Читать книгу Brandwaterkom - Alexander Strachan - Страница 9
HOOFSTUK 6
ОглавлениеIs dit vooraf so gereël? Hoe gebeur dit dat Vilonel en Sarah du Toit Luttig die Sondag langs mekaar in die kerkbank beland? Gekis en gestewel sit hulle kiertsregop en op die oog af onbewus van mekaar na die preekstoel en tuur. Maar toe die kerkorrel begin speel, deel hulle ’n psalmboek en só vind die eerste fisieke aanraking tussen hulle plaas deur ’n terloopse geskuur van vingers. Terwyl hulle wag vir die volgende psalm, gee hulle weinig aandag aan wat doomnies Paul Roux preek. Nie links of regs nie, maar stywenek kyk hulle voor hulle uit.
Ná die diens drink die gemeente saam tee en eet melktert. Vilonel voel koel en gemaklik in sy netjiese grys pak. Sonder om ’n druppel te stort hou hy die oorvol koppie rooibostee tussen sy vingerpunte vas. Tussendeur gesels hy en dwaal sy oë so dan en wan. Die dorpskroeg vermy hy nou weer soos vantevore. Met tye beweeg hy en die aanvallige nooi tot in mekaar se ruimte.
“Dalk gaan wys ek jou eendag die plaas?” stel hy voor. “Daar is veel meer te sien as wat ’n mens vermoed.”
“Regtig?” Juffrou Du Toit Luttig klink geïnteresseerd.
Hulle ry vir ’n piekniek op De Rust saam met die bure in kapkarre uit. Sarah sien sy beeste, skape en resiesperde. Hy laat sy gunstelinghings opsaal sodat sy dié op die werf kan rondlei.
“My mak bome wat ek aangeplant het,” beduie hy – “sipres, sering, bloekom, den en populier. Alles word met ’n graaf natgelei uit die fontein. Hulle verg heelwat meer aandag as die wilde bome.”
“Dis ’n mooi tuin,” sê Sarah.
“Ek het ook ’n jakaranda uit Pietermaritzburg probeer,” sê Vilonel. “Maar dié het net gaan staan en doodryp in die winter. Die roostuintjie snoei ek sommer self. Dit voel nie soos werk nie. Elke Augustus sit ek ’n dag hiervoor opsy. Dis vir my lekker om my hand aan my tuin te hou.”
Die perd ruk aan die teuels, maar juffrou Du Toit Luttig behou haar teenwoordigheid van gees. ’n Wilde dier soos Beaufort sien sy wel nie kans om te ry nie, maar hy is kapabel en trap haar. Nietemin gaan sy haar nie deur hom laat intimideer nie. So, dan ken Vilonel selfs die roosbome se name? Sy is beïndruk. ’n Kleinerige maar netjiese opstal, merk sy op. Ook die grasdakrondawel – die vleiskamer. En daar neffens die vrugteboord: perskes, appels, pere, kwepers en druiwe. Die drade rondom die opstal is styf gespan; dié het sy met die aankoms haar al laat welgeval.
By die rivier rol hulle die piekniekkomberse onder die olienhoutbome uit. Hy wys haar hoe die karee teen die rant groei en die mengelmoes ouhout in die klowe. Dis ’n stil, helder stroom en sy kan die geelvis sien swem. Sy skuif teen die wal af en laat haar voete in die water hang.
“Onder die klippe is krappe met lang knypers,” terg hy.
Juffrou Du Toit Luttig lag vir die eerste keer onbeskroomd. “Moet ek skrik?” Haar tabberd het hoog opgeskuif oor haar enkels. Sy laat dit daar, buig vooroor en laat die water deur haar vingers stroom.
Só snel die dag verby sonder dat hulle dit agterkom. Eers toe dit lyk of die weer gaan opsteek, pak hulle die terugtog dorp toe aan.
Dit bly nie daarby nie. Wanneer hy skietbaan toe gaan, stuur sy vir hom saam met haar vader toebroodjies en twee gekookte eiers. Ook ’n porseleinfles, van die rooibostee waarvoor hy so lief is. Vergesel van haar moeder gaan sy sy linne en kombuis na en gooi uit wat nie diensbaar is nie. En sy vat sy stukkende klere huis toe om te gaan regmaak.
Net voor sy studeerkamer stuit sy, want hier gaan niemand in nie. Dié vertrek is ook sy geweerkamer. Leë patroondoppies, ’n tarentaalveer, briewe, inkbottels en vulpenne op die lessenaar. Sy bekyk alles van die deur af. Hy kan so vitterig raak oor sy persoonlike goeters. Hoe sal sy ooit weet watter boeke het waarde en watter trofees is belangrik? Sy reël nietemin vir twee diensmeisies en hulle maak die res van die huis van hoek tot kant skoon.
Een Sondagmiddag vertel Sarah hom wat haar droom is. “Ek wil Kaapkolonie toe. Dis waarheen ek eendag graag wil verhuis.”
Wanneer die tyd reg is, natuurlik. Die Kolonie is wel teenswoordig onder Engelse bewind, maar wat skeel dit tog? Intussen is Senekal goed vir haar, maar eendag. Daar in die Kaap behoort groot werk vir ’n wetsman van Vilonel se stoffasie te wees. Dan kan ’n mens boonop hierdie dreigende oorlog afweer. Kaapstad sal ’n skaflike plek wees om jou kop neer te lê. Dit sal ’n ander lewe wees, weg van die Vrystaatse droogtes en stof.
Sien hy nou uiteindelik ’n ander kant van hierdie jongvrou? Maar hoekom is daar nie daardie hartklop en hol gevoel op sy maag nie? Straks is dit tog beter só. Om iets nugter, sonder te veel hartkloppings, te benader.
“Ons het almal ons drome,” sê Vilonel.
Hy hou haar hand by tye vas en soen haar langer as wat groet vereis. Verder gesels hulle aanhoudend: die kerkbasaar, konsertaande en verjaardagpartye. Wanneer sy oor die straat stap, volg sy oë haar. Sy trek elke oggend netjies aan, jy kan haar waarlik deur ’n ring trek.
Sarah was ook al ’n paar keer by hom op kantoor met ’n goeie verskoning en dan sien hy hoe die mense haar met respek groet.
Hy neem die besluit alleen, oor ’n brandewyn en water in die dorpskroeg wat hy nou al maande lank nie besoek het nie. Dit is beter om aan die gedagte van miss Sutty geen oomblik meer herberg te gee nie.
Die reëlings laat hy grotendeels aan Sarah oor, wat die bedrywigheid en afsprake in elk geval geniet. Soos alle mans voor hom, is hy vir ’n wyle uitgesluit. Sy enigste verpligting is om stiptelik by die kerk op te daag.
In die lente van 1896 tree Stephanus Gerhardus Vilonel in die huwelik met Sarah du Toit Luttig. Die onthaal is ’n uithangdinee in die tuin van sy skoonouers en honderde telegramme van gelukwensing stroom vir die bobaasskut in; van so ver as Bloemfontein, Transvaal en Kaapland.