveld toe saam aan. Dae lank tot net voor die moerasse, waar ek hom eers sal aflaai. No time spent on reconnaissance is ever wasted. Dis hoe ons altyd in die weermag geglo het. Hy moet kontakte tussen die mense opbou en sy oor teen die grond hou. ’n Ekstra oog beteken baie op ’n jagtrip in ’n vreemde gebied.

“Luister wat die mense praat,” sê ek, “vra uit oor die olifante. Dis hoe dit altyd begin. Maar kyk heeltyd uit vir ander dinge. Partykeer dink mens jou pad loop soontoe, maar dan vind jy uit dis eintlik anderkant toe. Dit hang alles af van hoe jy die boodskappe hoor.”

“Hoe lank?” vra Arthur.

“So twee weke, dan kom ons bymekaar.”

“Dis reg so, ek was al hier.”

Hy vat die geldsakkie by my aan. Toe ek omkyk, stryk hy reeds op ’n voetpad aan; lang, selfversekerde treë.

Vir eers alleen weer verder met die bakkie.

Stofpaaie en afdraaipaaie. ’n Pap wiel en ’n radiator wat verstop. ’n Padkaart wat begin kak praat. Die son kom altyd in die ooste op. Tot by die laaste groterige dorp waar ek die permitte en kontrakte sal uitsorteer. Langafstandoproepe oorsee, terwyl Dwaalpoort al hoe vaer in my gedagtes word.

Saans by ’n vreemde kroegtoonbank. Skemerlig. Ander glase en sweet. ’n Dubbel met ys. ’n Nuwe dartbord en stemme wat ek nie ken nie. In die deur ’n beweging. ’n Reuk wat jou laat opkyk. Dit is die een ding van ’n vars jagtrip; dit bring altyd iemand vreemds op jou pad.

Ek draai die four-by-four se neus noord. Die paaie word al hoe smaller, die bos digter, tot by die volgende halte. Min plaaslike mense hang hier rond, dié wat oorstaan, het ’n ver pad gekom.

Net die kroegman ken my naam – ou army connection. Ons paaie kruis elke nou en dan. Vroegmiddag is daar nog nie veel beweging nie. Sodra die son sak, begin die bakkies intrek. Iewers uit die stof uit. Die manne is dors en gatvol.

Almal moer en gone op pad iewers heen om sy luck te gaan try. Die hele adder besmette bos ruik dan so geil na belofte. Jy trap net rondom die mambas en spinnerakke deur na waar die swaarste ivoortand wag. Elke fokker het ’n plan. As die drank begin trek, deel hy dit ongevraagd met jou. Veel langer kan hy dit in elk geval nie in hom opgekrop hou nie.

Die woorde kom na jou toe aan soos ’n plaat wat deurgespeel is. Niks daarvan is uniek of oorspronklik nie. Die idee is al hoeveel keer vantevore getoets. In die klammigheid van die bos het jy lankal geleer om te maak of jy luister. Dit klink of ’n masjiengeweer vuur. Watch hom, hierdie keer gaan hy dit groot strike, ná al die jare het sy skip uiteindelik gekom.

Ek druk met my elmboë op die toonbank. My blaaie is natgesweet. Die ys in my glas het vinnig gesmelt. Hoe gaan ek my eende in ’n ry kry? Ek draai die laaste bietjie drank onder in die glas rond. Die ysblokkie rinkel flou. En toe is dit daar. In die geroesemoes van stemme terwyl die kroegman ’n vars drankie voor my neersit en ek in my sak vir die geld voel. Skuins oor my skouer sien ek die figuur in die kroegdeur staan. Langerig en regop, soos Arthur Nkosi. Ek kyk weer, maar dis nie hy nie, dis iemand anders.

Die man het intussen teruggetree in die donkerte. Ek los my drankie op die toonbank en stap buitentoe.

Ons staan langs my bakkie en praat. Nuus trek in die bos, vertel die man en beduie met sy hand. Dis hoe hy gehoor het waar ek is. Arthur Nkosi het hom gevra om te kom. Nee, Arthur is besig met ander goed. Dit was nie maklik om hier uit te kom nie. Hy moes meer as een keer skelm op ’n lorrie klim. Voor hy verder praat, hou hy sy hand uit dat ek hom betaal. Nadat hy die geld voel-voel in die skynsel van die kroeggebou getel het, druk hy dit in sy baadjiesak.

Ja, sê hy, dit is die boodskap soos Arthur se mense dit doer onder in Suid-Afrika gehoor het. In elk geval is hier in die bos nie op die oomblik werk vir mense met four-by-fours nie. Hy kyk my aan asof hy wil sien of ek gaan stry. Dinge gebeur maar soos dit moet. Elke mens het ’n pad om te loop. Hy is moeg en gaan nou eers agter die kroeg by die hutte kuier.

Terug in die kroeg sien ek ’n lang pad voor my lê. Ek luister met ’n halwe oor na die kroegpraatjies; daar is ander dinge in my kop. Die afgelope ruk se gesukkel om ’n kontrak te kry maak nie meer saak nie. Minder gewere, spinnekoppe en jagstories. Maar kouer nagte. En van alle dinge: boeke en geskiedenis; dalk nog die geselskap van ’n vrou – die verkenning van ’n berglandskap. Die gras in die ou voetpaaie moet weer oopgekap word.

Om na die dinge van ’n eeu gelede te gaan soek, is nogal iets. Dit klink na ’n ingewikkelde operasie. Die berglug sal nog dieselfde wees. Van die destydse oorlogslawaai sal nou net die naklank van die geweerskote nog in die lug hang. Dalk ’n geroeste patroondoppie of twee as jy weet waar om te kyk. Die spore is toegewaai, maar vir my het die wind gedraai. My eende loop nie meer so in ’n bondel nie. Iewers vorentoe sien ek ’n streep lig.

Die kroegman droog sy hande af. Hy mik na my glas en hoes agter sy hand. “Nog ’n shot, Bullet?”

Aan die punt van die kroegtoonbank begin die manne raas. ’n Ongeduldigheid noudat die tamheid van die dag gesak het. Die drank laat alles beter lyk, almal het nuwe moed vir môre. Dis niks nuuts vir die kroegman nie. Sy werk is om geld te maak. Hy top hulle glase op en skuif die kleingeld oor die toonbank. Toe die geldlaai toeklap, kom staan hy weer voor my.

“Ek beweeg môre aan,” sê ek.

Ek vat nog ’n sluk en wag dat die gedruis effens bedaar. “Iewers suid is daar ’n girl. Boekbefok, hoor ek.”

“Wat?”

“Boekbefok. Daai geleerde tipe vir wie jy fokkol kan vertel. Maar dit klink my sy sal haar virgin wegteken as jy haar by die regte plek kan uitbring. Dis hoe ek die ding op die oomblik sien.”

“So?” Die kroegman vat ’n diep trek aan sy sigaret en druk dit in die asbakkie dood. “Die regte plek? Nogal.” Iets moet hom interesseer want hy gaan sit op sy stoeltjie. Dalk is hy net moeg gestaan.

“Met boeke te doene.” Hy hoef nie meer te weet nie. Ek weet dan self nog nie presies waaroor dit gaan nie.

“Sy soek na iets, maar sy weet nie waar nie. Soos ek dit lees, het sy ’n gids moer dringend nodig.”

Die kroegman tik ’n nuwe sigaret uit die boksie. Hy is skielik glad nie haastig nie. Ek kan sien hoe hy sy woorde in sy gedagte weeg. “Dit klink nie na jou tipe nie, Bullet.” Hy steek vir my ook ’n sigaret op en gee dit aan.

“Ons kyk die kat maar uit die boom uit,” sê ek.

“Miskien tog,” sê hy. “Jy het al snaakse dinge gedoen. Miskien trek jy hierdie een ook deur.”

Toe die kroegman omdraai, kyk Bullet voor hom in sy glas. Met sulke operasies is daar altyd twyfel. Is die professionele jagter geskik vir die sending wat nou op hom wag? Hy draai die glas stadig al in die rondte. Hoeveel keer het ek hom nie al só dopgehou nie. Al die gesprekke wat hy in die waas van sigaretrook gevoer het. Kroegtaal kom soos tweede natuur. Hy praat dit sonder om te dink. Die woorde val vanself in plek. Só smelt hy saam met die kroegrumoer. Elke aand bring ’n lafenis. Mettertyd raak hy heeltemal onopsigtelik in die geroesemoes van eenstemmigheid. Dis iets wat hy wel kan regkry as hy lus het. Maar sal hy sy rol in die bergkom kan uitleef?

Aan die punt van die toonbank lag die manne hard vir hulle eie grappe. Koedoe of rooibok? Wat maak dit saak? Ek is in elk geval gatvol vir bokke en jagters. Maar ek drink tog nog twee doppe.

’n Geweerlose sending. Wie sou nou ooit kon dink dat so iets op my pad sou kom? Ek sal op ander dinge moet staatmaak. Dis die oudste trick in die boek om iets te onderskat. Dalk kan die vrou nie sonder handskoene aangepak word nie. Dis moeilik om in te oefen vir ’n operasie wat maar half in die lug hang. Maar dit sal meer as net ’n verkenning wees. Ek moet haar brainwash om wyer te kyk as wat sy op die oomblik doen. As die oorlog haar terrein is, behoort ons drade iewers te kruis. Al was sy nog nooit in ’n kontak nie.

Brandwaterkom

Подняться наверх